Die vervulling van die Groot Versoendag

25 September 2023, deur Yolandie Mostert

Die ongelooflike detail en fyn beplanning wat die Here in elke fees se simboliek ingebou het, laat my keer op keer stom. Die Groot Versoendag is geen uitsondering nie. Inteendeel, ek glo hier is nog soveel diepte om te ontdek. Ons moet nooit op die punt kom waar ons dink ons weet alles van alles nie. Daar is altyd dieper skatte en meer openbaring, solank as wat ons ‘n leerbare gees het.

 

Ons lees die eerste keer van hierdie fees in Levitikus 16. Aaron se twee seuns was pas doodgeslaan deur die Here omdat hulle ‘n vreemde offer gebring het. Die Here het toe met Moses gespreek om instruksie aan die priesterlike huis van Aaron te gee. Om voor YHVH te staan is nie sommer ‘n ligtelike saak nie. Hulle moes voorbereid gewees het. En dan volg die instruksie om eers ‘n offer te bring wat versoening moes doen vir die Aaron en sy huis. En daarna moes twee bokke geneem word. Een moes geslag word en die ander moes lewendig die woestyn ingestuur word.

Verdere instruksies met die datum van die fees word in Levitikus 23 gegee – die tiende dag van die maand Tishrei.

 

Ek wil in vandag se boodskap fokus op die twee bokke, sowel as hoe Jesus die vervulling van hierdie fees is. Terwyl ek besig was om voor te berei vir hierdie boodskap, kon ek nie help om te wonder oor die twee bokke nie. Hierdie is ‘n gedeelte in die Bybel wat ek al heelwat gelees het en ek het reeds verstaan dat Jesus die sondebok was wat ons sondes weggedra het. Maar dis asof die Heilige Gees iets dieper onder my aandag wou bring. Daar was iets omtrent hierdie twee bokke…

 

Die eerste bok:

Nadat Aaron versoening vir hom en sy huis gedoen het, moes hy twee bokke neem en moes ‘n lot oor hulle werp. Die eerste bok moes geslag geword het as ‘n offer. Die bloed moes opgevang word en dit moes gebruik word om die tabernakel te heilig. Hierdie was die enigste keer in die jaar wat die Hoëpriester verby die dik gordyn kon beweeg wat skeiding gemaak het tussen die Heilige en Allerheiligste.

Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon. (Lev 16:15-16) 

Wat vir my baie interessant was, is dat dit nie die volk was wat hierdeur versoen was nie, maar dit het versoening vir die heiligdom bewerk. Dit wil vir my blyk dat die heiligdom geaffekteer kon word as gevolg van die oortredings en sondes van die volk. Die tabernakel was in die middel van die volk opgeslaan. Wanneer ons deur modder stap, gaan ons klere vuil word. Dit was dalk dieselfde met die heiligdom. Die onreinheid van die volk het dalk soos modder aan die tabernakel gekleef en het die Lig en Lewe beperk wat moes uitstraal. Ek sê nie dit as ‘n feit nie, dis maar hoe ek dit op hierdie stadium verstaan.

Let ook op na die verwysing na oortredings en sondes. Die versoening gedoen was vir hierdie twee dinge.

 

Die tweede bok:

Hierdie bok was heeltemal anders hanteer. Nadat Aaron alles rakende die eerste bok afgehandel het, kon sy aandag verskuif na die tweede bok. Hy moes sy hande op die bok se kop gelê het terwyl hy die oortredings, sondes en ongeregtighede van die volk bely het. Daarna moes ‘n helper die bok in die woestyn ingelei het en die bok het die ongeregtighede van die volk weggedra. Geskiedenis vertel dat die bok oor ‘n afgrond gestoot was om seker te maak dit sterf en keer nie terug na die volk nie. Let wel dat hierdie die gebruik was, maar nie spesifiek in die Bybel voorgeskryf was nie.

en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los. (Lev 16:21-22) 

 

Hoekom die twee bokke?

Ek deel graag die lig wat die Heilige Gees tot dusver op hierdie fees vir my persoonlik geskyn het. Hierdie twee bokke vorm saam ‘n geheel. Dink aan die liggaam en bloed van Jesus, twee onderskeibare gedeeltes van die Verbondsmaal, terwyl dit ook as ‘n geheel saamwerk. Die liggaam van Jesus was verbrysel vir ons genesing en Sy bloed is gestort tot ons redding en heiligmaking. Wanneer ons dit terug trek na die twee bokke, kan ons die parallele sien. Die een bok verteenwoordig die liggaam van Jesus wat ons ongeregtighede weggedra het sodat ons genesing kan vind op gees, siel en liggaamsvlak. Die ander bok stel die bloed van Jesus voor wat die heiligdom moes reinig. Ons is die tempel van die Heilige Gees en die Bloed van Jesus reinig ons van alle sonde.

Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. (Jes 53:5-6) 

Ek wil jou aandag op sekere gedeeltes in hierdie twee verse plaas:

  • Hy is deurboor vir ons oortredinge – eerste bok.
  • Hy is verbrysel vir ons ons ongeregtighede – tweede bok.

Dit wil vir my blyk dat daar op verskillende maniere gedeel word met oortredings en sonde en met ongeregtighede. Die twee bokke het eenmaal per jaar ‘n geheel gevorm om met al drie hierdie aspekte af te reken.

 

Oortredinge, sondes en ongeregtighede

Die onderskeid tussen hierdie drie woorde en dit het verskillende betekenisse en implikasies, is ‘n aparte lering. Dis baie belangrik om die verskil te verstaan. Dan sal baie wanpersepsies oor generasie seëninge en vloeke ook uit te weg geruim word.

In baie kort:

  • Oortredinge (trespass): die aksie of handeling bv. om ‘n pen te steel.
  • Sonde (sin): die mens se sondige natuur of toestand wat hom dryf om oortredinge te begaan. Almal ly aan hierdie kondisie. Ons het dit by Adam geërf.
  • Ongeregtighede (iniquities): wanneer oortredinge nie bely word nie, word die effek daarvan oorgedra na die volgende generasie.

Ek sal later ‘n skakel deel na die lering oor hierdie onderwerp.

 

Tydelike behandeling van die mens se sondige natuur:

Die sondige natuur wat ingekom het toe Adam en Eva oortree het, het tot op DNA vlak die mens besoedel. Ons kan dit vergelyk met ‘n ongeneeslike siekte. Met elke generasie het die effek hiervan toenemend erger geraak. Deur die loop van die jaar het oortredings opgebou en die sondige toestand het erger geword. Mense het al hoe vroeër begin sterf en die aarde het al hoe minder vrug opgelewer. Totdat die tyd sou kom vir die volmaakte offer van Jesus Christus, het die jaarlikse offers op die Groot Versoendag, hierdie negatiewe effek minder gemaak. Dis amper asof die mensdom ‘n wonderkuur ontvang het om die simptome van ‘n ongeneeslike siekte te kon omdraai. Dit was die belangrikheid van hierdie jaarlikse fees. In die volgende jaar het die mensdom weer oortree en die sondetoestand het weer erger geword. Tot die volgende Groot Versoendag. Dit het so aangehou totdat Jesus die eenmalige offer geword het.

 

Jesus is die vervulling

Behalwe dat beide bokke deur die deurboorde en verbryselde liggaam van Jesus vervul was, het Jesus ook die rol van die Hoëpriester vervul. Hy is beide die Hoëpriester wat ingegaan het, sowel as die offers wat gebring was. Die boek van Hebreërs, veral hoofstuk 9 en 10, verduidelik hierdie vervulling baie mooi.

Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen. (Heb 9:24-26) 

 

Vir die Here en vir Asásel?

Ons vind hierdie vreemde vers in Levitkus 16. Dit het oorsprong gegee aan baie spekulasies en amper mistiese betekenisse. Wie of wat is hierdie Asásel?

En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel (Lev 16:8) 

Baie mense gaan haal die woord uit die apokriewe boek van Henog as een van die gevalle engele. Hierby word beweer dat hierdie bok vir een of ander rede die duiwel moes tevrede stel. Hierdie verduideliking pas geensins in met die boodskap van die Bybel nie. Ek dink nie dis nodig dat ons te diep in hierdie rigting hoef te delf nie. Dit mag dalk net die deur oopmaak vir Kabbalah (Joodse mistiese).

Ander sê weer dat dit ‘n verlate plek in die woestyn was. Wanneer ons na die Strongs woordeboek kyk, gee dit die volgende betekenis: ‘goat of departure’ – die bok wat weggestuur was. Hierdie is die enigste hoofstuk in die Bybel waar hierdie woord voorkom. In Engels word dit vertaal as ‘scapegoat’.

Daar is ook mense wat sê die een bok was Jesus en die ander bok stel Barrabas voor wat vrygelaat was. Persoonlik voel ek dit is om ‘n betekenis te gee wat bloot nie pas nie. Soos om ‘n legkaartstuk op ‘n verkeerde plek uit desperaatheid in te forseer.

In hierdie boodskap wil ek nie regtig fokus op Asasel nie, maar op die twee bokke. Ek glo die Heilige Gees sal self die lig hierop werp vir ons elkeen persoonlik indien nodig.

