Gebede vir Israel en die gebeure in die Midde Ooste

Deur Yolandie Mostert (10 Oktober 2023)

Audio beskikbaar op telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Agtergrond en inligting:

Ek deel hierdie omdat nie almal altyd die geografie en politiek in die Midde-Ooste verstaan nie. En hiermee maak ek geensins aanspraak dat ek ‘n kenner is nie. Inteendeel. Ek hou maar net dop, probeer om die geografie en politiek te verstaan vanuit ‘n Bybelse profesie perspektief. En verder bid ek vir insig.

 

Dit kan baie maklik vir ons raak om haatdraende gebede te bid. As Christene, glo ek nie ons is daarvoor geroep nie. Ons staan aan die kant van Israel en bid vir die oorwinning en verlossing van Israel teenoor haar vyande. Tegelyke tyd bid ons ook vir mense wat Jesus nie ken nie. Moet nooit uit die oog verloor dat elke persoon wat sonder Jesus sterf, se bestemming die hel is.

Daar is onskuldige mense in Libanon (noorde van Israel). Hezbollah is die militante groep wat vanuit hierdie land opereer en ook invalle in Israel maak.

Ek glo daar is ook onskuldige mense in Gaza. Onthou ook dat daardie mense oor jare so gebreinspoel is deur Hamas (militante terorriste groep wat Gaza beheer), dat hulle en hulle kinders nie instaat is om enige waarheid te kan insien nie.

Dan is daar Christene in Israel en in die lande rondom Israel. Hulle moet ook ons prioriteit in gebede wees.

Almal is nie onskuldig nie. Hamas, Hezbollah, die Jihad ens. word gedryf en geondersteun deur Iran. Rusland ondersteun nie vir Israel nie.

 

Terwyl ek vanoggend vir hierdie oorlog gebid het, het my gees geween oor die geweld en al die onskuldige bloed wat vergiet word. Hierdie was nie ‘n gewone onsteltenis nie, maar ‘n baie diep hartseer wat ek nie regtig in woorde kan omsit nie. Hierdie diep roering kom vanaf die Heilige Gees en dryf ons tot intreegebede en onuitspreeklike sugtinge.

Iets wat ek tydens hierdie gebedstyd besef het, is dat hierdie oorlog ‘n onderskeid maak tussen die skaap nasies en die bok nasies. Skaap nasies is dié wat saam met Israel staan en bok nasies is hulle vyande.

Vyande van Israel is vyande van YHVH. Ons moet dit ook nie vergeet nie. Wanneer ons bid moet ons besef dat ons vanuit hierdie perspektiewe moet bid. Ek sien haatdraende gebede en verlekkering wanneer ‘n residentiële gebou in Gaza val. Dit mag die skuiling wees van terroriste. Hamas en Hezbollah skroom nie om mense as skilde te gebruik nie. Hulle maak van vuil tegnieke gebruik en het geen ontsag vir ‘n mens se lewe nie. Dis alles waar. Maar ons moet nooit ophou ween vir die siele wat sonder Jesus sterf nie.

 

Iets wat ons ook duidelik in die Skrifte kan sien is dat die vergieting van onskuldige bloed ‘n gruwel is in die oë van die Here. Dis nou, meer as ooit tevore, belangrik om al die verskillende fasette van die karakter van YHVH te verstaan. Ons kan nie meer net aanklank vind met Sy faset van liefde en genade en vergeet dat Hy ‘n Wreker op Sy vyande is nie. En dieselfde geld vir die ander kant. Baie maak nou slegs aanspraak om die Here as ‘n regter en wreker en vergeet dat Hy nie behae het in ‘n sondaar wat sterf nie, maar eerder dat hy of sy hulle sal bekeer (Eseg 18:23)

 

Indien ons nie weet hoe om te bid nie, bid eerder in tale en laat toe dat die Heilige Gees deur ons bid. Hy weet wat om te bid (Rom 8:26). Ons kan ook nie verkeerd gaan om Skrif te bid nie. Om die Naam van Jesus Christus en Sy kosbare en kragtige Bloed oor ‘n situasie te verklaar, sal ook altyd van pas wees.

