16 Oktober 2022 (deur Yolandie Mostert)
Hierdie skrywe volg op die vorige leringe oor die Verbond. Dis regtig baie belangrik om vir ons om doping in die konteks van die Verbond te verstaan. Wanner die Ou Verbond en Nuwe Verbond nie behoorlik verstaan word nie, word mense mislei.
Jy kan hier kliek vir die vorige leringe. Daar is vier leringe en elkeen volg op mekaar.
- Die Verbond in gewone taal
- Die Verbond – redding deur geloof
- Bloed en die Verbond
- Die wet van die Gees van die lewe
Drie-Enige God betrokke
Tydens die doop van Jesus was al drie persone van die Godheid teenwoordig: Vader, Seun en Heilige Gees. Omdat Jesus se doop ‘n voorbeeld vir ons is van hoe doping moet gebeur, kan ons seker wees dat ons eie doop ook bevestig word deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die Skrif sê tog ook dat ons in die Naam van al drie gedoop word.
En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. (Matt 3:16-17)
Drie tipes doop in die Bybel
Doop van Johannes
Johannes was die oorgangsfiguur tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond. Die Skrif sê hy was Jesus se voorloper en dat daar nie ‘n groter profeet as hy was nie. Alhoewel die Skrif nie baie uitbrei oor Johannes nie, kan ons aflei dat sy rol baie groter was as wat ons besef.
Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy. (Luk 7:27-28). Lees ook Hand 1:22 en Hand 13:24.
Die doop waarmee Johannes gedoop het, was ‘n bekeringsdoop.
Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. (Matt 3:11). Lees ook Mark 1:4, Luk 3:3, Luk 7:29)
Doop van gelowiges
Hierdie is wat in die volksmond bekend staan as ‘groot doop’ Dis nie ‘n baie akkurate term nie, aangesien jongmense (en kinders) weergebore kan word en daarna gedoop word. Daar is ook baie grootmense wat hulle babadoop laat bevestig deur middel van besprinkeling. Dis nie waarna die doop van die gelowiges verwys nie.
Die meer korrekte term is doping as ‘n gelowige (met ander woorde na wedergeboorte) deur middel van onderdompeling in water. Dit word gedoen in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, die volle Godheid.
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. (Matt 28:19)
Doping met die Heilige Gees
Na wedergeboorte en gelowige doop, word die gelowige gedoop met die Heilige Gees. Dit word deur Jesus self gedoen en is nodig om die gelowige te bekragtig vir sy pad vorentoe. Die doping met die Heilige Gees, sal in ‘n latere lering behandel word.
Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees. (Mark 1:8) Lees ook Matt 3:11, Luk 3:16
Verskil tussen die doop van Johannes en gelowige doop
Daar is twee gevalle in die boek Handelinge wat vir ons die verskil uitwys tussen die doop van Johannes en die gelowige doop. Wanneer ons as gelowiges in water onderdompel word, is dit nie met presies dieselfde doop as waarmee Johannes gedoop het nie. Alhoewel dit uiterlik dieselfde lyk, is die simboliek verskillend.
Apollos
Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het. En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê. (Hand 18:25-26)
My afleiding uit hierdie gedeelte is dat Apollos heel waarskynlik vir Johannes hoor preek en sien doop het. Hy het moontlik ook gehoor van die Een wat sou kom, maar het nog nie die volle prentjie gehad nie. Apollos was gedoop, maar met die doop van Johannes tot bekering.
In Éfese
En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. (Hand 19:1-5)
Hier kan ons sien dat Paulus sekerheid wou kry of die dissipels in Éfese met die Heilige Gees gedoop was. Doping in die Heilige Gees vorm ‘n intergrale deel van ons wedergeboorte. Uit hulle antwoord kon Paulus aflei dat hulle nie in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees gedoop was nie. Indien hulle so gedoop was, sou hulle mos die woord Heilige Gees gehoor het en geweet het wie dit was. Daarom sy volgende vraag: met watter doop is julle dan gedoop. Hy verduidelik vir hulle die verskil tussen die twee en daarna was hulle as gelowiges gedoop. Johannes se doop was deel van die proses om die pad oop te maak deur middel van bekering. Dit was deel van die voorloperwerk. Die rede waarom ons gedoop word is omdat ons glo in Jesus Christus. Maar die doop is soveel meer as dit, soos wat ons in die res van hierdie dokument gaan sien.
