Die paleis van intimiteit

Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

 

Hooglied as ‘n visuele storie

Die Heilige Gees het onlangs skatte uit Hooglied in beeld of prentjie formaat begin deel. Dit behoort nie as ‘n verrassing te kom nie aangesien die boek immers oorspronklik as ‘n teaterstuk geskryf was.

Wanneer ek aan die begin van ‘n afdeling die verhoog, die karakters, musiek en atmosfeer beskryf, kan die leser hulle makliker inleef. Sodoende kan diep geestelike waarhede op ‘n verstaanbare manier oorgedra word. Tussen die beskrywing van die onderskeie versies met hulle sleutels en simboliek, gaan daar beskrywende beelde beskryf word van dit wat op die verhoog gebeur. Mag hierdie manier van oordra die boek Hooglied, op ‘n vars en dieper manier vir jou oopbreek.

Die volgende gedeelte beskryf die eerste verhoogstuk – ‘n paleis.

 

Die vertoning begin

Almal het hulle sitplekke ingeneem. Die orkes begin speel en die gordyn lig.

Op die verhoog staan ‘n pragtige paleis met breë trappe en ‘n imposante dubbelhoutdeur wat toegang verleen. Die toeskouers wat voor die paleis staan en kyk, loer soms verlangend deur die vensters in die hoop om iets wonderliks van die binnekant te mag sien. Daar is stories van pragtig versierde vertrekke, trappe wat afloop na ‘n ondergrondse kelder en ‘n binnehof met die mooiste bome en plante. Niks hiervan is natuurlik sigbaar vanaf die straat en tuine voor die paleis nie.

Daar word geen begeleide toere aangebied om die nuuskierigheid van mense te bevredig nie. Jy leef of buite of binne. Dis die enigste twee opsies.

 

Buite die paleis

Buite die paleis is nie ‘n slegte plek nie. Daar is ‘n pragtige voortuin. Om toegang tot die tuin te verkry moet jy deur ‘n ingang gaan – die kruis. Almal wat in die voortuin van die paleis leef, het reeds tot wedergeboorte gekom het en Jesus deur die doopwater in gehoorsaamheid gevolg. Die wet van die Gees van die lewe is op hulle binneste geskryf en hulle dien die Here.

 

Die meeste Christene is tevrede met die voortuin van die paleis. Dit bied alles wat hulle nodig het en hulle voel gemaklik daar. Daar is immers goeie prediking, weeklikse byeenkomste en oggend en aand gebede. Genoeg om ‘n goeie Christenlewe te kan lei. In die voortuin word jy nie te veel uitgedaag of gestrek nie. Dis nie nodig om enige van jou oortuigings te bevraagteken nie. Daar is ‘n maklike roetiene om te volg.

In die voortuin is daar altyd iemand wat leiding en lering gee en dis nie eers nodig om self waarhede in die Skrifte te ontdek nie. As daar iets is wat nie verstaan word nie, is daar iemand om te vra.

Die voortuin is ‘n plek van ‘goeie-Christenwees’.

 

‘n Groot tydverdryf van mense in die voortuin is om die wat binne die paleis leef te kritiseer. Dis baie maklik om fout te vind wanneer ons geen ervaringskennis het nie. Dit wat binne die paleis gebeur strook nie altyd met die teologie van die voortuin nie. Dink byvoorbeeld aan die geweldige kritiek teen bloedlynvloeke, die bevrydingsbediening, sterf aan self en selfs om die stem van die Here direk te kan hoor.

Hierdie dinge vorm bloot nie deel van die verwysingsraamwerk van die voortuin nie. Die voortuin se teologie maak nie hiervoor voorsiening nie. Wanneer ‘n leier in die voortuin geraadpleeg word, word dit afgemaak as duiwels of ou-testamenties. Dit veroorsaak lelike kritiek teenoor die wat binne die paleis eerstehandse ervaring van hierdie dinge het.

Vandag is daar is selfs bedieninge wie se hoofdoel en tydsverdryf is om ander bedieninge te kritiseer en dit aanlyn te pos. Hulle stel hulle gewoonlik voor as die edelmoedige inwoners van Berea van Handelinge 17 wat waarhede ondersoek het. Ons moet baie versigtig wees dat ons nie dalk iemand wat geesvervuld is en ‘n lewe diep binne die paleis lei, afmaak as vervul met ‘n bose gees nie. Daarmee sê ek nie dat ons nie teen valsheid en misleiding moet waarsku nie. Ons moet. Ons moet net versigtig wees dat ons dalk net ten dele sien en verstaan.

 

Liefde ontbreek in ‘n baie groot mate in die voortuin. Hoe langer ons binne die paleis leef, hoe meer kry ons ‘n besef van die liefdeloosheid binne die kerk. Ek kon vir jare nie eers my eie liefdeloosheid herken nie. Uit ‘n plek van trots, was ek vol foutvind en kritiek.