Onthou ook dat ons gebedstryd geestelik is en nie fisies nie. Daar is ‘n sataniese agenda wat mense ophits. Ja, mense het ‘n keuse en betaal daarom die prys. Maar ons moet nooit vergeet dat ons die outoriteit het om geestelik te veg nie en dis wat ons moet doen met hierdie gebede.

 

Ek het ‘n paar gebede saamgestel omdat baie wil bid, maar nie altyd weet wat om te bid nie. Dis belangrik om spesifiek te kan bid sodat ons effektief bid. Hierdie is net riglyne. Die leiding van die Heilige Gees is dit wat ons moet volg te alle tye.

Ons kan nie op die kantlyn staan nie. Tel ons onder die skape of die bokke? En alhoewel ons regering (Suid-Afrika) duidelik hulle standpunt as ‘n boknasie gemaak het, kan ons ook intree en vir die Here sê dat ons nie deel van daardie standpunt uitmaak nie. Ons staan saam met Israel en dat wanneer al die boknasies geoordeel gaan word, Suid-Afrika genade sal ontvang.

 

Laastens, waar pas hierdie oorlog in die eindtyd gebeure in?

Ons moet die situasie dophou in die volgende paar weke. Hierdie oorlog gaan nie tot ‘n vinnige einde kom nie. Israel is woedend oor die brutale geweld en die vergieting van onskuldige bloed. Nog nooit het hulle residentiële geboue gebombardeer nie. En ek kan nie sien dat hulle gaan stop voordat Hamas uitgedelg is nie. Dit gaan teë-aanvalle veroorsaak en moontlik vir Hezbolah verder aktiveer en dan sal ons vir Iran moet dophou.

Hierdie mag dalk die oorlog in die Midde-Ooste wees wat ons verwag voor die aanbreek van die finale sewe jaar (laaste week van Daniël se profesie). Baie mense verwys na hierdie oorlog as die Esegiël 38 Gog en Magog oorlog. Met die lig en insig wat ons op hierdie stadium het, sal so ‘n oorlog die perfekte geleentheid skep vir die antichris se openbaring wat sogenaamde vrede moet bring.

Kom ons hou die situasie biddend dop, maar die belangrikste is om te bid soos nog nooit tevore nie. Die nuwe geestelike seisoen en aangebreek en dinge gaan nou baie vinnig in plek begin skuif. Ons beweeg in moeilike dae in. Ons hoef nie te vrees nie, maar moet ook uit ons gemaksones kom en begin bid soos mense wat die erns van die tyd besef.

 

Skrifte wat gebid kan word:

Eks 23:7  Hou jou ver van valse sake af. En moenie die onskuldige en die wat reg het, ombring nie, want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie. 

Bid vir die openbaring van valsheid. Bid teen radio en televisie kanale wat vals nuus verkondig. Bid dat die volle waarheid aan die lig sal kom. Bid vir die beskerming van die onskuldiges. Bid dat die Here die skuldige skuldig sal verklaar en dat dit openbaar gemaak sal word vir die wêreld om te sien.

 

Matt 5:44-45  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. 

Bid vir die redding van siele. Bid vir genade dat elke mens wat in hierdie oorlog sterf, ‘n genade kans sal ontvang om hulle self te bekeer. Bid dat Jesus Christus Homself aan hulle sal openbaar. Bid vir dat Jesus in drome en op allerlei maniere aan mense sal verskyn en hulle tot inkeer en redding sal kom. Bid vir genadetyd vir elke mens.

 

Jes 29:5-6  Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur. Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van ‘n verterende vuur. 

Bid dat die vyande van Israel verstrooi word sodat daar nie eenheid en krag in getalle sal wees nie. Bid dat die Here van die leërskare Israel in genade sal besoek op so ‘n manier dat elke mens op aarde sal weet dat die die Here was.

 

Jes 42:13  Die HERE sal uittrek soos ‘n held; Hy sal die ywer opwek soos ‘n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar. 

Bid dat die Here in ywer sal uittrek soos ‘n held en dat Hy as ‘n held teen Sy vyande geopenbaar sal word. Bid vir bonatuurlike ingryping sodat elke mens sal weet dat dit YHVH is wat hierdie wonderwerke doen.

