Yolandie Mostert (20 Augustus 2022)
Hierdie is die tweede deel van ‘n reeks oor die Verbond. Deel 1 het die Ou Verbond verduidelik. Kliek hier om eers daardie lering deur te werk.
Die Ou Verbond opgesom
Hierdie is ‘n BAIE verkorte opsomming van dit wat ons in die vorige deel bespreek het:
As gevolg van die eerste oortreding deur Adam, het sonde in die mens ingekom. Die mens kon nie daarvan ontslae raak nie. Die toestand van sonde het veroorsaak dat die mens meer oortree het en so het die situasie erger en erger geraak. Hierdie sondige toestand het veroorsaak dat die mens geestelik gebreklik of skeefgetrek geraak het. Die Here het ingegryp om die mens te red uit hierdie sondige spiraal.
Die metode wat die Here gekies het was ‘n verbond. Hierdie verbond is oor ‘n verloop van vier honderd jaar gesluit.
Heel eerste het die Here vir Abram ‘n belofte gegee (Gen 12). Paulus en die ander apostels verwys telkemale terug na hierdie belofte: “In jou sal al die nasies geseën word”.
Die eerste stap was in Abram se leeftyd en die tweede stap was tydens Moses se leeftyd. Die eerste stap het die verdeling van die diere behels en die Here het in die vorm van ‘n rokende oond en vurige fakkel gemanifesteer (Gen 15). In Genesis 17 kom die besnydenis by as ‘n teken van die verbond.
Die tweede stap was by die berg Horeb waar die volk die wet ontvang het. Die Here het in dieselfde vorm verskyn: die berg het gerook soos ‘n oond (Eks 19).
Die doel van die Ou Verbond was om die mens te help om op die aarde suksesvol en geseënd te kan leef ten spyte van die vloek op die aarde en die mens se skeefgetrekte kondisie. Die wet het met die simptome van sonde gedeel, maar nie met die redding van sonde nie.
Die finale oplossing om met sonde af te reken was nog altyd hartsbesnydenis, met ander woorde, bekragtiging van binne sodat ons die Here kan dien. Die eerste belofte hiervan lees ons reeds in Deut 30. Die profeet Jeremia praat ook daarvan in Jer 31.
And the LORD your God will circumcise your heart and the hearts of your descendants [that is, He will remove the desire to sin from your heart], so that you will love the LORD your God with all your heart and all your soul, so that you may live [as a recipient of His blessing]. (Deut 30:6 AMP)
Hoekom praat ons oor die Verbond
Vir baie jare het ek nie die Verbond verstaan nie. Daar is regtig ‘n gaping in die kerk om hierdie beginsels vir mense te leer. Wanneer daar wel leringe beskikbaar is, word dit nie regtig verduidelik dat ‘n gewone mens dit kan verstaan nie. Ek glo as ek baie vroeër in my pad met die Here hierdie fondasie beginsels behoorlik verstaan het, ek baie minder foute sou maak en baie minder vatbaar sou wees vir misleiding.
- Die Verbond vorm ‘n grondslag van ons geloof. Dit verduidelik wat ons glo en hoekom ons dit glo.
- Dis belangrik om te weet wat ons glo en hoekom ons dit glo. Dit help jou om standvastig te wees.
- Dit beskerm jou teen misleiding van twee kante af, aan die een kant goedkoop genade en aan die ander kant wettiesheid.
- Om die Verbond te verstaan en hoe ‘n lewe gelei deur die Heilige Gees werk, bring ongelooflik vryheid.
- Dit gee rigting.
- Dit help jou om die Bybel te verstaan. ‘n Baie groot gedeelte van die sendbriewe gaan oor hierdie einste onderwerp. Ek het vir jare baie diep beginsels misgelees bloot omdat ek dit nie in konteks kon plaas nie.
Die belofte aan Abraham
Abraham verkry ‘n belofte in Genesis 12. Hierdie belofte en die volgorde van wanneer dit gegee is in verhouding met die verbond is ‘n groot sleutel om die Skrifte te verstaan. Die belofte is dat al die nasies geseën sal word deur Abraham. Hierdie is ‘n belofte van ‘n toekomstige Messias wat vir die heidene ook ‘n kans tot redding sal gee.
Hierdie belofte was gemaak voordat enige verbondsluiting begin het. Ook voor die gee van die wet. Omdat Abraham die Here geglo het, met ander woorde, die belofte wat aan hom gemaak is, is dit hom tot geregtigheid gereken.
Abraham se geregtigheid het dus gebeur lank voordat enige verbond of wet gekom het.
