11 September 2022 (Deur Yolandie Mostert)
Ons is steeds besig met die Ou Verbond en die Nuwe Verbond. Hierdie week gaan ons dieper kyk na die Nuwe Verbond en hoe die wet onder hierdie verbond werk. Ons lees van hierdie wet in Romeine 8:2. Die Skrif noem dit die wet van die Gees van die lewe.
Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.
Jy kan die vorige leringe hier kry:
- Deel 1 – Die Ou Verbond – die rede daarvoor en hoe dit gewerk het
- Deel 2 – Geloof nog altyd die reddende faktor vir die Ou en Nuwe Verbond
- Deel 3 – Die Verbond en bloed
Om die Nuwe Verbond se werking, sowel as die wet van die Gees van die lewe te verstaan, moet ons eers kyk na hoe die mens gelyk het voor wedergeboorte, wat plaas vind tydens wedergeboorte en hoe die mens lyk en lewe na wedergeboorte.
Voor wedergeboorte
Die mens se gees kom van God af. Ons lees dit in Prediker 12:7. Adam en Eva het ‘n ononderbroke pyplyn gehad tot die Vader. Deur hierdie pyplyn het Goddelike lewe sonder belemmering na hulle deurgevloei. Na die sondeval het die pyplyn gebreek en kan daar nie lewe na die mens se gees vloei nie. Die mens is afgesny van sy oorsprong, wat die Vader is. Daarom word daar gesê dat die mens se gees dood is. Dit beteken nie dat die mens voor wedergeboorte nie ‘n geesmens het nie. Dit beteken bloot dat die gees binne ‘n verlore mens in duisternis is en vanuit duisternis leef. Die gees van die mens leef tot in ewigheid. Ons keuses op aarde bepaal waar die gees die ewigheid gaan deurbring. Die gees van ‘n verlorene leef binne die persoon, maar is gevange in duisternis en het geen toegang tot Goddelike lewe nie.
Kol 2:13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het
Tydens wedergeboorte en doping
Die Heilige Gees neem intrek in die mens se geeshart
Die Bybel verwys na hierdie spesiale ruimte binne die gees van die mens as die goue kruik (Pred 12:6). Hierdie leë ruimte in die binneste van die mens is spesiaal gereserveer vir die Heilige Gees. ‘n Persoon wat nie wedergebore is nie, se kruik is leeg. Daarom sal mense ook soms sê dat hulle leeg voel. Dis letterlik die waarheid. Baie mense sal hierdie leegheid probeer vul deur mense, aktiwiteite, plesiere ensovoorts. Die realiteit is dat niks anders daardie plek kan volmaak nie. Slegs die Gees van die lewende God.
Ons ou mens sterf en word saam met Jesus begrawe deur die doop
Die ou mens waarna Romeine 6 verwys is ons geesmens – die een wat afgesny was vanaf die bron van Goddelike lewe. Die Vader doen nie net herstelwerk aan ons gees nie. Hy herskep (vernuwe) ons gees. Dis die proses van wedergeboorte waarna ons bietjie later gaan kyk.
Die wedergebore gees gaan deur die doopwater
Wedergeboorte en doping gaan hand aan hand. Doping is vanonderstel om direk na wedergeboorte plaas te vind. Daar behoort nie ‘n lank tyd te verloop nie. Op vele plekke in Handelinge lees ons hoe mense dadelik gedoop was.
Die ou mens (sonder Goddelike lewe) sterf en gaan onder die water. ‘n Nuwe (herskepte) geesmens staan op uit die graf. Hierdie gees het ‘n nuwe identiteit.
Tydens hierdie proses word die konneksie na die Oorsprong van Lewe herstel
Die pyplyn tussen die mens se gees en die Vader word weer in plek gesit en daar kan nou Goddelike lewe na die mens toe vloei. In my opinie is hierdie amper die grootste werk wat gebeur. Hierdie Goddelike lewe bevat alles wat ons nodig het om ‘n nuwe lewe in Christus te kan leef.