 

2 Kron 28:11  Luister dan nou na my en laat die gevangenes wat julle van jul broers weggevoer het, teruggaan; want die toorngloed van die HERE is op julle! 

Roep hierdie Skrif uit oor die wat as gevangenisse in Gaza aangehou word. Bid dat hulle in die vreesaanjaende situasie vir Jesus sal ontmoet. Bid vir bonatuurlike beskerming terwyl die bomme rondom hulle val. Bid vir mensliewende behandeling en beskerming. Bid dat hulle gevind sal word en dat die toorngloed van die Here hulle sal red.

 

Matt 25:31-33  En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 

(Die konteks van hierdie Skrif die laaste oordeel, maar daar is ‘n opbouing tot op hierdie dag en daarom kan ons dit reeds bid). Bid dat die Here hierdie omstandigheid sal gebruik om die nasies af te skei – wie is ware skaapnasies en wie is ware boknasies. Bid dat die nasies wat maak of hulle skaapnasies is, maar agter toedeure eintlik vyande van Israel en van YHVH is, geopenbaar sal word. Bid vir ons land (Suid-Afrika) en dat die gebede van die Christene die land sal spaar van die oordeel van die boknasies.

 

Ps 91:14-15  Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. 

Bid vir die beskerming van elke mens wat die Naam van YHVH aanroep in benoudheid en nood. Bid vir hulle uitredding en veiligheid. Bid vir die kindertjies wat nie weet wat aangaan nie. Bid vir beskerming teen al die trauma wat mense beleef. Bid vir die wat in bomskuilings wegkruip. Bid vir die wat nie heenkome het nie. Bid vir voedsel en water voorsiening.

 

Ps 20:2-3  Mag die HERE u verhoor in die dag van benoudheid! Mag die Naam van die God van Jakob u beskerm! Mag Hy u hulp stuur uit die heiligdom en u ondersteun uit Sion! 

Hierdie Skrif kan net so gebid word.

 

Ps 61:4  Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand. 

Bid dat Israel hulle toevlug in YHVH sal vind en nie in die beskerming van Amerika en die weste nie. Bid dat die Here self vir hulle ‘n sterk toring teen hulle vyande sal wees.

 

Eseg 38:23  So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE is. 

(Die konteks van hierdie Skrif is die Gog en Magog oorlog wat baie moonlik hierdie oorlog mag wees)

Herinner die Here aan Sy belofte en dat Hy Sy Naam sal groot maak voor die oë van baie nasies. Bid vir die onderskepping van mortiere en bomme op bonatuurlike wyses sodat die wat dit afvuur sal weet dat YHVH ingegryp het. Bid dat die Here Sy Naam groot sal maak en dat elkeen wat Allah aanbid, sal weet dat slegs YHVH die Here is. Bid vir wonderwerke en bonatuurlike verskynsels voor die oë van die wêreld. Bid dat dit verkondig sal word en dat die nuus sal versprei dat YHVH die Een is wat wonderwerke doen.

 

2 Sam 15:31  Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: o HERE, verydel tog die raad van Agitófel! 

Bid dat die Here die raadgewers aan die kant van Israel se vyande in verwarring sal bring. Bid dat enige eenheid tussen boknasies gebreek sal word. Bid dat die Here alle goeie raad wat die vyande van Israel vir Hamas, Hezbolah en die Jihad gee, sal verydel soos wat Hy die raad van Agitófel in Dawid se tyd verydel het. Bid dat die samesweerders aan die lig gebring sal word.

 

Ps 64:2-3  Hoor my stem, o God, in my klagte; bewaar my lewe vir die skrik van die vyand. Steek my weg vir die raad van die kwaaddoeners, vir die gewoel van die werkers van ongeregtigheid; 

Bid dat die Here na elke klag, vrees, geroep en gesug sal luister en daardie mense sal beskerm. Bid dat die Here die onskuldiges sal wegsteek vir die kwaaddoeners. Bid vir die bewaring van lewens. Bid vir die hospitale se beskerming, dat bomme nie hospitale sal tref nie. Bid vir die gewondes vir herstel. Bid vir die sterwendes om Jesus se ontmoet. Bid teen die gewoel van die werkers van ongeregtigheid.

