Die skoonheid van heiligheid

7 Augustus 2022 – Yolandie Mostert

 

The beauty of holiness

“The beauty of holiness” – ‘n frase wat hierdie week in my gedagtes kom nes skop het. Ek het dit gaan opsoek en besef dat ek al die jare dit mis gelees het. My 1953 Afrikaanse vertaling, waarvoor ek baie lief is, het dit nie so mooi uitgedruk nie.

Een van ‘n paar plekke waar hierdie frase voorkom, is Psalm 29:2.

Die Amplified Bybel lees so: Ascribe to the LORD the glory due His name; Worship the LORD in the beauty and majesty of His holiness [as the creator and source of holiness].

Die Afrikaans sê: aanbid die HERE in heilige sieraad! Alhoewel heiligheid ons versiering (of sieraad), behoort te wees, dink ek nie hierdie woorde beskryf die volle diepte van wat die skrywer bedoel het nie.

 

Die Heilige Gees is die laaste ruk baie besig met my en Louis met heiligheid. Hoe meer ek ook hierdie week die Skrifte bestudeer het en gebid het vir Heilige Gees openbaring, hoe meer het ek besef hoe totaal ontoereikend ons taal en pogings is om heiligheid enigsins te kan verstaan. Dis slegs deur die openbaring van die Heilige Gees dat ons iets daarvan sal kan begryp.

Ek gaan my bes probeer om reg aan hierdie ongelooflike heilige onderwerp te verskaf. Hierdie is heel moontlik ‘n eerste deel van ‘n paar wat sal volg.

 

Skrifverwysings

Kom ons begin deur 4 Skrifte te lees. Die eerste een is reeds bo aangehaal: Psalm 29:2.

Ascribe to the LORD the glory due His name; Worship the LORD in the beauty and majesty of His holiness [as the creator and source of holiness]. (Ps 29:2 AMP)

Give to the LORD the glory due His name; Bring an offering, and come before Him. Oh, worship the LORD in the beauty of holiness! (1 Cron 16:29 NKJV)

Worship the LORD in the splendor of holiness; Tremble [in submissive wonder] before Him, all the earth. (Ps 96:9 AMP)

Who is like You, O LORD, among the gods? Who is like You, glorious in holiness, Fearful in praises, doing wonders? (Ex 15:11 NKJV)

 

Wat is heiligheid?

Om die skoonheid van heiligheid te verstaan, moet ons eers verstaan wat heiligheid is. Dan moet ons vra: wat is heiligheid?

Dis dalk makliker om te begin met wat heiligheid NIE is nie:

  • Dis nie ‘n stel reëls oor kos, klere en gedrag nie.
  • Dis nie ‘n lys van moenies nie.
  • Dis nie iemand wat met ‘n vroom gesig rondloop, maar agteraf anders lewe nie
  • Dis nie om ‘n ‘Groot Christen’ te wees nie

 

Die woord HEILIG

Die Hebreeuse woord is: qôdesh en volgens die Strongs woordeboek beteken dit die volgende:

apartness, holiness, sacredness, separateness

1a) apartness, sacredness, holiness (of God; of places; of things)

1b) set-apartness, separateness

Vir my staan die konsep van ‘set-apartness’ uit. Stel jouself voor dat daar ‘n klomp voorwerpe op die tafel lê en jy een van hulle neem en eenkant sit vir ‘n ander doel. Dis presies hoe ‘set-apartness’ werk. Daardie een voorwerp is uitgesonder en is anders as al die ander.

Wanneer iemand of iets dus heilig (of geheilig) is, is dit eenkant gesit vir ‘n spesiale doel – uitgesonder en afgesonder. So ‘n persoon of voorwerp is anders as die res.

 

Net die Here is heilig

Die Here het baie verskillende eienskappe byvoorbeeld liefde, wysheid, geregtigheid en krag. Dis vir ons maklik om ‘n begrip hiervan te vorm omdat ons mense ken wat in ‘n mate ook hierdie eienskappe besit. Ons kan dus daarmee assosieer. Daar is liefdevolle mense, mense wat ‘n mate van wysheid het en mense wat regverdig optree.

Die Bybel leer ons dat net die Here heilig is. Geen mens, wese of voorwerp is heilig nie. Ons het niks om heiligheid aan te meet behalwe die Here se heiligheid nie.

Want U alleen is heilig (Open 15:4)

Niemand is heilig soos die HERE nie (1 Sam 2:2) 

Heiligheid is iets wat uniek is aan die Here. Die Here tree nie net heilig op nie, Hy IS heiligheid self. Alles van wie die Here is, is heilig. Al Sy ander eienskappe word omvat in Sy heiligheid.