Die Here se mense verstaan nie Sy hart vol liefde, onferming en genade nie. Die godsdienstigheid van goeie Christenwees of goeie kerkmens-wees in die voortuin van die paleis het ons daarvan beroof. Die leë plek in ons wese wat geskep is vir Sy liefde, is oor eeue gevul met die ‘goeie’ aktiwiteite in die voortuin.

Sommige bly vir jare in die voortuin voordat hulle na iets meer verlang, maar die meeste bly daar vir altyd terwyl hulle wag vir Jesus om terug te keer.

Die realiteit is dat die grootste gedeelte van dit wat ons vandag ken as die kerk, in die voortuin van die paleis leef.

 

Die trappe

Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan (Heb 6:1)

Die trappe wat uit die voortuin na die paleis se deur lei, is die plek van skeiding. Dis die plek waar die wat tevrede is met die voortuin van gemaklik-Christenwees onderskei word van diegene wat meer soek.

Ek glo daar behoort in punt in elkeen van ons se lewe te kom waar ons besef daar is altyd dieper. Ons kan kies om onder aan die berg tent op te slaan of ons kan teen die heilige berg van die Here begin uitklim (Psalm 15 en Psalm 24).

Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? (Ps 24:3)

 

Die Vader se wil was nog altyd ‘n direkte verhouding met elke mens. Dink aan die volk aan die voet van die berg Horeb. Die Here het uit die vuur direk met hulle gepraat. Húlle het gekies dat Moses die tussenganger moes wees. Dit was nie so bedoel van begin af nie. Die volk was bang vir YHVH se heiligheid en dit is steeds net so vandag. Sy heiligheid dwing ons tot diep introspeksie, belydenis en bekering. Vleeslikheid kan nie wegkruip vir Sy heiligheid nie. En dit maak mense ongemaklik. Daarom word daar ook nie baie hieroor gepreek of gepraat nie. Mense word ongemaklik en ongemaklike mense gaan nie weer volgende week terugkom nie.

 

Die trappe is die plek waar ons vra vir meer. Ons vra vir die paleis se deure om oop te gaan sodat ons ‘n leefwyse van intimiteit en diep vriendskap met ons Bruidegom-Koning mag hê.

Op die trappe laat ons gewone Christenwees agter en stap in ‘n opwindende lewe van direkte Heilige Gees leiding in. Dit gaan ons uitdaag en aan dinge in die Koninkryk blootstel wat ons nie eers geweet het bestaan nie.

Ek wil weer vir jou die gebeure op die verhoog beskryf. Daar is ongelooflik baie mense in die voortuin. Hulle is besig met allerhande kerk aktiwiteite. Uit hierdie groep mense is daar ‘n jong meisie wat haar pad na die trappe van die paleis begin maak. Die honger desperaatheid in haar wys duidelik op haar gesig soos wat sy deur die skare beur. Die paleis se deur het oopgegaan en die Koning staan en wag vir haar. Sy roep die volgende woorde uit:

Laat hy my kus met kusse van sy mond. (Hgl 1:2a)

Wanneer ons vra vir soene deur Jesus Christus, vra ons vir diep een-tot-een persoon intimiteit. Dis nie moontlik om twee mense gelyktydig te soen nie.

Mense kyk haar snaaks aan, lag en spot met haar en bestempel haar as té en heeltemal uit balans uit. Haar familie en vriende kyk haar verslae agterna en is sommer vies omdat sy hulle manier van leef en samesyn omvergewerp het.

 

Ons motivering

In hierdie hoofstuk wil ek nie net die romantiese en ooglopende betekenis van die vers beskryf nie. Ek wil dieper gaan. Hierdie is mos: ‘Diep skatte in Hooglied’. Dit mag dalk vir sommige voel asof ek nou die lieflikheid van die eerste vers versteur met ‘n oproep tot introspeksie. Ons moet gestrek word sodat ons kan groei tot ‘n geestelike volwasse bruid van die Koning. Die groei proses vind binne die paleis plaas en ons moet seker maak dat ons vir die regte rede binne leef of graag binne wil leef.

Die vraag wat elkeen van ons moet beantwoord is waarom ons hierdie pad van intimiteit wil stap. Maak nie saak hoe lank ons al op die pad is nie, ons moet hierdie vraag ernstig oorweeg en antwoord:

Waarom soek ons meer?