Die wette van die Here word op die mens se binneste geskryf
Wanneer die mensgees se begrafnis plaasvind (die doop), word die Here se wette op die mens se binneste geskryf. Hierdie wette is die insettinge waarvolgens die nuwe mens moet leef. Die Heilige Gees wat binne die mens se gees woon, lees, interpreteer en leer vir die wedergebore mens hierdie wette. Ons het heelwat in die vorige twee dele hieroor gepraat.
Gees, siel en liggaam
Ons weet die mens bestaan uit drie dele: gees, siel en liggaam. Die proses waarvan ons in die vorige pragraaf gepraat het, het die mens se gees behels. Na wedergeboorte is die mens se gees nog nuut en jonk, soos ‘n baba. Hierdie baba moet nou begin opgroei. Ons noem dit groei na geestelike volwassenheid. In maklike terme, geestelike grootword.
Kom ons kyk na die liggaam. Na wedergeboorte lyk die persoon nog dieselfde. Daar skyn wel ‘n lig uit die oë en die gesig lewe, maar dinge soos liggaamsbou, gewig, tande wat nie so reguit is nie, gebreke en letsels is steeds daar.
Op sielsvlak het dinge ook nie regtig verander nie. Ons siel bestaan uit ons wil, emosies en denke. ‘n Emosionele persoon is steeds emosioneel na wedergeboorte. Die persoon se emosies het nie noodwendig tot bekering gekom en is nou volmaak nie. Dis ‘n proses. Dieselfde geld vir denkpatrone, dit lyk ook nog dieselfde. Die bestaande breinpaadjies is steeds daar en moet ook vernuwe word.
Die wil word as deel van ons siel gesien en in ‘n groot mate is dit seker so. Ek glo ook dat die wil (of die hart) tussen die gees en die siel werk. Amper soos ‘n bruggie tussen die twee. Bietjie meer hieroor later.
Groei, genesing en heiligmaking is nodig op al drie vlakke van ons menswees. Ons lees dit in 1 Thess 5:23.
En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
Wedergeboorte
Die mooiste verduidelik van die proses van wedergeboorte is in die gesprek tussen Jesus en Nikodemus. Ons lees daarvan in Johannes 3. Daar is soveel diepte in waarheid in hierdie enkele paragraaf opgesluit, dit regverdig eintlik ‘n allenstaande lering. Vir nou gaan ons net oorsigtelik daarna kyk.
Vers 3: Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Hierdie vers is baie duidelik. Sonder wedergeboorte, is die mens verlore. Hy sal nooit die koninkryk van God kan sien nie. Waarom? Want sy geesmens behoort aan die koninkryk van duisternis. Daar is geen konneksie (of pyplyn) in plek waardeur lewe na sy gees kan vloei nie.
Vers 8: Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
Die doop
Die doop waarvan ons hier praat is onderdompeling in water met wedergeboorte. Die Griekse woord is baptizo. Romeine 6 is die hoofstuk wat seker die doop die beste verduidelik. Dis die dood en begrafnis van die geesmens (ou mens). Dis ook die opstanding in ‘n nuwe lewe in Jesus. Lees asseblief die hele hoofstuk om al die waarhede vas te maak. Hier is ‘n opsomming:
- Ons het die sonde afgesterf (vers 2)
- Begrawe saam met Jesus deur die doop in die dood (vers 4)
- Daarom kan ons in ‘n nuwe lewe wandel (vers 4)
- Ons ou mens is saam gekruisig (dood) (vers 6)
- Liggaam van sonde is tot niet (vers 6)
- Ons dien nou nie meer die sonde nie (vers 6)
- Ons is geregverdig (vers 7)
Hartsbesnydenis
Reeds in ons eerste deel oor die verbond het ons na hartsbesnydenis gekyk. Dit was nog altyd die finale oplossing gewees om met die sondetoestand van die mens te deel. Ons kan sê dat hartsbesnydenis die kruks is van die Nuwe Verbond. Hierdie twee verse in Esegiël 36 som dit so mooi op. Ons kry ‘n nuwe gees (nuwe mens wat opstaan uit die water). Die Heilige Gees neem intrek in ons gees en van binne af gaan die Heilige Gees ons help om deur die Gees te lewe sodat ons die Here se wette kan onderhou.
