Dieper skatte in Hooglied

Deur Yolandie Mostert (6 October 2022)

‘n Terugblik

Sedert die eerste druk van my boek: ‘Hooglied – die opwindende reis van bruidwees” in 2019, het baie water in die see geloop. Soveel nuwe lesse is geleer, verskillende seisoene is deurleef en dieper skatte is ontdek. Daar was soveel kere wat ek gewens het ek kon hierdie stukkie openbaring of daardie stukkie waarheid in die boek ingesluit het.

Ek onthou nog so duidelik dat ek op die vooraand voordat ek die manuskrip moes e-pos, nog ‘n laaste stukkie wou bysit. Die Heilige Gees het my so duidelik geantwoord: “dis nou genoeg, alles wat moet in wees is nou in”. Dit het ongelooflik baie vrede in my hart bewerk. Daarom glo ek werklik dat die eerste boek die regte afgemete hoeveelheid was vir baie wat die eerste keer met Hooglied te doen gekry het. En ook vir die wat reeds ‘n idee gehad het.

 

Dis prakties

Die benadering wat die Heilige Gees geneem het met die eerste boek was die praktiese roete – lesse en beginsels wat verstaan en toegepas kon word. Alhoewel Hooglied ryk aan simboliek is, is dit steeds ‘n baie praktiese Bybelboek. Oor die jare is Hooglied so geromantiseer dat dit ekslusiwiteit in die liggaam van Christus veroorsaak het. Baie mense is bloot afgestoot deur die onverstaanbaarheid daarvan. Daarom is dit regtig vir my belangrik dat mense die praktiese dag-tot-dag uitleef aspek van Hooglied moet verstaan.

 

Nog soveel meer om te leer

Soos ek hier tik, het ons sopas ons negende konferensie agter die rug. Deur die bank is die kommentaar: “ek het gedink ek verstaan Hooglied, maar besef nou hoe min ek eintlik verstaan het”. Nog iemand het sommer onlangs gesê: “ek het die pot heeltemal misgesit”.

Ek maak absoluut geen aanspraak dat ek die volle prentjie besit nie. Inteendeel, hoe dieper ek in die Skrif delf, hoe meer besef ek dat ek eintlik nog niks weet nie. Ek wil saam met Agur in Spreuke 30 uitroep: “I have not learned enough wisdom to know the Holy One”.

 

‘n Verseëlde fontein is oopgemaak

Tydens die oorgang van die geestelike seisoen in September 2022, kon ek die verskuiwing in die gees duidelik bemerk. Ook binne in my eie gees het daar ‘n verandering plaasgevind. Dis asof daar ‘n verseëlde fontein oopgemaak is my diepste wese en dieper insig het begin opborrel. Skrifte, gepaard met insig het soos klein borreltjies op die oppervlak gebreek en dit het amper gevoel asof ek hulle nie vinnig genoeg kon vasvat nie.

Na die Fees van Basuingeklank, het die Heilige Gees dit wat ek ervaar het, bevestig. Ek het besef dat die tyd aangebreek het om die dieper skatte neer te pen.

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. (Ps 36:10) 

 

Mag die dieper skatte wat in hierdie seisoen ontdek word, lei tot diep kennis van die Heilige. Daar is geen groter eer en prestasie vir die mens, as om El-Elyon, die Allerhoogste, te mag ken nie.

En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei. (Hos 6:3) 

css.php