Yolandie Mostert (30 Oktober 2022)
Hierdie is ‘n skrywe wat ek reeds in Julie 2021 gedoen het. Ek moes iets korts deel en het die Heilige Gees gevra waaroor ek moet praat.
Die Here is regtig so getrou. Wanneer ons Hom vra, antwoord Hy. Die antwoord het dadelik gekom. Psalm 91. Ok, maklik genoeg, het ek gedink. My tweede reaksie was, “maar Here, almal ken Psalm 91”. En die Here antwoord my toe; ek moet praat oor die voorwaardes in Psalm 91. Ek het al voorheen so bietjie oor die voorwaardes gedeel, maar die Here het hierdie week net ‘n dieper dimensie kom oopbreek en deel dit graag met julle.
Vir die tyd waarin ons leef
Ek glo hierdie boodskap, hierdie Psalm, is so relevant vir die tyd waarin ons leef. Met alles wat rondom ons aangaan, soveel vrees, soveel vrae, soveel verwarring, keuses wat gemaak moet word ens ens. Die Here plaas hierdie sleutel in ons hand vandag en nooi ons in: “into the secret place of the Most High God”.
‘n ‘Bumper sticker’ of ‘n leefwyse?
Ons hoor so baie, en miskien sê ons dit self, “ek glo in Ps 91” of “ek bid Ps 91 oor my familie”. Of ons plak ‘n sticker op ons kar wat sê “This car is protected by Psalm 91”. My vraag is hoeveel van ons bid regtig versie vir versie Psalm 91 en glo wat ons bid en lees? Hoeveel van ons LEEF Psalm 91?
Psalm 91 het ‘n paar voorwaardes, maar net soos orals in die Skrif. As ons dit, dan sal die Here dat. As ons so kies, kan gebeur dit. Dit wat ons saai, sal ons maai. Dit gaan altyd oor ons keuses en ons toepassing.
‘n Maklike vergelyking
Terwyl ek voorberei het, vra ek vir die Here ‘n maklike manier om dit vir ons te verduidelik. Ek hou maar daarvan om iets prakties te kan verstaan. Die Here gee toe vir my ‘n prentjie van ‘n huis met ‘n paar kamers en ‘n voordeur. Elke kamerdeur is gesluit en so ook die voordeur. In my hand hou ek ‘n bos sleutels vas. Die grootste sleutel sluit die voordeur oop en die ander sleutels is vir die verskillende kamerdeure binne die huis. Om by die kamers te kan uitkom, moet ons eers by die voordeur ingaan. Om by die voordeur te kan inkom, moet ons die voordeursleutel gebruik.
Die voordeursleutel van Psalm 91 is die eerste versie.
Daar is nog 5 ander voorwaardes ook in die Psalm, elkeen ‘n sleutel van ‘n kamer vol beloftes.
Kom ons lys eers die voorwaardes in Psalm 91 sodat ons prakties kan raak. Neem dalk ‘n stukkie papier en maak sommer jou eie notas.
Die voorwaardes
Die eerste voorwaarde lees ons in vers 1: Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit. Ek gaan dit in Engels ook lees. Die Engels sê dit net soveel meer kragtiger: He who dwells in the secret place of the Most High.
Dis die voordeur sleutel.
Die ander voorwaardes (of sleutels van die kamers) is:
- Ek sal tot die HERE sê (vers 2)
- Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak (vers 9)
- Omdat hy My liefhet (vers 14)
- Omdat hy my Naam ken (vers 14)
- Hy sal My aanroep (vers 15)
Elke een van hierdie voorwaardes is sleutels wat verskillende kamers oopsluit. Kom ons sê die een sluit die spaarkamer oop, die ander die studeerkamer en ‘n ander dalk die kombuis. Elke kamer het sy eie unieke funksie of doel. Daar is beloftes binne in elke kamer opgesluit. Hierdie Psalm werk presies dieselfde as hierdie kamers.
Ons realiteit?
Psalm 91 is propvol beloftes van bonatuurlike beskerming, maar in realiteit beleef die meeste kinders van God nie daardie bonatuurlike dinge nie. Hoekom nie? Ek glo dis omdat ons baie keer net die beloftes wil oes, sonder om die voorwaardes te saai. Of om dit in makliker Afrikaans te sê, “die voorwaardes elke oomblik van die dag te leef”. Hoe baie keer soek ons net die Here se hand en nie Sy hart nie.
Nou gaan ons een vir een deur hierdie voorwaardes gesels:
‘To dwell’
Voordeur sleutel: Dis die een in vers 1. Daar waar ons “dwell in the secret place of the Most High”.