Ons kan sê dat heiligheid die essensie is van wie die Here is.

 

Drie-maal heilig

Oral waar ons van die Here se eienskappe lees word die eienskap net as een woord genoem. Byvoorbeeld: “God is liefde”. Maar wanneer dit by heiligheid kom, lees ons van twee plekke in die Skrif waar die woord heilig drie-maal herhaal word: “Heilig, heilig, heilig is die Here”. Ek glo dit hou ook verband met die drie-eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees is heilig.

Wanneer iets in die Skrif herhaal word, moet ons ekstra ag slaan. Hier word die Here se heiligheid drie-maal herhaal, een keer in die Ou Testament en een keer in die Nuwe Testament. Ek dink dis ook betekenisvol. Die Here het nog nooit verander nie. Hy was drie-maal heilig in die tyd van die ou verbond en Hy is steeds drie-maal heilig in die tyd van die nuwe verbond.

 

In die Ou Testament

Ek wil graag hê dat jy die tyd moet neem om die gebeurtenis te lees in Jesaja 6. Ter wille van spasie, het ek net een vers hier ingesit, maar die konteks en omvang van hierdie heilige gebeurtenis moet nie gemis word nie. Jesaja was reeds ‘n profeet van die Here. In hoofstuk 6, het hy ‘n troonkamer belewenis. Hy sien eersehands die heiligheid van die Here. Hy sien die serafs wat hulle met vlerke bedek en roep: “heilig, heilig, heilig”. As gevolg van die oorweldigende heiligheid van die manifestasie van die Here, roep hy uit: “wee my, ek is verlore!”. Dis die uitvloeisel van die heilige teenwoordigheid van die Here – ‘n mens wat sy eie ontoereikendheid besef en uitroep vir redding en genade. Hoe anders sou dit gelyk het in die liggaam van Christus as meer mense uitgeroep het: “wee my, red my” in plaas van trotsheid en selfregverdiging.

Jes 6:1-3  In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! 

 

In die Nuwe Testament

Openbaring 4 is die hoofstuk wat die troonkamer van die Here beskryf. Net soos Jesaja, het Johannes ook die ongelooflike voorreg gehad om dit te mag sien en betree.

Open 4:8-11  En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape. 

Dag en nag, sonder ophou, word die drie-maal heiligheid van die Here vir die heelal verkondig. Alles en almal in die heelal, geestelike en fisiese realm, mag nooit vergeet dat die Here heilig is nie.

 

Wanneer ‘n mens die Here se heiligheid sien

Dis onmoontlik om in die teenwoordigheid van die Here te kom en ‘n stukkie van Sy heiligheid te beleef en staande te bly. Die 24 ouderlinge val elke keer op hulle aangesigte wanneer die woorde ‘heilig, heilig, heilig’ gesê word. Serafs bedek hulle in aanbidding en die mens val op sy aangesig. Dit kan nie anders nie. Die heilige essensie van wie die Here is, is so oorweldigend dat geen mens staande sal kan bly nie.

Open 1:17  En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete

Die tweede uitvloeisel van die Here se heilige teenwoordigheid is opregte bekering. Die mens raak bewus van die duisternis en onheiligheid in hom.

Jes 6:5  Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! 

Alle redenasies en self-regverdiging verdwyn. Die Here se heiligheid skyn in elk geval dwarsdeur dit – niks kan weggesteek word nie.

Job 42:5-6  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as. 

Die mens raak ook intens bewus van sy ontoereikenheid. Dit wat voorheen vir ons waarde gehad het en dit wat ons gedink het ons is en weet, word nou as dwaasheid gereken. Agur skryf in Spreuke 30 dat hy dommer is as ‘n mens. Eers dan kan ons die volle betekenis van genade verstaan. Genade is nie ‘n verskoning om te leef soos ons wil nie. Genade is dat ‘n nietige mens in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel mag kom.

Spr 30:2-3  Ja, ek is te dom om mens te kan wees, en ek het geen menseverstand nie. En ek het nie wysheid geleer, sodat ek kennis van die Heilige sou besit nie. 

Job 42:5-6  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as. 

Wanneer ons nog dink dat ons nie te sleg is nie, bruikbaar en waardig is, het ons nog nie die heiligheid van die Here gesien of begin verstaan nie. Om net ‘n klein skrefie van Sy heiligheid te sien, bring intense nederigheid en afhanklikheid. Jy besef op ‘n baie diep vlak dat daar niks is wat jy vir die Here kan doen of bied nie. Die blote feit dat Hy ‘n mens kies en gebruik is uiterste genade.