Wanneer ons op ons geestelike pad begin, wys die Heilige Gees die openlike en duidelik herkenbare oortredings en sonde in ons lewens uit. Die dinge wat ons kan sien byvoorbeeld verslawings, krutaal en wêreldse partytjies. Later begin Hy die geheime van ons hart na vore bring. Dinge soos jaloesie, bitterheid, seksuele verslawings, vuil gedagtes ensomeer. Nog later werk Hy met ons gesindhede en slegte eienskappe. En dán kom ons op ‘n punt waar Hy die motivering van ons hart blootlê. Die waarom ons op ‘n sekere manier voel of optree. Die waarom ons sekere dinge begeer of vermy en waarom ons vir byvoorbeeld mense of dinge bang is. Ek weet nie of daar nog ‘n dieper vlak van selfondersoek is nie, maar die motivering van ons hart, lê baie baie diep.

 

Dit bring ons by hierdie noodsaaklike vraag wat ‘n eerlike antwoord benodig:

Hoekom wil ons geestelik meer hê?

 

‘n Paar opsies kan wees:

Ons het dalk iemand anders binne die paleis en hulle leefwyse van intimiteit met die Koning gesien en nou begeer ons dit wat hulle beleef. Die tipiese: ‘ek wil ook hê wat daardie persoon het’, of ‘ek wil ook die Here se stem so kan hoor’, of ‘ek wil ook ‘n profeet, apostel of bekende figuur wees’, of ‘ek wil ook ‘n groot geestelike figuur wees waarna mense kan gaan vir genesing, wonderwerke en ‘n profetiese woord’.

Nou is die vraag, gaan dit oor die belewenis of gaan dit slegs oor die Koning-Bruidegom binne die paleis en om Sy hart te mag ken?

 

Dalk wil ons die hoogste geestelike vlak bereik en as hierdie ‘n volgende stap is tot iets hoër, is dit mos net logies wees om meer te wil hê.

Die vraag is, gaan dit oor prestasie, gedrewenheid en trots om die hoogste geestelike sport te bereik? Wil ons ‘n naam vir onsself maak? Wil ons die grootste en mees effektiefste bediening hê? Wil ons hê mense moet weet wie ons is en weet hoe ver ons al geestelik gevordered het?

 

Miskien het iemand ons geleer dat ons ‘n sekere standaard van heiligheid moet bereik indien ons deel van die bruid van Jesus wil wees en nou is ons bang dat ons dit gaan mis.

Dan is die teenvraag dalk: dryf vrees ons om geestelik te groei?

 

Ons het dalk gehoor dat die Koning slegs diep geheime met diegene binne die paleis deel en voel nou uitgesluit omdat ons nie sulke diep openbarings of profetiese woord ontvang nie. In moderne taal, word dit genoem FOMO (fear of missing out). Is dit die motivering van ons hart? Is ons bang ons mis uit op wonderlike geestelike belewenisse en hoendervleis-oomblikke?

 

Hierdie is harde en moeilike vrae om te beantwoord en net die dapperste van die dapperes is bereid om so diep binne-toe te kyk om eerlik te kan antwoord.

 

Die toets

Ons eerste reaksie is om natuurlik in ontkenning te reageer op al die bogenoemde vrae. Dis ons vlees wat ‘n wal gooi sodat ons nie dieper moet kyk nie. Ons het werklik nodig om stil te raak by die voete van Jesus en die Heilige Gees te vra om die ware motief van ons hart aan ons te openbaar.

Die vraag wat ons onsself eerlik moet vra is:

Indien daar geen nuwe belewenisse, nuwe interessanthede, openbaring van geheime of spesiale salwings en roepings binne die paleis sou wees nie, sou ons dan steeds wou ingaan?

Ek glo die rede waarom die Koning vir haar die deur na dieper oopgemaak het, was omdat sy eers seker gemaak het van haar motief. Die enigste korrekte en aanvaarbare motief kry ons in vers 2 se laaste gedeelte. Dis die sleutel.

…want u liefde is kosteliker as wyn.

Om Jesus Christus te soek vir wie Hy is, is die enigste aanvaarbare rede. Daar is niks beter in hierdie lewe as om Hom te mag ken nie. Daar is niks in die hele wêreld wat kan bevredig soos Hy nie. As ons eers daardie besef gekry het en die Heilige Gees die smagting na Sy persoonlike soene in ons hart wakker gemaak het, sal ons nooit tevrede wees totdat ons in die diepste plekke van intimiteit in die paleis saam met Hom kan wees nie.

Wanneer ons hierdie diep intimiteit in Hom gevind het, word ons nie gedryf deur ‘n roeping, gawe of ‘n funksie nie. Om YHVH Elohim te aanbid vir wie Hy is raak ons enigste roeping en bediening. Daar is hopeloos te veel klem om jou roeping en gawe te vind in plaas daarvan om klem te lê op ware aanbidding vir wie Hy is. Uit die plek van ware aanbidding, raak ons eers werklik bruikbaar en dán vloei bediening deur middel van gawes.

I will be [fully] satisfied when I awake [to find myself] seeing Your likeness. (Ps 17:15b Amp)

 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.

css.php