Hierdie voorwaarde sluit die hele Psalm vir ons oop. As ons hierdie sleutel gebruik, dan werk hy soos ‘n loper en ons kry toegang tot al die ander beloftes in Psalm 91.
So, wat beteken dit om in die Secret Place of the Most High te dwell.
Die heel eerste woord wat vir my uitstaan is “dwell”. Die Afrikaans sê ‘sit’. Om te dwell beteken om te bly of om te sit. Die Hebreeuse woord is yashab. Om te yashab beteken: to sit, to sit down, to remain, to stay, to dwell, to have one’s abode (blyplek), to settle, to be inhabited, to tarry, to marry and to give a dwelling to a spouse.
Wat ek uit hierdie vat is dat ek hierdie sleutel net eintlik eenkeer moet gebruik. As ek in die secret place ingekom het, wil ek nie weer uitgaan nie. Hierdie is my huis, my plek waar ek elke oomblik van die dag wil leef – “my dwelling place”. Dis soos Abraham wat die land van Kanaan sy permanente blyplek gemaak het. Hy het nooit weer teruggekeer Haran toe nie.
El-Elyon
Die volgende woord wat ons na kyk is Most High. Die Hebreeuse woord is “El-Elyon”. Hierdie is die hoogste verhewe, ‘most supreme’, regeerder oor alles en almal. Dis wie Hy is. Maak nie saak hoe chaoties dit om ons lyk nie, Hy is steeds in beheer van alles.
‘The secret place’
En dan kom ons by die Secret Place. Die Hebreeuse woord daarvoor is: sêther. Dit beteken ‘n covering (‘n bedekking), ‘n wegkruipplek, ‘n shelter (‘n skuiling), ‘n geheime plek. Vir my is hierdie ‘n plek waarvan amper niemand weet nie. Net ek en die persoon aan wie dit behoort. Dis moeilik om te vind, dis goed versteek en ek is veilig binne in die plek. Dieselfde woord word gebruik is Psalm 31:20 waar dit praat van “the secret place of Your presence” en in Psalm 27:5 “the secret place of His tent”.
Kom ons vorm nou ‘n prentjie in ons gedagtes. Dis winter en dis koud. Ons is in die veld, in die berge. Iewers tussen al die bome, bosse en klowe is daar ‘n plek, waarvan bitter min mense weet. Dit amper soos ‘n grot of ‘n skeur in ‘n rots. Dis so goed versteek dat as jy daar binne is, is jy veilig. Die plek het ‘n deur en jy het die sleutel in jou hand. Dis lekker warm binne, daar is ‘n sagte mat en die Here se teenwoordigheid is tasbaar. Sy stem is hoorbaar. Die goddelike vrede in hierdie plek is oorweldigend. Ek voel veilig want Hy is daar by my.
So waar is hierdie plek? Hoe kan ek by die plek uitkom? Hoe kan ek seker maak dat ek hier bly – dat ek hierdie veilige plek my “dwelling place” maak.
Party mense mag dalk sê: ag ek het reeds hierdie plek gevind – ek het dan vir Jesus aangeneem. So ek is outomaties daar. So alles in hierdie Psalm is nou vantoepassing op my. Maar dis nie regtig so nie. Ons kon eens op ‘n tyd Jesus aangeneem het, maar steeds ‘n lewe buite Hom lei.
Verborge in God
Ek gaan probeer om met my beperkte woordeskat hierdie plek te verduidelik en hoe ons elke dag prakties vanuit die plek kan leef.
Paulus beskryf hierdie plek in Kol 3:3, “julle lewe is saam met Christus verborge in God” – “a life is hidden with Christ in God”. So wat beteken dit om ‘n lewe ‘hidden with Christ’ te leef.
Hierdie secret place is tweeledig
Heel eerste is dit daardie alleentyd wat ons elke dag saam met God spandeer. Dis wanneer ons die deur toemaak en ‘n halfuur, ‘n uur of langer net by Sy voete sit en met Hom praat en by Hom hoor. Hierdie is ongelooflik belangrik en moet deel vorm van ons normale lewe. Maar dis nie die volle som van hierdie plek nie. Dis net een van die bene.
Die tweede been is wanneer ons elke oomblik van elke dag op Hom gefokus is en in kontak en kommunikasie met Hom is. Ons rig ons gedagtes doelbewus op Hom – ons oefen onsself daarin om op Hom te fokus, ons bespreek alles eerste met Hom. Daar waar ons werk, oefen, stokperdjies beoefen, kosmaak, kinders bad, maak nie saak wat nie, is ons op Hom gefokus. Wanneer ons in gesprek met iemand is, luister ons gees fyn na die Heilige Gees, hoe Hy wil hê ons moet antwoord. Wanneer ons inkopies doen, hoor ons mooi watter produkte ons moet koop en Hom sal eer.