1 Sam 6:20  Toe sê die manne van Bet-Semes: Wie kan diens doen voor die aangesig van die HERE, hierdie heilige God?

 

Wat is heiligheid?

Derek Prince se definisie is vir my baie mooi: Holiness is the unique aspect of God’s nature that is without parallel anywhere else in the universe.

Vryvertaal klink dit so: Heiligheid is die unieke eienskap van YHVH se natuur. Jy kry hierdie eienskap nêrens anders in die heelal nie. Net in die Here.

 

Openbaringskennis

Ek het tot die slotsom gekom dat dit onmoonlik vir ‘n mens is om te probeer om ‘n heiligheid te verduidelik. Die meeste konsepte kan verduidelik en geillustreer word. Nie heiligheid nie. Heiligheid moet geopenbaar word en slegs die Gees van die Here, wat die dieptes van God ondersoek kan heiligheid vir ons openbaar.

1 Kor 2:10  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.

Die ironie lê daarin dat ons so nodig het om openbaringskennis te kry van die heiligheid van God sodat ons in nederigheid en afhanklikheid deur die Gees kan lewe. Maar ons kan dit nie kry sonder ‘n openbaring van Heilige Gees nie. Weereens sien ons die genade van die Here wat Homself aan sommige mense openbaar ten spyte van totale onwaardigheid.

 

Die Heilige Gees

Net soos met God die Vader, het Sy Gees ook baie eienskappe. Ons dink byvoorbeeld aan die Trooster, Wysheid, Sterkte ensovoors. Tog is Sy Naam nie een van hierdie eienskappe nie. Sy Naam is die Heilige Gees – dis wie Hy is: Heilig. ‘n Direkte vertaling vanuit Hebreeus beskryf dit so: “The Set-Apart Breath of YHVH”.

Ons is so afhanklik van die Heilige Gees. Dis slegs ‘n lewe gelei deur die Gees, wat enigsins die moeite werd is. Enige iets minder as dit, is soos wat Agur dit beskryf het: dwaas.

 

Aanbidding

Ek het reeds hierbo aan sommige van die resultate geraak wanneer ons iets van die Here se heiligheid sien en begin verstaan. Dis so belangrik dat ek dit graag ‘n spesiale paragraaf wil gee.

Aanbidding is outomaties die uitvloeisel. Die aanbidding waarvan ek hier praat, is nie die laaste drie stadige liedjies wat een maal per week by die gesamentlike byeenkoms gesing word nie. Hierdie aanbidding is op ‘n baie dieper vlak. Jou gees konnekteer met die Heilige Gees op ‘n tasbare, heilige vlak. Jou siel raak stil – redenasies hou op en jou sielsemosies staan terug vir jou geesmens se dieptes. Jou liggaam reageer met hande omhoog, knieë gebuig en ‘n liggaam plat op jou aangesig voor die Heilige.

Jy kry ‘n diep besef van jou eie ontoereikenheid. Jy begin voel soos Agur in Spreuke 30. Dit lei tot baie diep bekering (dis ‘n 180 grade omdraai) en verandering. Dit bewerk ‘n diepe nederigheid. Trotsheid is onmoontlik waar daar ‘n egte openbaring van die heiligheid van God is.

Hoe kan ons Sy lof besing, Sy heerlikheid beleef en steeds soos ‘n stokmannetjie penorent staan. Dit bring ‘n vraag: het ons dan al ooit iets van Sy heiligheid gesien?

‘n Daaropvolgende stelling sal wees: sou die liggaam van Christus enigsiens iets geken het van die heiligheid van YHVH, sou hulle nooit die Heilige Gees verwar het met die valse gees en sy onheilige manifestasies nie.

 

Om die Here te ken

Sonder die Here kan daar geen heiligheid wees nie. Ons het nodig om die Here te ken, sodat ons heiligheid kan verstaan. Iemand wat nie die Here eerstehands ken nie, het geen konsep van heiligheid nie. Ek glo dis waarom daar so baie reël, regulasies, moets en moenies is. Die mens kap sy eie paadjie uit om by die Here uit te kom. Instruksies en moenies is nie sleg nie, maar dis nie wat ons heilig maak nie. Dis die groot verskil. Die gehoorsaamheid aan instruksies moet die uitvloeisel wees vanuit ‘n heilige lewe, nie die middel daartoe nie.

