Die toneelstuk

Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

 

Salomo het die pragtige boek Hooglied soveel eeue gelede geskryf. Deur die inspirasie van die Heilige Gees, het hy sonder dat hy dit besef het, glo ek, die mooiste en diepste simboliek in die storie ingeweef. Hoe kon hy geweet het dat die Bruidegom-Koning eintlik besig was om ‘n liefdesbrief in kodetaal aan Sy reine bruid te skryf?

Die fases, groei en praktiese toepassing bly steeds vir my verstommend. Na vyf jaar van intense bestudering en lering gee uit die boek Hooglied, is daar nog so baie versteekte skatte. Hoe meer ons soekend en biddend bestudeer, hoe meer waarhede sal ons ontdek.

 

Terwyl ek besig was om voor te berei vir ons eerste een-dag seminaar, het ek die onmoontlikheid van die saak besef. Daar was soveel om in een dag in te prop. ‘n Naweek is dan nie eers gewoonlik genoeg om alles uit Hooglied te kan deel nie. Ek was biddend vir leiding; hoe hanteer ek dit, wat sit ek in en wat los ek uit?

Die Heilige Gees herinner my toe dat Salomo die boek as ‘n toneelstuk geskryf het en dat ek dit kan oordra asof ek die toneelstuk bygewoon het en nou vir ‘n vriendin oor ‘n koppie koffie alles vertel wat ek gesien en beleef het.

 

Elke opvoering het ‘n verhoog. Die dekor op die verhoog word opgemaak om by die storie te pas. Sodra die gordyn lig, kan die fyn beplande dekor gesien word en word die kyker dadelik verplaas tot binne-in die toneel.

In ‘n toneelstuk is daar karakters wat dialoog voer. Soms is daar stemme van karakters wat nie gesien kan word nie, maar wat ‘n integrale rol in die verhaal speel. Wanneer ‘n verhoog bietjie meer tegnologies gevorderd is, kan die dekor op die verhoog skuif en plek maak vir nuwe tonele.

Dis baie opwindend om op hierdie manier na Hooglied te kyk en dit maak dit ook makliker om vir onbekende lesers die boek te verduidelik.

 

Ek gaan dus voor elke bespreking eers die toneel se agtergrond, dekor en gevoel probeer skets. Maak jou oë vir ‘n rukkie toe en leef jou in die storie in. Laat toe dat die Heilige Gees die dekorstukke wat op jou van toepassing is, uitwys.

 

Omdat die taal van Hooglied baie simbolies is, gaan baie van die besprekings in hierdie boek ook alegories van aard wees. Wanneer ek onder leiding van die Heilige Gees begin tik, vloei die pragtigste poësie, vergelykings en beskrywende woorde. Die taal is sag, vloeiend en kleurvol.

Aanvanklik het ek gewonder waarom daar soveel vergelykings is. Sou dit nie makliker gewees het om ‘n saak net kort en kragtig te stel nie. Ek het die Heilige Gees geraadpleeg. As ‘n antwoord op my vraag het die Heilige Gees my herinner aan die hoeveelheid simboliese taal regdeur die Bybel. Die profete se skrywe het meestal met ingekleurde vergelykings gepaard gegaan. Baie van Jesus se woorde was in die vorm van gelykenisse. Tot aan die einde van Openbaring, kan ons sien hoe die Vader ‘n behae het in woorde wat prentjies skets.

My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer. (Ps 45:2) 

Mag die skets van die toneelstuk Hooglied die boek vir jou op ‘n nuwe en vars manier oopbreek tot eer van Sy Naam.

 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.

css.php