En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. (Gen 12:3)
Paulus verwys in die volgende Skrifte na hierdie belofte:
sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang. (Gal 3:14)
Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ‘n belofte genadiglik geskenk. (Gal 3:18)
En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename. (Gal 3:29)
Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. (Rom 9:8)
Die doel van die Ou Verbond
Hierdie paragraaf is ook ‘n herhaling en kortlikse opsomming van die vorige lering. Ons lees in Deut 29:9 wat die doel van die Ou Verbond was.
Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.
- Dis ‘n resep om suksesvol te lewe ten spyte van die sonde-toestand wat in die mens geheers het vanaf Adam
- Om die wet te onderhou kon nog nooit niemand red nie. Die Skrifte maak dit baie duidelik.
- Die Here is heilig. Om in Sy teenwoordigheid te kom en nie verteer te word nie, vereis heiligheid. Die wet het die vereistes gelys vir ‘n mens om heilig te kan wees. Sou die mens suksesvol kon wees om elke instruksie in die wet te onderhou, sou die mens in die Here se heilige teenwoordigheid kon kom en nie sterf nie.
Die Wet is ‘n geheel
Ons is geneig om die Torah te lees as 613 individuele wette. Dis nie hoe die Skrif na die wet verwys nie, die wet word gesien as ‘n geheel, nie indivuele gebooie waaruit die mens kan kies watter om te gehoorsaam en watter nie. Dis of alles, of niks. As jy een ding mis, kom jy onder die vloek van die wet.
Gal 3:10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.
Redding is slegs deur geloof
Die volgende vraag is taamlik eenvoudig om te antwoord: “Hoe word mense gered onder die Nuwe Verbond?” Die meeste mense sal een van die volgende antwoord: genade, geloof, die kruisdood en die Bloed van Jesus.
Wanneer dieselfde vraag gevra word, maar rakende die Ou Verbond: “Hoe was mense gered onder die Ou Verbond?”, raak dit moeiliker om te antwoord. Vir baie jare het ek geglo dat dit deur die besnydenis en onderhouding van die wet was. Groot was my verbasing toe ek uitgevind het dat ek dit verkeerd verstaan het. Die Bybel maak dit op meer as een plek duidelik dat die onderhouding van die wet niemand kan red nie.
Mense onder die Ou Verbond was ook gered deur geloof. Nie geloof in die Messias wat gekom het nie, maar geloof in God en in die belofte gemaak aan Abraham.
Geregtigheid was nogal altyd slegs deur geloof.
Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
Ons almal ken hierdie Skrif baie goed. Maar konteks is ongelooflik belangrik wanneer ons die Skrifte bestudeer. Hierdie vers is in die middel van ‘n bespreking oor mense in die Ou Testament se geloof. Die skrywer van Hebreërs begin by die skepping en hoe geloof ‘n hoofrol gespeel het deur die eeue. Hy lys eers Abel, Henog, Noag, Abraham tot by Samuel in vers 32. Dan vervolg die lys in vers 33 waar die martelare onder die Nuwe Verbond gelys word. Hy maak geen onderskeid tussen Ou Verbond en Nuwe Verbond in sy bespreking nie.
Neem die tyd en lees die hele 11de hoofstuk van Hebreërs, asook Romeine 4.
Heb 11:1-2 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.
Wie is kinders van Abraham?
Tydens die Ou Verbond, glo ek die mensdom kon as volg ingedeel word:
- Die heidense nasies. Hulle was uitgesluit uit die Ou Verbond en kon slegs deur besnydenis en bekering tot die Jodedom gered word.
- Alle Jode wat besny is (die fisiese nasate van Abraham wat teken dra). Wanneer ons die profete lees, kan ons sien dat nie almal wat fisies besny was die Here gedien het nie. Die grootste gedeelte van Israel en Juda was afvallig. Hulle afvalligheid het vir hulle onbesnedenheid geword.
- Laastens was daar die Jode wat geglo het en daarom die wet onderhoud het. Hulle was die kinders van die belofte onder die Ou Verbond. ‘n Oorblyfsel. Hulle het die Messias verwag en hulle lewe ingerig rondom hierdie verwagting.
Die indeling in die Nuwe Testament lys so:
- Dit is alle nie-Jode wat nie glo in Jesus Christus as die Messias nie.
- Dan alle Jode wat besny is, met ander woorde die fisiese nasate wat fisiese teken van die besnydenis dra. Hierdie groep reken hulleself geregverdig as gevolg van die besnydenis, maar deur hulle ongeloof in die Messias het hulle besnydenis onbesnedenheid geword.