Om dan in ‘n ry by die bank te staan of in verkeer te sit, is nie meer so ‘n groot probleem nie, want elke oomblik word ‘n geleentheid vir kommunikasie. Dis wanneer ons hele lewe deurdronge is van Hom. Alles wat ons is, dink of doen, is IN Hom, DEUR Hom en vir VIR Hom. Paulus moes dit beleef het toe hy in Hand 17:28 geskryf het: “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons”.
Ons het albei hierdie bene in ons lewe nodig. Die eerste been is tyd alleen in die binnekamer en die tweede been is ‘n daaglikse gefokuste lewe.
Baie mense is so gewoond aan ‘n gebed in die oggend en ‘n gebed in die aand en voor ons eet. Ons het nodig om ons lewens in te rig sodat ALLES rondom Jesus Christus gaan. Ons het nodig om tyd in te ruim om alleen aan Sy Voete te spandeer. Ons het nodig om direk by Hom te hoor. Ons moet hom kan hoor. Ons kan nie meer staatmaak op ander om namens ons te hoor nie.
Die Allerheiligste
Die Secret Place is presies dieselfde plek as die Allerheiligste in die Tabernakel. Dis daar waar Moses van aangesig tot aangesig met God gespreek het. Hulle het ‘n gesprek gehad (vrae en antwoorde, dinge bespreek, ‘n regte egte gesprek) en wanneer Moses daar uit gegaan het, lees ons dat Sy gesig geskyn het. Ons moet soos Joshua wees wat agtergebly het in die tent omdat ons dit ons permanente ‘dwelling place’ wil maak. Ons lees hiervan in Eksodus 33:11. Ek glo die rede hoekom die Here Joshua so kragtig kon gebruik het om reuse te verslaan en om die beloofte land te kon inneem, was omdat Hy daar in die Allerheiligste, God leer ken het as die Een wat Hy kon vertrou. Hy het God persoonlik leer ken.
Deur die Heilige wat in ons woon, het ons toegang tot daardie plek elke sekond van elke dag. Maar ons moet die sleutel gebruik om in te gaan en daar te ‘dwell’. Dis ‘n leefwyse, dis nie in ‘n in en uit nie.
Die beste deel
Dis die deel wat Maria uitgekies het toe sy by Jesus se voete gaan sit het. Sy moes ‘n keuse en ‘n opoffering gemaak het. Dis vir my so mooi toe Jesus vir Martha, haar besige suster, antwoord: Maria het die beste deel uitgekies en dit sal nie van haar weggeneem word nie.
Dis nie moeilik nie. Ons maak dit net in ons kop moeilik. Ons moet net honger wees vir HOM, en nie vir wat ons by Hom kan kry nie. Ons moet net ingaan, net soos ons is en bereid wees om ons hele lewe, elke kamer van ons hart, elke begeerte, elke droom, ALLES, vir Hom te gee.
‘n Permanente leefwyse
Wanneer ons die Secret Place ons permanente leefwyse en woonplek gemaak het, kies ons die beste deel uit. Ons hele lewe verander. Ons opinies verander in Sy opinie. Ons neem besluite omdat ons direk by Hom gehoor het wat Hy daarvan sê. Ons rig ons finansies in volgens hoe Hy ons leer. Ons kyk na ons gesondheid omdat Hy ons leer hoe, nie wêreldse organisasies nie. Ons lyk anders. Ons praat anders. Ons sien dinge anders. Hoekom? want ons hoor direk by Hom.
Jy sien, dis onmoontlik om ‘n ‘face-to-face’ leefwyse te lei, en nie ‘n skynende gesig te kry nie. DIS die secret place. DIS die sleutel tot ‘n LEWE in Hom en deur Hom. Dis waarnatoe Hy ons roep.
Op hierdie punt wil ek ‘n waarskuwing rig. Dis goed om af te toe na ‘n ander lering te luister soos wat die Heilige Gees ons lei, maar ons beweeg op gevaarlike grond wanneer ons elke dag mense navolg. Om mense te volg op sosiale media en amper religiously te MOET luister wat daardie persoon vandag gesê het, is tweedehandse inligting. Wat dan gebeur is ons opinies, leefwyse en besluite word maar net einlik daardie persoon sin. Dis wanneer ons sê “ek glo wat daai persoon sê”.