En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. (Eseg 36:26-27)
Baie belangrik: gehoorsaamheid aan insettinge en wette is die doen-dinge (werke) wat ‘n uitvloeisel is van ons geloof en liefde. Werke (doen-dinge) volg geloof. Nooit andersom nie.
Onthou ook dat die wette wat op ons harte geskryf staan, nie dieselfde wette is wat op die klip-Torah geskryf staan nie. In deel 2 het ek verduidelik hoe Jesus self vir ons dit geleer het in Mattheus 5.
Hartsbesnydenis volg na doping
Eers wanneer ons saam met Jesus begrawe is in die doop, word ons harte besny – word die Here se wette op ons hart geskryf. Volg Paulus se skryfstyl in die volgende gedeelte. Ek spring na die middel van die vers – OMDAT ons begrawe is. Dit wat die rede vir die omdat is, kom eerste, naamlik ons hartsbesnydenis. Paulus skryf omdat ons begrawe is in die doop, word ons harte besny.
in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. (Kol 2:11-12)
Net iets terloops rondom Paulus se skryfstyl. Hy sal baie keer ‘n sin begin en dan iets invoeg en weer voortgaan met die sin. Dit wat ingevoeg word, word tussen twee kommas geplaas. ‘n Eenvoudinge voorbeeld sal so klink: “Piet gaan kuier in Kaapstad, sy geboortedorp, by sy ouers”. Soms is die invoeging so lank dat ons die draad van dit wat Paulus verduidelik verloor. Dit help gewoonlik om eers die stuk tussen die kommas mis te lees. Kry die draad van wat hy sê en voeg dan die beskrywing weer in. Met die vers hierbo, sal dit so werk:
in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop…
Wanneer ons dit so lees, is dit makliker verstaanbaar en maak dit wat ingevoeg word ook agterna beter sin.
‘n Nuwe skepsel
Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. (2 Kor 5:17)
Hierdie vers word seker die meeste aangehaal wanneer mense die wedergebore mens probeer verduidelik. Dis ‘n wonderlike waarheid, maar ek glo dit word mis of half verstaan. Sommige mense glo dat die mens in sy geheel heeltemal nuut is. Die realiteit is dat ‘n pas-weergebore mens se liggaam nog dieselfde lyk, ons emosies moet nog tot bekering kom, ons gedagtepatrone is nog glad nie in lyn met God se orde nie en ons wil is nog nie so lekker onderwerp nie. Dit bring geweldige veroordeling wanneer ‘n persoon na so twee weke na wedergeboorte agterkom dat die sonde hom steeds trek en hy sukkel om byvoorbeeld van verslawings ontslae te raak.
Kom ons kyk hoe lyk die vers in die Amplified vertaling. Wanneer die mens in Jesus is, is dit heeltemal waar dat hy weergebore is nie en dat sy geesmens nuut uit die water opgestaan het. Dit is ‘n werk wat slegs die Heilige Gees kan doen. Dis heeltemal waar dat die ou dinge, die vorige lewe wat afgesny was van die bron van lewe, verbygegaan het. Die konneksie is herstel. Die persoon gaan van nou af vorentoe die lewe heeltemal anders aanpak. Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Die Skrif sê nie dat die persoon nou ‘n volwasse en sterk geesmens het en dat die siel deur geen vloeke, historiese invloede en denkpatrone geaffekteer word nie. Paulus skryf immers in Romeine 7 dat die sondige natuur steeds teenwoordig is binne die mens.
Therefore if anyone is in Christ [that is, grafted in, joined to Him by faith in Him as Savior], he is a new creature [reborn and renewed by the Holy Spirit]; the old things [the previous moral and spiritual condition] have passed away. Behold, new things have come [because spiritual awakening brings a new life].
‘n Nuwe skepsel het krag
Een van die grootste waarhede wat die vyand vir ‘n kind van die Here probeer wegsteek is die krag wat binne ‘n weergeborene opgesluit is. Ons lees in Gal 6:15 dat ‘n nuwe skepsel in Christus, krag het en dinge kan bereik.
Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.
For in Christ Jesus neither circumcision nor uncircumcision avails anything, but a new creation.