Heiligheid in iemand se leefwyse is die vrug daarvan om God te ken.

Holiness is the fruit (result) of truly knowing God.

 

Die hoogste vlak in die heelal

Ons lees in Kolossense 1:16 ‘n lys van heerskappy tipes. Trone word heel eerste gelys. In die geesrealm weet ons ook dat trone die sterkste en hoogste vlak van outoriteit en krag is.

Die hoogste troon bo alles en almal is die troon van die Here – hoog en verhewe. Dis vanuit Sy troonkamer wat Sy heiligheid dag en nag verkondig word. Ek glo dit sal akkuraat wees om te sê dis die heiligste en suiwerste plek in die heelal.

Jes 6:1  In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. 

 

Die hoogste eer

Om in die troonkamer van die Here te mag ingaan en daar te mag vertoef, is die hoogste eer wat aan ‘n mens bewys kan word. Dit is om die essensie van wie die Here is, te mag beleef.

Ons lees in Openbaring 4 van die 24 ouderlinge. Hulle word nie moeg om in die teenwoordigheid van die heilige hulle krone in aanbidding voor hom neer te gooi nie.

Aan die einde van die boek Openbaring, in die gedeelte wat die Nuwe Jerusalem beskryf lees ons dat die troon van God en van die Lam ook daar sal wees. Dit sal ook ‘n sentrale plek in die ewigheid hê. Wat uitstaan in die Skrifgedeelte is dat Sy diensknegte Hom sal dien vanuit daardie plek en dat hulle Sy aangesig sal mag sien.

Ek kan nie aan ‘n groter eer dink as om die aangesig van die Heilige van Israel te mag sien en in Sy teenwoordigheid te mag vertoef nie.

Open 22:3-4  En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. 

 

Ons hoogste doel

Hoe meer ek die heiligheid van die Here oordink, hoe meer roep en smag my gees daarna. Ek glo dis hoe dit vanonderstel is om te wees. Daar moet ‘n diepe smagting daarna in ons groei. Om die Here te mag ken, is om heiligheid te mag verstaan. En om heiligheid te mag verstaan, is om die Here te ken.

Om tot op hierdie punt te mag kom, sal soos die grootste oorwinning voel. En dan maak ons genadige en liefdevolle God voorsiening vir meer. Dat ons deel mag hê aan Sy heiligheid. My brein sukkel om die konsep te verwerk. Die essensie van wie Hy is en net Hy alleen is, wil Hy binne in my kweek. Ek mag (en moet) dit deelagtig word. Dis ons bestemde deel.

Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. (Hebreërs 12:10)

Die skrywer verduidelik hier waarom ons deur sekere tugtigings moet gaan. Die einddoel daarvan is om deel te mag hê aan Sy heiligheid. Die engelse woord is ‘n ‘partaker’: to participate; generally to accept (and use): – eat, have, be partaker, receive, take.

 

Wees heilig

Om heilig te wees (set-apart) is nie net ‘n voorreg nie, dis ‘n opdrag.

Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. (1 Pet 1:15-16) 

Ons volgende vraag sal wees: maar hoe doen ons dit?

Die ironiese antwoord lê opgesluit in Joshua se antwoord aan die volk in Joshua 24:19. Die volk was baie ywerig en vol selfvertroue dat hulle al die instruksies van die Torah sou uitvoer en sodoende heilig sou wees. Joshua antwoord hulle so:

Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die HERE nie dien nie, want Hy is ‘n heilige God.

Dis nie die tipiese antwoord wat vir vandag se kerkgangers gegee sal word nie. Praat van die waarheid reguit sny!

 

Ou Verbond

Die kort antwoord, om aan te sluit by Joshua is: op ons eie is dit onmoontlik. Deur middel van die Torah (instruksies), maak die Here dit moontlik vir die volk om Hom te mag nader. Onthou die essensie van die Here is heiligheid. Die mens is onheilig en kan daarom nie in Sy teenwoordigheid kom en bly lewe nie. Die heiligheid van die Here sal die mens verteer. Daarom was die offerstelsel nodig. ‘n Tydelike plan totdat die perfekte sou kom. Bloed speel ‘n integrale deel in toegang tot die heilige teenwoordigheid van die Here. Daarom die offers van diere.

 

Nuwe Verbond

Die Bloed van die Seun van God het dit vir ons moontlik gemaak om in te mag gaan. Ons lees so gemaklik dat ons met vrymoedigheid mag ingaan na die troon van genade, maar vergeet hoekom. Dis nie omdat ons so wonderlik is en die Here aangeneem het nie. As dit nie was vir die Bloed van die Lam nie, sou ons ook verteer geword het deur die heiligheid van die Here.