 

Ps 14:5-7  Dáár het skrik hulle oorweldig, want God is by die regverdige geslag. Die raad van die ellendige—julle kan dit tot skande maak; waarlik, die HERE is sy toevlug. Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As die HERE die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees. 

2 Kron 17:10  En ‘n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie. 

Bid dat die Skrik van YHVH die vyande van Israel sal oorweldig. Prys die Here dat Hy aan die kant van die regverdiges is. Bid dat die Here die toevlug van die ellendiges sal wees. Bid vir die ou mense en kinders. Bid vir die gewonde soldate. Roep die Here aan dat die verlossing van Israel uit die Hemelse Sion sal kom.

Bid dat die Skrik van die Here oor elke land sal kom wat dink om teen Israel te veg. Bid dat daardie skrik hulle sal oorweldig dag en nag. En ook dat dit hulle tot bekering sal lei.

 

Eks 23:27  Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug. 

Verbreek die eenheid tussen die boknasies in die Naam van Jesus. Bid vir verwarring in die vyand se kamp. Bid dat die vyande van Israel voor haar uit sal vlug.

Bid ook teen verwarring wat kos en voorrade betref. Bid vir helderheid van verstand om dit reg te versprei.

 

Ps 18:32-36  Want wie is God buiten die HERE, en wie is ‘n rots behalwe onse God? God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak. Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes. Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms ‘n koperboog span. Ook het U my die skild van u uitredding gegee, en u regterhand het my ondersteun, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak. 

Verklaar dat die Here die enigste rots is waarop Israel werklik kan staatmaak. Al staan al die westerste lande saam met Israel, kan dit in ‘n oogwink verander. Hulle kan slegs op YHVH staatmaak. Dit is Hy wat hulle met krag omgord. Bid dat die Here hulle sal omgord met krag en hulle weg volkome sal maak. Bid dat Hy hulle vinnig sal maak en sal verhef. Bid vir wysheid hoe om hierdie oorlog te voer. Sny alle verwarring in die gees oor Israel af. Bid vir helderheid van verstand, insig en wysheid. Bid dat die Here die skild van uitredding vir hulle sal gee.

 

Ps 103:20  Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! 

Dan 10:13  maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. 

Persië = Iran

Bid daarom vir oorwinning teen die vors van Persië. Ons veg nie teen vlees en bloed in ons gebede nie, maar teen die bose geeste in die lug. In hierdie geval die vors van Persië en sy leërmag. Bid vir die mobilisering van die vors Migael se leërmag. Bid vir oorwinning in die atmosfeer. Bid dat engele uitgestuur sal word en dat die huise van onskuldiges beskerm sal word. Bid dat die engele vooruit sal gaan in die geveg. Bid vir die beskerming van die IDF (Israeli Defence Force), Israel se weermag deur engele. Bid dat die engele saam met hulle sal veg en ‘n skild tussen hulle en die vyande sal wees.

 

2 Kor 3:14-16  Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. 

Bid vir elke ortodokse Jood wat terwyl die weermag veg, hulle in konstante gebed is. Bid dat die bedekking van hulle oë weggeneem sal word. Bid dat hulle Jesus Christus as die Messias sal herken in die Skrifte. Bid dat Jesus Homself aan hulle sal openbaar en dat hulle hul tot Hom sal bekeer.

 

Sag 12:8-19  In dié dag sal die HERE die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese, soos die Engel van die HERE voor hulle uit. Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg. 

(Die konteks van hierdie Skrif is die laaste bak wat uitgegiet word: die slag van Armageddon, maar kan ook in hierdie situasie gebid word)

Bid dat die Here Israel en haar inwoners sal beskut. Bid dat die Here die vyande van Israel sal verdelg. Bid dat die Here engele sal uitstuur om die leiers van Hamas se wegkruipplekke uit te wys sodat hulle verdelg kan word. Dit is hulle wat verantwoordelik is vir die vergieting van al die onskuldige bloed. (soldate voer net opdragte uit, maar die wat in veilige plekke wegkruip, neem die besluite – bid teen hulle).

Bid vir voorsiening van voorrade, water en voedsel. Bid dat die Here engele sal stuur om hierdie voorrade te beskerm sodat dit by die regte bestemmings sal uikom.

css.php