 

Profetiese vervulling:

Die Groot Versoendag is die sesde fees van sewe. Daar is ‘n toekomstige vervulling wat steeds in die toekoms lê. Ter wille van spasie, sal ek ‘n aparte boodskap doen om te verduidelik hoe hierdie fees verder vervul gaan word tydens die Dag van die Here. Indien jy nie bekend is met Dag van die Here nie, doen asseblief jou eie navorsing uit die Bybel. Ek het ook ‘n lering beskikbaar op die onderwerp. ‘n Baie groot gedeelte van die Bybel praat van hierdie Dag en tog is dit iets waaroor bittermin indien ooit geleer word.

 

Hoe vier ons die Groot Versoendag?

Van al die feeste was hierdie een die ernstigste. Die volk is opgeroep tot ‘n dag van verootmoediging. Die Jode vas steeds vandag 26 uur kos en water.

Ons wat gewas is deur die Bloed van Jesus, het nie nodig swaarmoedig op hierdie dag te wees nie. Dis ‘n dag van vreugde en dankbaarheid. Ons vier vandag Jesus Christus se eenmalige offer.

Vir ons persoonlik, is dit ‘n vasdag. Maar dis ‘n dag waarop ons kos eenkant toe skuif sodat ons kwaliteittyd in die Allerheiligste mag spandeer. Die hoëpriester moes deur soveel rituele en stappe gaan net sodat hy veilig kon toetree. Jesus het vir ons ‘n nuwe, lewende weg gemaak. Ons mag ingaan tot in die diepste plek van die teenwoordigheid van YHVH en tog kies so baie mense om eerder in die voorhof rond te speel. Mag ons nooit hierdie voorreg as ligtelik sien nie.

Dis ook ‘n dag van vergifnis omdat ons vergewe is. Laat ons nie die jaar ingaan met ‘n wortel van bitterheid nie. Dit neem introspeksie en die Lig van die Here om werklik te wys wat in ons harte aangaan. Ons is so vinnig om te sê: ‘ek het nie onvergifnis of bitterheid nie’. Kom ons laat toe dat die Heilige Gees die Lig van waarheid in ons harte skyn.

Vandag bid ons ook vir die redding van elke mens. Ons het waaragtig nodig om ‘n hart te kry vir verlore mense. Hoe anders gaan ons kan aanmeld om die oes te help insamel?

 

Ek sluit hierdie boodskap af met Hebreërs 10:19 en verder.

Die skrywer beskryf ‘n aantal dinge wat ons moet doen omdat ons hierdie wonderlike voorreg het dat Jesus vir ons die weg gemaak het tot in die Allerheiligste. Ek gaan dit voorlees en net hier en daar ‘n kommentaar byvoeg.

Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, (Heb 10:19-21) 

Nou volg wat ons moet doen:

Ons moet toetree. Dis ons werk om self nader te kom in opregtheid en geloof.

laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. (Heb 10:22) 

Ons moet die bloed van Jesus aanwend sodat ons met rein harte en hande kan toetree. Ek dink ons is baie vermetel om die heiligheid van die Here gering te ag. Aaron se twee seuns is doodgeslaan omdat hulle hulle eie ding wou doen. Dis rebellie. Ons het nodig om in die Here se orde in te skuif. Hy is steeds ‘n heilige God. Dit het nog nooit verander nie. Dis nie ons eie geregtigheid wat maak dat ons kan ingaan nie. Dis slegs die bloed van Jesus. Mag ons dit nooit vergeet nie. Ons heilige God vereis ‘n lewe van heiligmaking (1 Pet 1:15-16).

Hy gaan voort om te beskryf wat ons reaksie op Jesus se wonderlike offer moet wees:

en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. (Heb 10:24-25) 

Ons vertikale verhouding met die Here word altyd beinvloed deur ons horisontale verhouding met mense. Ons kan nie die een sonder die ander hê nie. Ons is verkeerd as ons sê ‘ek het net ‘n saak met die Here, en nie met mense nie’. Dis nie wat die Bybel leer nie. Ons behoort mekaar aan te moedig. Ons moet gereeld en getrou bymekaar kom sodat ons mekaar kan opbou en ondersteun. Nie net om woord of seëninge te ontvang nie, maar om iets van onsself te gee. Anders is ons pleinweg ongehoorsaam en ondankbaar vir dit wat Jesus vir ons gedoen het.

En dan laastens:

Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie (Heb 10:26) 

Laat ons nooit die duur prys wat Jesus Christus vir ons betaal het, minag nie. Laat ons altyd dankbaar wees. Mag ons vandag feesvier en juig met vrees en bewing voor hierdie wonderlike God voor wie ons mag staan.

 

Mag jy vandag ‘n ‘Maria by Jesus se voete’ ervaring in die skuilplek van die Allerhoogste hê. En mag Hy jou in hierdie nuwe seisoen dieper en dieper in Sy hart intrek totdat jy leef op die hartklop van YHVH.

 

Shalom!

css.php