Heb 10:19  Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 

Die konteks van hierdie Skrif is ons Hoëpriester wat ingegaan het, sodat ons toegang mag hê:

Heb 4:16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. 

Dis die eerste stap: die Bloed van die Lam. Die tweede voorsiening is dat ons die voorreg van die inwonende Heilige Gees het. Slegs ‘n lewe gelei deur die Gees van God sal ooit heilig kan wees. Moets en moenies sal ons nooit heilig kan maak nie.

Heiligmaking is die werking van die Heilige Gees. Na die mate wat ons Hom toelaat. Heiligheid is die vrug van die werking van die Gees van God in ons lewe. Dis nie die metode nie.

 

Dis God se wil

Heiligheid is nie ‘n opsionele iets in ons wandel met God nie. Dis noodsaaklik en word van ons verlang. Die mees duidelikste kenmerk in ons lewe moet ons heiligheid wees. Sonder heiligmaking (die proses wat ons heilig maak), sal ons nooit God kan sien nie. Dis bloot vermetel om enigsins anders te dink, behalwe dat dit onskriftuurlik.

Want dit is die wil van God: julle heiligmaking (1 Thess 4:3)   

Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. (1 Thess 4:7)

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie (Heb 12:14) 

 

Nederigheid

Hierdie volgende Skrifgedeelte slaan my asem weg. Hoor hoe word die Here beskryf in Jes 57:15. Die Hoë Een. Die Verhewe Een. Die Een wat in die ewigheid bewoon. My verstaan van hierdie laaste beskrwying is dat net die ewigheid groot genoeg is om Hom te bevat. Sy Naam is Heilig. Sy woonplek is hoog. Hy woon in die heilige plek. En dan lees ons verder. Hierdie geweldige groot en heilige God kies om by diegene te woon wat nederig en verbrysel van hart is. Is daar enige genade groter as dit? Ek dink nie so nie.

For the high and exalted One He who inhabits eternity, whose name is Holy says this, “I dwell on the high and holy place, but also with the contrite and humble in spirit in order to revive the spirit of the humble And to revive the heart of the contrite [overcome with sorrow for sin].

 

Om na te jaag

Ek wil vir ‘n oomblik stilstaan by ‘n Skrif wat ek vroeër aangehaal het: Hebreërs 12:14.

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie

Ons lees hier dat ons die heiligmaking moet najaag. Die Engelse woord is pursue. Dit beteken: to follow in order to overtake, capture, kill, or defeat, to find or employ measures to obtain or accomplish, to chase

Wanneer iemand gejaag word om te vang, is dit nie sommer ‘n drafstappie nie. Dit beteken ‘to chase’ en jy hou nie op voordat die persoon gevang is, oorrompel is en die boeie vas is nie. Dis ‘n ernstige aksie.

Hoekom is ons dan so lamsakkig om heiligmaking na te jaag? Is ons ooit besig om dit na te jaag? Of drentel ons maar net deur die lewe?

 

Ons redelike godsdiens

Paulus stel dit baie duidelik. Die konteks van die voorafgaande hoofstuk is die genade dat ons as nie-Jode mag deel vorm van die nuwe verbond. Hy sê dat dit logies en redelik is as gevolg van hierdie groot genade en dat die minste wat ons kan doen is om ons liggaam as ‘n lewende offer op die altaar te plaas tot heiligheid. Nie opsioneel of net van toepassing om die super Christene – dis net logies en dis redelik en van toepassing op ons elkeen wat verlossing deur die Bloed van Jesus ontvang het..

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1)

 

Ons grootste prioriteit

maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. (Hebr 12:10b)

NIKS behoort vir ons belangriker te wees as om ‘n deelgenoot aan God se heiligheid te wees nie. Ons moet desperaat wees vir ‘n openbaring van Sy heiligheid. Slegs Sy Gees kan dit aan ons gee. Ons het ‘n rol te speel. Gebed, vesting, afsondering, toewyding.

TO PURSUE!!!!

Wat weerhou ons? Familie en vriende? Stokperdjies? Ons beroep? Ons eie prioriteite?

 

Ons het desperaat ‘n openbaring van die Here se heiligheid nodig

 

Ek eindig met die openingvers:

Ascribe to the LORD the glory due His name; Worship the LORD in the beauty and majesty of His holiness [as the creator and source of holiness]. (Ps 29:2)

css.php