As ons kan begin verstaan dat die Heilige Gees met die volle krag wat genoeg was om Jesus uit die dood op te wek binne ons geesmens woon, saam met die ononderbroke konneksie na die Oorsprong van die Lewe, sal ons nie so maklik sê “ag ek is maar net ‘n sondige mensie nie”. Nee, ons is dood vir die sonde en ons lewe in Christus deur die Gees van die Lewende God. Dis geweldig kragtig.
Na wedergeboorte en doop:
- Die begeerte om te WIL is nou binne ons. Ons hoef nie meer te stoei om die Here se veronderninge te onderhou nie, die krag tot gehoorsaamheid is binne ons.
want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. (Fil 2:13)
- Ons begin om anders te dink en om anders na mense en situasies te kyk. Sekere vorige begeertes begin ook verander. Dit gebeur nie eensklaps nie.
- Ons kom agter dat daar steeds ‘n ander krag binne ons werk wat ons steeds wil kry om te oortree. Die Skrif het verskillende name hiervoor: ons sondige natuur, ‘n ander wet in ons lede en ons vlees. Dis alles woorde wat dieselfde ding beskryf. Om dieselfde terminogie te gebruik as in Deel 1: die virus in die mens.
- Die kuur vir die siektetoestand is nou binne ons. Hierdie ongeneeslike siekte waaraan die mens lei, kan nou van binne af doodgemaak word. Vir die eerste keer is die mens nou instaat om met sy sondige natuur te deel. Hy kan van binne-af weerstand bied sodat die siektetoestand heeltemal kan sterf. Dis ‘n proses.
- Daar is soms verwarring oor hierdie nuwe lewe omdat mense die dood van die gees en die dood van die sondetoestand as dieselfde ding sien. Die ou mens wat begrawe is, verwys na die gees wat dood gaan en nuut opstaan. Die vlees verwys na die sondige natuur (die virus). Dis nie dieselfde nie. Die eerste is dood, maar die laaste (vlees) leef steeds en dit is waarmee heiligmaking deel.
‘n Ander wet binne ons
Gewoonlik loop ‘n wederbore persoon op wolkies vir die eerste ruk. Die lug lyk blouer, die bome groener en die persoon se hart is vol vreugde en oorwinning. Na ‘n rukkie begin hierdie euforiese gevoel afneem en kruip verslawings, slegte taal, lus vir partytjies weer in. Dan kan so ‘n persoon maklik dink dat hulle nooit tot wedergeboorte gekom het nie. Bo-op die selfverwyt, kom verwyte van die kerk dat die persoon ‘n nuwe skepsel is en nie meer hierdie begeertes behoort te hê nie.
Paulus beskryf hierdie gebeurtenis in Romeine 7 (gaan lees asseblief die hele hoofstuk). Wat die persoon hierbo beleef is die virus (sondige siekte-toestand) wat hom steeds probeer kry om te oortree. Presies soos die Here vir Kain gesê het: “die sonde lê en loer en wil jou in sy mag kry”. Die gees is nuut, maar daar is ‘n vlees (sondige natuur) wat glad nie tevrede is met hierdie nuwe gees nie. Paulus noem hierdie ‘mag’ ‘n ander wet wat in sy lede is. Dis iets wat binne die mens is. Hierdie virus is nie dood saam met die doping in water nie. Dis steeds binne die weergebore persoon.
Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. (Rom 7:21-23)
Skematiese voorstelling
Hierdie is my eie skets van ‘n wedergebore persoon om beter te help verduidelik.
- Die mens bestaan uit gees, siel en liggaam.
- Die menorah stel die troonkamer voor van waar die Vader vir ons Goddelike lewe voorsien.
- Binne die gees van die mens is die goue kruik, die woonplek van die Heilige Gees.
- Die lyn tussen die menorah en die goue kruik, stel die ononderbroke pyplyn voor van waar ons Goddelike lewe ontvang.
- Die liggaam is heel regs. Vir nou wil ek glad nie op die liggaam konsentreer nie.
- In die middel van die diagram is die siel. Ek het dit nie as ‘n liggaam voorgestel nie, bloot omdat dit nie een is nie. Die Skrif praat net van ‘n natuurlike en van ‘n geestelike liggaam.
- In die siel kan jy die virusse sien. Dit verteenwoordig die sondige natuur of die vlees.