Basiese fondamente van Christenwees
In Hebreërs 6:1-2 sit die skrywer vir ons die basiese fondamente van ons geloof uit een. Ek het dit opgesom soos volg:
- Bekering uit dooie werke (repentance)
- Geloof in God (faith toward God)
- Leer van die doop (meervoud) (doctrine of baptisms)
- Handoplegging (laying on of hands)
- Opstanding van die dode (resurrection of the dead)
- Ewige oordeel (eternal judgement)
Hierdie is die dinge waarby ons die moet vashaak nie, maar ons moet verder groei tot geestelike volwassenheid (volmaaktheid).
Ek wil jou oog fokus op die derdie punt: die lering van die doop. In die Engelse vertaling word doop in die meervoud geskryf. Daar is meer as een doop, die doop van gelowiges sowel as die doping in die Heilige Gees. Beide is noodsaaklik vir ons om te groei na die volmaaktheid. In ‘n toekomstige
Vereiste om gedoop te mag word
Die verhaal van Filippus en die hofdienaar, is ‘n pragtige voorbeeld van hoe die proses van geloof, wedergeboorte en gelowige doop werk. Iewers in Filippus se verduideling moes die hofdienaar die waarheid ingesien het en geglo het. Dit bring wedergeboorte tot gevolg. As gevolg daarvan, kon hy gedoop geword het. Ons lees dat hy vir Filippus gevra het, wat verhoed dat hy gedoop kon word. Die vereiste was geloof en omdat Filippus geglo het dat Jesus die Seun van God is, het hy aan die vereiste voldoen.
En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. (Hand 8:36-38)
Sonder geloof beteken doping niks
Wanneer ‘n gelowige gedoop word as gevolg van sy geloof en as deel van sy wedergeboorte, vind daar ‘n verandering in die gees plaas. So ‘n persoon kan nie weer dieselfde wees nie.
Die vraag wat baie keer gevra word is: “so en so is gedoop en kyk hoe lyk sy of haar lewe” Ongelukkig gebeur dit baie dat mense gedoop word sonder ware bekering en geloof. Dis wanneer daar dan geen verandering in so ‘n persoon se lewe plaasvind nie.
Derek Prince vertel hierdie storie wat hy weer by iemand ander gehoor het. ‘n Jongman wou graag in die kerkorkes gespeel het. Die vereiste was dat alle orkeslede gedoop moes gewees het. Dit was sy beweegrede. Daar was geen bekering, belydenis, geloof of enige van die vereistes vir wedergeboorte en doping nie. Hy het as ‘n droë sondaar onder die water gegaan en as ‘n nat sondaar uit die water opgestaan. Hierdie jongman het jare later eers Jesus Christus ontmoet en is toe as ‘n gelowige gedoop.
Bewys dat ons wedergebore is
So baie mense word verkeerdelik geleer dat as hulle iewers in hulle lewe ‘n gebedjie agter iemand aan gesê het, dat hulle gered is. Maak nie saak hoe hulle lewe lyk nie. Dis ‘n vals doktriene. Die Bybel leer vir ons dat daar ‘n manier is om seker te maak dat ons gered of wedergebore is. Ons lees dit in die briewe van Johannes.
En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (1 Joh 2:3-5)
Daar is twee bewyse: liefde en die gehoorsaamheid aan die Here se gebooie. Beide is ‘n uitwerking van die Heilige Gees binne die wedergebore persoon. Wanneer ‘n sondaar die Naam van Jesus aanroep vir redding en deur geloof en belydenis hom bekeer, vind wedergeboorte plaas en die Heilige Gees neem intrek in die mens se nuutgebore gees. Tydens die doop wat deel van die proses vorm, word die Here se wette op die mens se binneste geskryf.
Die Heilige Gees weet wat op ons harte geskryf staan, met ander woorde, kan die wette lees en interpreteer en ons daarin onderrig. Dis wat dit beteken om deur die Gees te lewe. Ons lewe verander omdat ons gehoorsaam is aan die instruksies wat op ons binneste geskryf staan.
Die doel en resultaat van die doop
Corresponding to that [rescue through the flood], baptism [which is an expression of a believer’s new life in Christ] now saves you, not by removing dirt from the body, but by an appeal to God for a good (clear) conscience, [demonstrating what you believe to be yours] through the resurrection of Jesus Christ, (1 Pet 3:21 AMP)
- Ons ou mens sterf en word gelykvormig aan Jesus se dood. Die enigste manier om ‘n gees dood te maak, is deur die doop.
