Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Sedert die eerste druk van my boek: ‘Hooglied – die opwindende reis van bruidwees” in 2019, het baie water in die see geloop. Soveel nuwe lesse is geleer, verskillende seisoene is deurleef en dieper skatte is ontdek. Daar was soveel kere wat ek gewens het ek kon hiérdie stukkie openbaring of dáárdie stukkie waarheid in die boek ingesluit het.
Tog weet ek dat die eerste boek die regte afgemete hoeveelheid was vir baie wat die eerste keer met Hooglied te doen gekry het. En ook vir die wat reeds ‘n idee gehad het. Die benadering wat die Heilige Gees geneem het met die eerste boek was die praktiese roete – lesse en beginsels wat verstaan en toegepas kon word.
Alhoewel Hooglied ryk aan simboliek is, is dit steeds ‘n baie praktiese Bybelboek. Oor die jare is Hooglied so geromantiseer dat dit ekslusiwiteit in die liggaam van Christus veroorsaak het. Baie mense is bloot afgestoot deur die onverstaanbaarheid daarvan.
Soos ek hier tik, het ons sopas ons negende konferensie agter die rug. Deur die bank is die kommentaar: “ek het gedink ek verstaan Hooglied, maar besef nou hoe min ek eintlik verstaan het”. Nog iemand het sommer onlangs gesê: “ek het die pot heeltemal misgesit”. So baie mense het nog nooit eers Hooglied gelees nie as gevolg van een of ander waarskuwing deur iemand in die kerk.
Ek maak absoluut geen aanspraak dat ek die volle prentjie besit nie. Inteendeel, hoe dieper ek in die Skrif delf, hoe meer besef ek dat ek nog eintlik niks weet nie. Ek wil saam met Agur in Spreuke 30 uitroep: “I have not learned enough wisdom to know the Holy One”.
Tydens die oorgang van die geestelike seisoen in September 2022, kon ek die verskuiwing in die gees duidelik bemerk. Ook binne in my eie gees het daar ‘n verandering plaasgevind. Dis asof daar ‘n verseëlde fontein oopgemaak is in my diepste wese en dieper insig het begin opborrel. Skrifte, gepaard met insig het soos klein borreltjies op die oppervlak gebreek en dit het amper gevoel asof ek hulle nie vinnig genoeg kon vasvat nie.
Na die Fees van Basuingeklank, het die Heilige Gees dit wat ek ervaar het, bevestig, en ek het besef dat die tyd aangebreek het om die dieper skatte neer te pen.
Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. (Ps 36:10)
Mag die dieper skatte wat in hierdie seisoen ontdek word, lei tot diep kennis van die Heilige. Daar is geen groter eer en prestasie vir die mens, as om El-Elyon, die Allerhoogste, te mag ken nie.
En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei. (Hos 6:3)
Yolandie Mostert
Oktober 2022
Dit het my ‘n volle jaar geneem om die dieper skatte van die eerste afdeling in Hooglied te skryf. Of eerder te deurleef.
Gedurende hierdie jaar het die Heilige Gees ook vir my ‘n baie mooi bevestigende woord gegee rakende Diep Skatte in Hooglied. In die laaste dae waarin ons reeds inbeweeg het, gaan die bruid genoeg ekstra olie moet bymekaar maak. Ons kan nie probeer oorleef op net dit wat in ons lampie is nie, maak nie saak hoe helder dit brand nie. Ons het ekstra olie nodig, ekstra waarheid, ekstra diepte, ekstra salwing en ekstra van alles wat gewig binne ons gaan veroorsaak sodat ons nie rond geslinger gaan word nie. Toe Jesus vir ons stap vir stap in Mattheus 24 vertel hoe die laaste dae gaan wees, was Sy grootste waarskuwing teen misleiding. Misleiding is baie meer gevaarlik as fisiese vervolging. Dis subtiel, gebeur stukkie vir stukkie en voordat ons ons kry, glo ons leuens en kan nie meer onderskei tussen die Heilige Gees en die vals namaaksel nie.
Baie van die inligting wat ek gaan deel, gaan vir diegene wat reeds ‘n konferensie bygewoon het of die eerste boek gelees het, bekend wees. Ek het versie vir versie beskryf en waar ‘n versie in die eerste boek ‘n paragraaf opgeneem het, strek sommige versies oor twee tot drie hoofstukke. Ek verduidelik weer die basiese betekenis van die simboliek. Sodoende hoef iemand wat nog nie eerste boek gelees het, te voel dat hulle agter gaan wees en nie gaan verstaan nie.
Die inhoud van die boek gaan jou strek en uitdaag. Dit is nie ‘n romantiese boodskap wat die oor streel nie. Daar is ‘n paar taai appels (waarhede) wat ons moet kou sodat ons uit godsdiens kan kom, in ‘n verhouding met Jesus Christus. Godsdiens kom in soveel kleure en baie keer dink ons ons het reeds daarmee gedeel, net om agter te kom dat ons een godsdiensbaadjie vir ‘n ander veruil het.
Ek bid vir die volmaakte vrede van die Heilige Gees om van elke hart besit te neem en wanneer Hy Sy lig van waarheid op plekke in ons lewe skyn, dat ons die dapperheid sal hê om daarmee te deel en om nie die waarheid van ons weg te stoot nie.
Oktober 2023