- Tussen die gees en die siel lê daar ‘n bruggie. Dit word die wil genoem. Die Bybel noem dit die hart. Met ons wil kies ons om vanuit die gees te lewe of vanuit die vlees.
Die volgende voorstellings is vanaf wedergeboorte tot met geestelike volwassenheid. Aan die begin is die mens se gees maar nog klein en jonk, ‘n baba. Die vlees is baie sterk en dis soms moeilik vir ‘n nuwe wedergeborene om weerstand te bied teen die versoekings van die vlees.
Namate die persoon deur die gees leef en nie deur die vlees nie, met ander woorde, met sy wil kies om aan die Here se wette op sy hart gehoorsaam te wees en nie toe te gee aan die vleeslike versoekings nie, groei sy gees en raak die mag van die sondige natuur al hoe minder.
Let in die volgende voorstellings op na die grootte van die gees en na die grootte van die virusse.
Sopas wedergebore:
Groei:
Verdere groei:
Geestelike volwassenheid:
Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. (Gal 5:16-18)
Die krag van die lewe in ons
Beide Paulus en Johannes het die krag tot oorwinning oor ons sondige natuur verstaan en maak hierdie stellings. Paulus sê dat ons onsself as dood vir die sonde moet reken. Dis amper asof hy sê dat dit net sowel is asof dit reeds oorwin is. Johannes gaan nog verder en sê dat ons glad nie meer behoort te sondig nie, inteendeel, as gevolg van die nuwe lewe in ons, kan ons nie meer sondig nie. Dis geweldige stellings en ons moet regtig vir die Heilige Gees vra vir insig sodat dit ons waarheid en realiteit kan word.
So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. (Rom 6:11). In die Amplified vertaling: Even so, consider yourselves to be dead to sin [and your relationship to it broken], but alive to God [in unbroken fellowship with Him] in Christ Jesus.
1 Joh 3:6 en 9: Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.
Om ons nie in self-veroordeling te bring nie, skryf Paulus ook dat wanneer ons nou sondig, dit die sondige natuur binne ons is.
Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. (Rom 7:17)
Na doping begin heiligmaking
Onmiddelik na doping, begin ons pad van geestelike grootword. Ons geesmens moet die vlak bereik van volwassenheid. Die doelwit is die mate van die volle grootte van Christus. Dis ‘n hoë doel en dis waarheen elkeen van ons oppad is. Ons kan nie stil sit en wag om hemel toe te gaan nie. Daar is werk wat gedoen moet word. Hier is ‘n paar Skrifte wat hierdie pad verduidelik. Daar is natuurlik baie meer in die sendbriewe. Let op al die aksies wat van ons kant af gedoen moet word.
Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. (2 Kor 7:1)
Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is… (Kol 3:5)
Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. (Gal 5:24-25)
Ons het ‘n voordeel
Die pad van heiligmaking is nie iets wat uit eie krag kom nie. Onthou dat die Heilige Gees in ons wil om te wil. Hy het reeds die volle oorwinningskrag binne ons geplaas. Ons het ‘n ononderbroke konneksie tot Goddelike lewe. Al hierdie dinge is tot ons voordeel en die resultaat is ons heiligmaking (‘sanctification’).
But now since you have been set free from sin and have become [willing] slaves to God, you have your benefit, resulting in sanctification [being made holy and set apart for God’s purpose], and the outcome [of this] is eternal life. (Rom 6:22)
Dis ‘n proses
Ek wil graag herhaal. Ons gees is nie outomaties groot net omdat dit nuut is nie. Geestelike grootword is ‘n proses en vereis ‘n aksie en samewerking van ons kant af. Ons word voordurend vernuwe na die mate wat ons loskom en vrykom van die ander wet in ons lede (die mag van die sonde)
and have put on the new [spiritual] self who is being continually renewed in true knowledge in the image of Him who created the new self—(Col 3:10)
en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. (Ef 4:23-24)
Drie soorte mense
Wanneer ons mense in kategorieë wil plaas op grond van die toestand van hulle geesmens, kan ons drie duidelike afdelings onderskei.