- ‘n Nuwe mens staan, gelykvormig aan Jesus se opstanding. Dit wat nuut gemaak is, is die mens se gees.
- Dis ‘n fisiese bewys van ons geloof in Jesus, met ander woorde ‘n teken.
- Tydens die doop word ons met Christus beklee (Gal 3:27)
- Die doop bring ‘n skeiding tussen ou lewe en nuwe lewe. So entjie verder in hierdie skrywe, word hierop uitgebrei.
- Ons kry ‘n nuwe identiteit.
- Daar vind ‘n onomkeerbare skuif in die gees plaas. Daar is baie getuienisse van mense wat hulle uit Islam of Hindoeisme bekeer het. Die families van so ‘n persoon kon dit nog ‘n mate hanteer, maar wanneer die persoon gedoop is, was daar ‘n finaliteit en dan het die vervolging begin.
Doping is nie opsioneel nie
Dis vir my so opvallend dat die apostels in die Handelinge kerk nie so polities korrek of versigtig was soos ons vandag sien gebeur nie. Petrus het nie voorgestel dat die huishouding van Cornelius gedoop moes word nie, hy het beveel. Dis ‘n sterk woord, wat die belangrikheid van doping as deel van wedergeboorte uitwys. Ons sien dieselfde krag in die bevel van Ananías aan Paulus. Doping, as deel van wedergeboorte, was nie opsioneel toe nie, net so ook nie nou nie.
En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. (Hand 10:48a)
En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep. (Hand 22:16)
Tipes in die Bybel
Daar is twee voorbeelde waar die Bybel die doop met iets vergelyk: die Israeliete by die rooi see en die die vloed in die tyd van Noag. In beide gevalle was daar iets wat vernieting moes word, ‘n ou lewe wat agtergelaat moes word en ‘n nuwe lewe wat moet begin.
Die rooi see
Ons lees hiervan in 1 Kor 10:1-2. Die rooi see was dit wat skeiding gemaak het tussen die Egiptenare en die Israeliete. Die rooi see moes die Egiptenare doodmaak. Eers daarna kon die Israeliete hulle woestynreis aanpak en werklik vry wees van Egipte. Nes die rooi see, bring die doop ‘n skeiding tussen die ou en die nuwe lewe. Volgens hierdie analogie, sal ons nooit werklik vry kan wees in ons nuwe lewe saam met Christus as ons nie deur die doopwater gegaan het en die ou lewe (Egipte) agtergelaat het nie.
Die vloed
Hierdie voorbeeld is in 1 Pet 3:20-21. Ons lees in Genesis 6 van die generasie van reuse. Hierdie reuse het chaos veroorsaak en was grootendeels die rede vir die vloed. Die vloed moes van die reuse ontslae raak. Weereens sien ons die konsep van skeiding tussen die oue en die nuwe. Na die vloed kon Noag en sy nageslag uit die ark in ‘n wêreld vry van reuse instap.
Skeiding
Wanneer ‘n mens homself bekeer tot God en die Naam van Jesus Christus aanroep tot redding, vind die eerste stap wedergeboorte plaas. Die doop bring ‘n skeiding tussen die ou en die nuwe. Tydens die doop word die ou mens begrawe en ‘n nuwe mens staan op. As hierdie laaste belangrike deel van wedergeboorte nie gebeur het nie, het die skeiding nog nie plaasgevind nie. Om die taal van die tipes hierbo te gebruik: die Egiptenare en die reuse is nog lewendig, sterk en kort op die persoon se hakke. Dis baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om deur die gees te kan leef.
‘n Begrafnis
Romeine 6 is die bekende gedeelte in die Skrif wat die doop verduidelik en gelykstel met ‘n begrafnis en ‘n opstanding tot ‘n nuwe lewe. Ons kan nooit na die doop kyk sonder ‘n doodsbegrip nie. Doop en dood kan nie van mekaar geskei word nie.
Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. (Rom 6:3-4)
Hartsbesnydenis
Ek het nou reeds ‘n paar keer verwys na die Here se wette wat op ons binneste geskryf word tydens die doop. Die volgende vraag moet wees: “waar staan dit?”. Is daar enige bewyse uit die Skrif om hierdie stelling te staaf? Die antwoord is JA. Ons vind dit in Kol 2:11-12.
In wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
Wat sê Paulus hier? Ek wil in die middel begin by die OMDAT. Omdat ons begrawe is in die dood, daarom… En dan gaan ons terug na die begin om die daarom uit te vind.