Dis nie hoe die Secret dwelling place werk nie. In die Secret Place hoor ons direk by die Heilige Gees. Hy leer ons uit die Woord uit. Hy verander ons van binne af. Dis daar waar Hy ons hart vir ons wys, dinge waarmee ons sukkel, waarmee ons gebonde is. Dis daar waar Hy ons lei om hierdie of daardie stronghold te addresseer en dan bring Hy teachings en gebede oor ons pad om ons te help vir dit wat relevant is op daardie oomblik.
Ons verander in die ‘secret place’
Dis onmoontlik om in die Secret Place te dwell en nie te verander nie. God se Lig is daar en Sy Lig wys altyd vuilkolle uit. Dis vanuit hierdie leefwyse plek van Hoor en Doen, van Luister en Gehoorsaam wees, waar ons met ons gebrokenheid kan deel, met ons seer, met ons trauma en met ons oop deure. Hoe langer ons daar leef (dwell), hoe skoner word ons en hoe minder wettige reg het die vyand om ons te affekteer.
Die ander sleutels
Vanuit hierdie permanente plek van ‘dwell’, is dan maklik om die ander sleutels te gebruik.
Kom ons kyk gou vinnig na die ander 5 voorwaardes:
Voorwaarde nr 2 sê: ek sal tot die Here sê: U is my God op wie ek vertrou. Dis dan nie moeilik om te vertrou wanneer dit lyk asof alles rondom my inmekaar tuimel nie. Of wanneer die toekoms maar bleek lyk nie. Of wanneer moeilike omstandighede oor my pad kom nie. Hoekom nie? Want ek ken die Een op wie ek vertrou se HART. Ek weet dat ek weet dat Hy is wie Hy sê Hy is.
Die ander voorwaardes sê dat ons Hom moet liefhê, Sy Naam moet aanroep, Sy Naam moet ken, Hom ons beskutting moet maak.
Al hierdie dinge kom outomaties wanneer ons ‘yashad’ – dwell, permanent in die geheime plek bly.
Soos ek reeds gesê het, Psalm 91 se voordeursleutel is ook ‘n loper is. Ons kan die onderskeie sleutels gebruik om in elke kamer te kom, maar die voordeursleutel werk vir al die kamerdeure.
Die voordeur kan nie vermy word nie
Ons kan by die venster inklim om die permanente dwelling te vermy. Baie mense vermy dit, want dit kos ‘n prys, dit kos ‘n lewe van toewyding en gehoorsaamheid. Ons kan in en uit by die voordeur gaan en Hom net aanroep wanneer ons Hom nodig kry. Ons kan stickers plak, posters teen die muur sit, met my kop probeer vertrou en al die dinge wat die vlees sê ons moet doen. Dit werk dalk vir een of twee keer. Dis net die effektief nie, dis moeite, dis ‘n gesukkel. Dit is vlees en nie gees nie. Met ander woorde dis werke. En wanneer ons dit nie regkry nie, twyfel en vrees ons en dis wanneer mense hulle geloof verloor.
Dis nie waarvoor Jesus Sy Lewe gegee het nie. Hy het met Sy Bloed betaal sodat ons permanent kan yashad (dwell). Kom ons begin sommer vandag om te ‘dwell’. Moenie hierdie tyd wat ons nie bymekaar kan kom nie, by jou laat verby gaan nie. Koop die tyd uit, gaan sit in die fisiese op ‘n sagte mat, maak die deur toe en praat met Hom. Bid die Woord en geniet Sy teenwoordigheid. Die Skrif sê in Mattheus 7:14: Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Hierdie bedoel nie net die Ewige Lewe nie. Ons Ewige Lewe het reeds hier op aarde begin. ‘n Lewe in die Secret Place saam met die Most High God – daar is min wat uit hierdie Secret Place LEEF.
Ek wil jou regtig aanmoedig om versie vir versie deur Psalm 91 hierdie week te werk. Merk die voorwaardes en hulle beloftes. Kom ons ondersoek ons harte. ‘Dwell’ ons regtig? Of gaan ons net in en uit? Dalk soek ons kortpad en klim by die venster in.
Ek sal hom my heil laat sien
Ek sluit vir ons af met die mooiste belofte in hierdie Psalm en dis in die laaste vers: “Ek sal hom my heil laat sien”. Die woordjie heil beteken verlossing en die Hebreeuse Woord wat gebruik word is Yeshua.
God sê hier vir ons: Ek sal hom (ek en jy wat dwell) My (God se) Yeshua (Jesus Christus) laat sien. Dis waaroor alles gaan. Jesus Christus – om Hom as wins te verkry.