Eerste kry jy die persoon wat nie wedergebore is nie. Die Bybel verwys na hierdie persoon as die natuurlike mens. In Engels sal die term wees: unregenerate man. Skrifverwysing is Ef 2:3 en 1 Kor 2:14.
Die tweede kategorie is die wedergebore persoon wat leef uit vlees. Hierdie is die vleeslike persoon (Engels: carnal man). Paulus verwys ook na sulkes as babas soos in 1 Kor 3.
Laastens, en dis die kategorie waarin ons graag wil val, is die wedergebore persoon wat leef deur die gees. Dis die geestelike persoon (Engels: regenerate man / spiritual man). Vergelyk 1 Kor 2:15.
Die volgorde in Romeine
Dit was vir my so ‘n bevestiging toe ek gisteraand hierdie volgorde in Romeine ontdek het. Dit stem presies ooreen met die volgorde waarin ons die verbond bespreek het. ‘n Kortlikse opsomming:
- Hfst 4 Belofte aan Abraham en geloof
- Hfst 5 Sondetoestand en oplossing, Geloof is nodig, Jesus se kruisdood en bloed
- Hfst 6 Ons dood en begrafnis (doop)
- Hfst 7 Uit Ou Verbond in Nuwe Verbond, Ontdek ander wet wat stryd voer, Wat nou?
- Hfst 8 Oplossing: lewe deur die Gees
Daar is gebooie om te onderhou
Iewers het daar ‘n miskonsepsie ingekom dat mense onder die Nuwe Verbond nie gebonde is aan enige vorm van wetsonderhouding nie. Ek wonder of het dit nie ook iets te doen met humanisme en demokrasie nie. Wetsonderhouding vir ‘n humanistiese persoon, sal ondenkbaar wees. Die ander pool, is streng Torah-onderhouding. Beide faksies is verkeerd.
Tog is die Nuwe Verbond nie sonder gebooie nie. Die groot verskil is dat die wet van Moses en die wet van die Gees van die lewe nie dieselfde. Die wette wat op ons harte geskryf word, kan slegs die Heilige Gees vir ons lees, interpreteer en leer. Wanneer ons deur die Gees lewe, luister ons na die Heilige Gees en volg in gehoorsaamheid. Die Heilige Gees lei en leer ons elkeen verskillend volgens die seisoen waarin ons is. Hy waai waar Hy wil en soos Hy wil (Joh 3). Slegs die een wat deur die Gees leef, sal die werking van die Heilige Gees kan herken, nes ‘n mens die invloed van wind teen sy vel kan voel.
‘n Ander miskonsepsie is dat enige persoon wat iewers in sy lewe ‘n gebedjie agter iemand aangebid het, vir altyd gered is. Dis nie wat die Bybel ons leer nie. Die teken dat ons gered is, is nie die gebed nie. Dis wanneer ons gehoorsaam is aan die Here se gebooie. Watter gebooie? Die wat op ons harte geskryf staan. Hoe weet ons wat daar staan? Ons luister na die Heilige Gees.
Dus is die onderhouding van gebooie die vrug wat daarop dui dat ons die Heilige Gees se stem kan hoor en sodoende kan weet wat op ons harte geskryf staan.
En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.
Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (1 Joh 2:3,5)
En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het. (1 Joh 3:24)
Dis nie ‘n lewe op gevoel nie
‘n Woord van waarskuwing. Om deur die Gees te leef, het niks te doen met hoe ons voel nie. Net omdat iets vir ons lekker voel, beteken nie dat dit die regte ding is nie. Ons het broodnodig om die stem van die Heilige Gees te leer ken en te volg.
Pasop vir hierdie frase: “ek kan nie so of so nie, maar die Here ken my hart”. Elke keer wanneer ek dit hoor, dink ek aan hierdie Skrif is Jeremia 17:9: Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Ons kan nie op ons eie harte staatmaak nie. Ons moet deur ondervinding leer hoe die Heilige Gees se stem klink en wat vir die Here aangenaam is en wat nie.
En beproef wat die Here welbehaaglik is (Ef 5:10)
Amplied Vertaling: trying to learn [by experience] what is pleasing to the Lord
Ons kan die Heilige Gees vertrou
Bou aan jou verhouding met die Heilige Gees. Ons kan Hom vertrou. Solank as wat ons die regte ding wil doen, sal Hy ons reg lei.