- Naam-Christene. Dis diegene wat met die mond sê dat hulle glo in Jesus Christus, maar daar is geen lewe deur die Gees van God nie.
- Gelowiges – diegene wat glo in Jesus Christus as Messias en daarom aktiewe dissipels van Hom is. Hulle is die ware kinders van die belofte. Die oorblyfsel. Hierdie groep het deel aan die Nuwe Verbond.
Besnydenis was nie ‘n kaartjie hemel toe nie
Rom 2:25 Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy ‘n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword.
Rom 2:28-19 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Aktiewe geloof
Die manier hoe ons die woord geloof gebruik, laat dit soos iets klink wat jy besit (‘n selfstandige naamwoord). Geloof volgens die Bybel is nie net iets wat jy besit nie, dis ‘n aktiewe vertroue in iets wat jy nie kan sien nie, dis ‘n besluit en gepaardgaande aksie.
Geloof sonder aksie is nie geloof nie
Jak 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
Daar is ‘n wanpersepsie dat enige een wat net weet dat daar iemand met die naam Jesus geleef het en gesterf het vir hulle sonde, gered sal word. Dis nie waarheid nie. Geloof volgens die Bybel is aktief – dit verander jou.
Lewe deur geloof
Ons is almal baie bekend met hierdie Skrifgedeelte: die regverdige sal uit die geloof lewe. ‘n Mens kan sê dis ‘n doktrinale beginsel. Tog besef bitter min mense, dat Paulus hier ‘n aanhaling uit die Ou Testament maak. Hy haal die profeet Habakuk aan.
Gal 3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.
Hab 2:4b Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.
Dis baie maklik vir ons om te verstaan dat redding in die Nuwe Verbond deur middel van geloof plaasvind, maar tog so moeilik om in te sien dat dit nog altyd so gewerk het. Toe Jesus op aarde geleef het, het Hy meer as twintig keer vir mense gesê “jou geloof het jou gered”. Al hierdie mense was onder die Ou Verbond.
Hand 15:9 En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.
Rom 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Geregtigheid deur geloof
Die Amplified Vertaling stel Romeine 3:30-33 baie mooi:
Or is God the God of Jews only? Is He not also the God of Gentiles [who were not given the Law]? Yes, of Gentiles also, since indeed it is one [and the same] God who will justify the circumcised by faith [which began with Abraham] and the uncircumcised through [their newly acquired] faith. Do we then nullify the Law by this faith [making the Law of no effect, overthrowing it]? Certainly not! On the contrary, we confirm and establish and uphold the Law [since it convicts us all of sin, pointing to the need for salvation].
Ons lees in Romeine 9:31-33 dat Israel geregtigheid gemis het omdat hulle gelo
terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Verskil in termes
Hierdie tabel is my opsomming van die verskille tussen die Ou en die Nuwe Verbond. Hiermee verklaar ek geensins dat dit ‘n volledige lys is nie, dis bloot ‘n manier om dit maklik te kan verstaan.
Heb 7:18-19 Want aan die een kant is daar die opheffing van die voorafgaande gebod weens die swakheid en nutteloosheid daarvan, omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader.
Ou Verbond | Nuwe Verbond |
Geloof in die belofte aan Abraham | Geloof in Jesus Christus |
Fisiese besnydenis | Hartsbesnydenis |
Kliptafel-wet-onderhouding | Vleestafel-wet, lewe deur die Gees |
Geheilig deur die wet (bloed van die offers) | Geheilig deur die Bloed van Jesus |
Sonde voorkomend | Sonde behandelend |
Interim oplossing | Finale oplossing |
Swak en nutteloos | Beter hoop om tot God te nader |
Fisiese nasate v. Abraham (Joodse nasie – die wat uit geloof die wet gehoorsaam) | Geestelike nasate v. Abraham (Gelowiges in Jesus Christus wat deur geloof deur die Gees lewe. |
Oud (obsolete) en naby verdwyning (Heb 8:13) | Die mensdom se enigste hoop tot redding |
Prentjies deur Paulus geskets
Wanneer ons Paulus se briewe en verduidelikings lees, kan mens amper sy radeloosheid met die gemeentes aanvoel. Hy gebruik verskeie voorbeelde om die verskil tussen die twee verbonde te verduidelik. Hier is ‘n kortlikse opsomming van sommige van die vergelykings.