Die DAAROM lê in die geestelike besnydenis – die besnydenis wat nie met hande verrig word nie. Met ander woorde, nie die fisiese besnydenis aan die voorhuid nie, maar die geestelike besnydenis van die hart waarvan ons in Deut 30:6 lees.
En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe. (Deut 30:6)
As ons hierdie twee verse opsom, kan dit so klink: ons harte word besny deur die aflê van die sondige vlees, omdat ons saam met Hom begrawe is in die doop. Dan gaan dit verder deur die praat oor die opwekking.
Tydens die doop
Dood, opwekking en hartsbesnydenis gebeur tydens dieselfde gebeurtenis. Dis onmoontlik om dit te skei. Dit gebeur tydens die doop. My afleiding is dat hartsbesnydenis nie kan plaasvind sonder die proses van dood en opwekking nie. As ‘n gelowige nie gedoop is nie, het hartsbesnydenis nog nie plaasgevind nie. Dit beteken dan die Here se wette nog nie geskryf is op die hart nie. En dis wanneer mense geskrewe reëls en instruksies nodig het om te weet wat om te doen en wat nie.
Paulus se skryfstyl
Sommer op ‘n ander noot, maar baie handig…
Paulus het ‘n interessante (en soms moeilike) skryfstyl. Hy is bekend daarvoor om lang beskrywende gedeeltes in die middel van sinne te plaas. Wanneer iemand nie met konsentrasie lees nie, kan die betekenis soms moeilik verstaanbaar wees. Dis baie soos wanneer ons sal sê “ek het ‘n afspraak met Susan, die suster van Jaco, om een uur”. Dit wat tussen die kommas gesit word, is daar vir verdere duidelikheid.
In Kol 2:11-12 gebeur dieselfde. Indien jy sukkel om sy redenasie te volg, ignoreer eers die gedeelte tussen die kommas. Kry die lyn van wat hy sê en voeg dan die beskrywende gedeelte terug vir verdere inligting.
Hoe vinnig?
Hoe vinnig na redding kan iemand gedoop word? Die maklike antwoord is so gou as moontlik. Dieselfde dag verkieslik. Wedergeboorte moet met doop gepaard gaan, anders is die proses nie voltooi nie.
Dis ‘n vals lering dat ‘n persoon eers meer moet verstaan of ‘n sekere mate van groei bereik het. Ek lees nêrens van so ‘n voorbeeld in die Skrif nie.
Dis onsinnig dat ‘n persoon aansoek moet doen, sy naam op ‘n waglys moet plaas en dan moet wag vir die regte geleentheid, geskikte plek, perfekte watertemperatuur ensovoorts.
Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring. (Hand 2:41)
En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep. (Hand 22:16)
En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. (Hand 9:18)
En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. (Hand 8:38)
En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. (Hand 16:33)
En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. (Hand 18:8)
Hoeveel keer in jou lewe?
Die antwoord op hierdie vraag lê in wat dit simboliseer: ‘n dood, begrafnis en opstandig. Dood en ‘n begranis in die natuurlike is ‘n eenmalige gebeurtenis. Dieselfde in die gees – dis ook ‘n eenmalige gebeurtenis. As redding, bekering en wedergeboorte reg gebeur het, is dit net nodig om een keer gedoop te word.
Die skywer van Hebreërs leer vir ons dat ons nie moet bly by die eerste beginsels nie. Ons het reeds hierdie gedeelte voorheen behandel. (Heb 6:2)
Ons word in Jesus gedoop, nie in ‘n kerkgenootskap of instansie nie. Dis buite die riglyne van die Skrif om weer gedoop te moet word wanneer jy van kerk verander. Doop is nie toegang tot die voordele wat ‘n kerk of instansie kan bied nie.
Maak dit saak deur wie is jy gedoop?
Die kort antwoord is nee, solank dit ‘n gelowig-gedoopte dissipel van Jesus Christus was. My opinie is dat die persoon wat die doopwerk doen, iemand moet wees wat die vrug van die Gees in sy lewe uitleef. Wanneer ons te veel fokus op die persoon is wat die doopwerk doen, neem dit ons fokus van dit wat die doop uitbeeld af.
Die belangrikste is dat ons in Jesus Christus se dood gedoop word. Vergelyk 1 Kor 1:12-13.
Die omvang van die doop is so ‘n uitgebreide ontwerp. Daarom het ek dit goedgedink om die skrywe op te deel in twee of drie dele. In die volgende deel wil ek graag kyk na die vergelyking tussen die babadoop en doop van die gelowiges.