U sal my die pad van die lewe bekend maak (Ps 16:11)
Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge (Ps 43:3)
Al wat ons nodig het, is ‘n gewillige hart en nederigheid. Wanneer ons in ‘n sekere rigting oppad is en die Heilige Gees ons anders lei en leer, moet ons kan buig, verskoning vra en van rigting verander. Al beteken dit ‘n vernedering voor mense.
Goddelike vrede is ‘n maatstaf
Een van die veilige metodes van toetsing, is om die Goddelike vrede binne ons as ‘n barometer te gebruik. Soms oortree ons in ‘n gesprek, dalk het ons van iemand geskinder en die vrede van die Heilige Gees lig van ons. Sodra ons bely, dan word die vrede herstel.
Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. (1 Pet 3:11)
En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. (Kol 3:15)
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (Fil 4:7)
Praktiese raad:
Partykeer wil ons meer prakties weet presies hoe werk lewe deur die Gees. Omdat elkeen van ons verskillend is en die Heilige Gees verskillend deur ons werk, is daar nie ‘n vaste resep nie. As daar was, sou dit nie in die vryheid van die Heilige Gees ingepas nie.
Tog is daar ‘n praktiese punte wat ons kan help:
Pasop om meegevoer te raak deur ander. Soms beland ons in die oomblik en raak meegevoer en dink dat sekere dinge die leiding van die Heilige Gees is. Miskien is daar ‘n seminaar, ‘n kamp of geld te saai. Almal besluit dalk op die oomblik om deel te hê. Moenie dadelik instem nie. Dit kan dalk gevoel wees en nie leiding van die Heilige Gees nie.
Los eers en bid daaroor. Gee dit ‘n paar dae kans terwyl jy dit biddend oorweeg. Wanneer dit van die Heilige Gees is sal die begeerte nie afneem nie, inteendeel, dit sal sterker word. Sodra ons dan gehoorsaam is, lig die drukking en ons Goddelike vrede word herstel. Dit is soos ‘n goeie manier om onsself te beoefen om die Heilige Gees se leiding te leer ken.
Nog ‘n manier is om Skrif te vra as bevestiging, veral wanneer ‘n groot besluit ter sprake is. Moet nooit groot besluite op gevoel neem nie. Dis selde wat ons vlees in dieselfde rigting wil trek as die Heilige Gees.
‘n Staande gebed moet wees dat die begeertes van ons hart, altyd in lyn sal wees met die Here se volmaakte wil.
Afsluiting
Ek sluit met dieselfde openingsvers af, hierdie keer uit die Amplified vertaling. Wanneer ons hierdie Skrif stadig en biddend lees, besef ons dat dit die hele kruks van die Nuwe Verbond verduidelik. Ek breek dit in verskillende lyne op.
In my eie woorde: Die wet van die Gees van die lewe wat ons slegs in Jesus Christus kan verkry het ons vrygemaak van die effek van die sondetoestand. Met ander woorde ons het nou Goddelike krag en lewe om dit te oorkom. Ons kon nie deur die onderhouding van die wet van Moses oorwinning oor hierdie sonde-toestand kry nie. Daarom het die Here dit kom doen wat die Torah nie kon regkry nie. Hy het Sy Seun gestuur as ‘n losprys vir ons sonde. Hierdie oorwinning is moontlik vir die wat deur die Gees lewe en nie deur die vlees nie.
For the law of the Spirit of life [which is] in Christ Jesus [the law of our new being]
has set you free from the law of sin and of death.
For what the Law could not do [that is, overcome sin and remove its penalty, its power]
being weakened by the flesh [man’s nature without the Holy Spirit],
God did:
He sent His own Son in the likeness of sinful man as an offering for sin.
And He condemned sin in the flesh [subdued it and overcame it in the person of His own Son],
so that the [righteous and just] requirement of the Law might be fulfilled in us
who do not live our lives in the ways of the flesh [guided by worldliness and our sinful nature],
but [live our lives] in the ways of the Spirit [guided by His power].
(Rom 8:2-4 AMP)