Die wet was soos ‘n onderwyser (tugmeester)
Hy vergelyk die wet met ‘n onderwyser wat kinders die verskil tussen reg en verkeerd leer. Die wet onderrig en dissiplineer ons, terwyl dit die pad wys na Jesus Christus toe. Hy verduidelik dan verder dat die onderwyser nie meer nodig is wanneer Jesus gekom het nie. Jesus is immers die een waarna die wet verwys het.
Gal 3:24-25 (AMP) – Now before faith came, we were kept in custody under the Law, [perpetually] imprisoned [in preparation] for the faith that was destined to be revealed, with the result that the Law has become our tutor and our disciplinarian to guide us to Christ, so that we may be justified [that is, declared free of the guilt of sin and its penalty, and placed in right standing with God] by faith. But now that faith has come, we are no longer under [the control and authority of] a tutor and disciplinarian.
Die wet was soos ‘n voog vir ‘n minderjarige
Die volgende vergelyking is nie ‘n onderwyser nie, maar ‘n voog wat aangestel is oor ‘n minderjarige erfgenaam. ‘n Minderjarige kind het nog nie die vermoë om sy erfdeel in besit te neem nie. Hy is bloot nog nie oud en wys genoeg nie. Sodra hy die regte ouderdom bereik, kan hy optree as ‘n volwassene en is die voog nie meer nodig nie. Hy staan dus nie meer onder beheer van die voog nie.
Gal 4:1-5 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
Ismael en Isak
‘n Ander vergelyking wat Paulus tref is die verskil tussen Isak en Ismael.
Isak was die seun, verkry deur die belofte wat die Here aan Abraham gemaak het. Hy was ‘n wonderwerk-baba, verkry deur geloof. Dit was ‘n werking van die gees, nie van die vlees nie. Isak staan vir vryheid. Daar is niks wat die mens kan doen om sy geregtigheid te verdien nie nie, dit was slegs genade. Geloof in die belofte.
Ismael aan die ander kant, was ‘n kind wat verwek was deur menslike planne. Abraham en Sara het sake in eie hande geneem. Dit was vlees, nie gees nie. Dit kan vergelyk word met werke van die wet en hoe die mens deur die onderhouding daarvan probeer om sy eie geregtigheid te verdien. Dis nie uit geloof nie, maar slawerny.
Gal 4:22-24 Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte. Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde:
Die verskil tussen die Ou en Nuwe Verbond
Dis heel eenvoudig om te bepaal wat die inhoud van die Ou Verbond is. Ons hoef bloot die wet van Moses (Torah) in die eerste vyf boeke van die Bybel te lees.
Wanneer dit by die Nuwe Verbond kom, begin mense klei trap. Daar is twee hoof faksies. Aan die een kant is daar die groep wat glo dat die inhoud van die Nuwe Verbond woord vir woord dieselfde is as dié van die Torah. Die ander groep glo dat daar geen meer voorskrifte is nie, die mens kan leef en maak soos hy wil want hy is onder genade en nie onder die wet nie. Tussen die twee ekstreme lê ‘n verskeidenheid interpretasies.
Die termes en voorskrifte van die Nuwe Verbond word op die binneste van die weergebore mens geskryf. Dis waarna ons verwys as hartsbesnydenis. Die Heilige Gees, wat binne die gelowige woon, leer en interpreteer die inskrywings van die Nuwe Verbond vir die mens. Dis wat dit beteken om te lewe deur die Gees. In ‘n volgende lering gaan ons in diepte hierna kyk.
Vir nou wil ek fokus op die inhoud van die Nuwe Verbond.
Die inhoud is verskillend
In Deut 12:32 lees ons die volgende: Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.
Kom ons lees nou Mattheus 5. Jesus is aan die woord oor die onderwerp waaroor ons vandag praat. Jesus is die vervulling van die wet. Die aanvanklike belofte was oor Hom en al die instruksies lei na Hom toe.
Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. (Matt 5:17)
Dan vervolg Jesus en gee 6 voorbeelde. ‘n Wetgeleerde sou Hom kon beskuldig van oortreding van byvoeging tot die wet (Deut 12:32). Wat is Jesus besig om hier te leer? Hy leer ons die verskil tussen die twee verbonde.
Die wet van Moses sê sus en so, maar Ek sê vir julle…. En dan die volgende voorbeeld – ses keer. Dis hieruit baie duidelik dat die inhoud onmoonlik dieselfde kan wees. Die inhoud van die Nuwe Verbond is eintlik baie dieper as die van die Ou Verbond – dit deel met die kondisie en die motief van die hart, nie net die uiterlike reg en verkeerd nie.
