Die Swaard uit Sy Mond

Terwyl ek vandag gebid het, was die Heilige Gees se leiding baie sterk om Skrifte hardop te bid. Soos wat ek aangehou het om Psalms op te sê en Skrifte wat by my opgekom het, kon ek ervaar hoe die krag van die Heilige Gees begin deurbreek. Na ek gebid het, het ek net stil by die Here gesit en Heilige Gees het die volgende Woord vir my gegee. – Yolandie Mostert (8 Feb 2022)

 

Vandag het My Gees jou geleer om jou siel te onderwerp aan jou gees. Die vyand bring oorweldiging en teneergedruktheid, maar My Woorde bring lewe, vrede en lig.

Herhaal die Skrifte totdat dit soos ‘n sterk straal water in ‘n verstopte pyp deurbreek en lewe in jou siel bring.

Dis belangrik om Skrifte deel van jou lewe en gedagtewêreld te maak. Sê my Woord nie: naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.

Die woorde moet oor jou lippe gaan sodat dit effek in jou lewe kan neem.

My Gees maak dit lewendig want My Woorde sal nie leeg terugkeer nie. Dit bring lewe en vryheid waar dit gespreek word.

Herhaal dit totdat jy die krag van My Gees voel deurbreek. Dis nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, spreek die Here Here.

Neem ‘n Psalm, lees dit hardop oor en oor totdat dit in jou hart vasslaan. Glo dit en verklaar dit. Wanneer dit dan met geloof en oortuiging by jou mond uitkom, stel dit soveel geesteskrag vry, dat die geestesrealm notisie neem en bewe.

Ek plaas vandag ‘n kragtige wapen in julle hande. Die swaard van die Gees wat by die mond van die Seun van die mens uitgaan. My ewige woorde van waarheid

 

Skrifverwysings:

Open 1:16  En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

Open 2:16  Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.

Open 19:15-16  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

 

css.php