Die volgorde is belangrik
Die Nuwe Verbond bestaan ook uit termes en instruksies, nes die Ou Verbond. En nes die Jode, kan ons dit so maklik verkeerd kry wanneer ons ons geregtigheid wil verdien deur die reëls te hou. Dis so belangrik dat ons die volgorde reg kry. Die mens kon en sal nooit deur ‘n lys van reëls te hou, geregverdig wees voor die Here nie. Ons geregtigheid kom altyd deur ons geloof in Jesus Christus.
Die volgorde moet wees: eerste geloof wat saam met liefde vir die Here en vir ons naaste werk. Dan volg werke OMDAT ons Hom liefhet. ‘n Ander manier om na werke te verwys is gehoorsaamheid aan die instruksies wat die Heilige Gees vir ons gee. Onthou, lewe deur die Gees, beteken dat die Heilige Gees die inhoud van die Nuwe Verbond vir ons leer en interpreteer. Omdat ons die Here ons God liefhet en omdat ons ons naaste liefhet, gaan ons oor tot aksie en is gehoorsaam (werke). Instruksies is goed, maar moet die resultaat wees van ons geloof en nie die manier tot redding nie.
Ons kan absoluut NIKS doen om redding te verdien nie.
Wanneer ons die volgorde verkeerd kry en ‘n lys van reëls voor geloof en liefde plaas, beland ons presies waar die gemeente van Galasië beland het. In dooie werke en ‘n lewe deur die vlees.
Om ‘n lysie van reëls te hou, maak jou nie heilig of regverdig nie.
Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. (Gal 2:15-16)
Hoe raak ons deel van die Nuwe Verbond?
Die enigste manier is deur geloof in Jesus Christus wat gesterf het vir ons sonde en opgestaan het uit die dood. Wanneer ons glo (aktiewe geloof), skryf die Here sy wet op ons hart. Slegs dan kan ons lewe deur die Gees. Dis wat ons noem hartsbesnydenis.
Rom 7:6 Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
Ons kan nou weer lees wat die profeet Jeremia geskryf het:
Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. (Jer 31:31-34)
Van binne ons
Die Nuwe Verbond werk van binne af. Deur die genade van die Vader, stel Hy ons in staat om Hom te kan dien. Hy weet dat ons dit nooit deur eie pogings sal kan regkry nie. In elk geval bewerk eie pogings hoogmoed.
Sy wet is nou binne ons. Die sleutel is om te leer hoe om deur die Gees te lewe en om die stem van die Heilige Gees te herken. Hoe anders sal ons kan weet wat op ons binneste geskryf staan?
Omdat mense nie die stem van die Heilige Gees ken nie, maak hulle baie keer staat op die inhoud van die klip-Torah. Dis immers makliker om ‘n lys van instruksies te lees en nie die tyd te neem om by die Gees van God te hoor nie. Dit bewerk hardheid en maak die deur oop vir die godsdiensgees. Die mens raak dan wetties, hard en krities. Die wortel hiervan is trots.
Vervulling van die wet
‘n Wetgeleerde vra die volgende vraag vir Jesus in Mattheus 22:36. Jesus antwoord hom en voeg dan ‘n laaste sin by: hieraan hang die hele wet en die profete. Kom ons kyk so bietjie dieper hierna.
Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
Wanneer jy iets soos ‘n jas of ‘n hoed wil ophang het jy ‘n voorwerp nodig waaraan die jas of hoed kan hang. Jy het ‘n kapstok of ‘n haak teen die muur nodig. Die kapstok moet eers daar wees voordat jy die jas kan ophang. Jesus vergelyk die liefde vir die Here en vir ons naaste met die kapstok. Dit moet heel eerste daar wees. Eers wanneer jy die liefde (kapstok) in plek het, is jy gereed om die wet en profete (die jas of hoed) te kan onderhou. Die wet kan nooit voor die liefde kom nie.
Inteendeel, wanneer jy volmaak is in liefde, het jy nie eers die veronderninge van die wet nodig nie, want deur jou liefde, het jy die hele wet onderhou. Hetsy dit die klip torah is of die vlees torah.
Liefde is die vervulling van die wet.
Die liefde
Verdere Skrifte rakende liefde as vervulling van die wet:
Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk. (Gal 5:6)
Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. (Gal 5:13)
Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (Gal 5:14)
Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. (Rom 13:8)
Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (Rom 13:9)
Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. (Rom 13:10)
Sela!
Deel 3
In die volgende deel oor die verbond, gaan ons na die volgende kyk:
- Watter wette is dan op ons van toepassing
- Wat beteken werke onder die Nuwe Verbond
- Wat beteken lewe deur die Gees
- Kan ons net glo en doen wat ons wil