Deur Yolandie Mostert (Mei 2023)
Sy haarlokke is golwende, swart soos ‘n raaf (Hgl 5:11b)
Swart haarlokke dui op hare wat nie verkleur van ouderdom nie. Dit bly dieselfde. Hierdie simboliek spreek van die onveranderlikheid van Jesus Christus.
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. (Heb 13:8)
Die eerste keer wat die Bybel van Jesus praat is nie in Mattheus nie. Tydens die skepping was Jesus reeds daar. Niks het ontstaan sonder Hom nie.
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. (Joh 1:1-3)
Dieselfde orde waarmee die aarde geskep was, is steeds Sy orde. Sy hart vir Sy skepping het nog nooit verander nie. Ons lees dat daardie orde weer herstel gaan word in die duisend jaar van vrede.
Jesus was die Man wat met Jakob geworstel het tot dagbreek.
Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. (Gen 32:30)
Hy het nog nie verander nie. Die mens wat vandag nog bereid is om deur die nag te worstel en te sê: “ek gaan nie laat gaan voordat U my seën nie”, sal geseënd wees en nooit weer dieselfde wees nie. Hy roep ons steeds uit plekke van gemak en vrees sodat Sy Naam verheerlik kan word in ons lewens. Hy is steeds die Een wat voor ons uitgaan. Dit het nog nooit verander nie.
Elke faset van Jesus Christus wat ons in hierdie reeks bespreek was van ouds af en sal tot in ewigheid nooit verander nie. Hy is onveranderlik en daarin kan ons groot vrede vind. Dit gee ons sekerheid. Ons kan na die patrone in die Ou Testament kyk en Hom herken in die Nuwe Testament en in ons lewens.
Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. (Jak 1:17)
Daar het ‘n leuen in die kerk ingesluip en word grootliks deur die ‘genade-beweging’ verkonding. Hulle sê dit nie in soveel woorde nie, maar dit kom daarop neer dat die Here amper iets soos ‘n persoonlikheidsverandering tydens die gebeure by die kruis ondergaan het. Volgens hierdie leringe, het die manier hoe Hy in die Ou Testament gewerk het, het verander. Toe was Hy hard, maar nou is Hy net liefde en genade. Toe het Hy harde profetiese woord gegee, maar nou is profetiese woord net sag en positief. Voor die kruis het Hy sonde geoordeel, maar nou oordeel Hy nie meer nie. Voorheen was heiligheid belangrik, maar nou kan mense leef en doen net wat hulle wil sonder gevolge. Vloeke en gevolge het bestaan voor die kruis, maar nou nie meer nie. En so kan ek aangaan. Alles wat nie strelend op die oor is nie, word as voor die kruis geklassifiseer en dit wat by die vleeslikheid en gemak van die mens pas, is na die kruis.
Hierdie is alles leuens uit die hel uit. Ek hoor soms mense sê: “trek die situasie deur die kruis”, of “by die kruis het die Here verander” of selfs “wat jy nou lees in Ou Testament, lees eerder net die Nuwe Testament”. Dis nie wat die Skrif leer nie. Daar is niks in die hele Bybel wat hierdie leuens ondersteun nie. Die Skrif sê Hy is onveranderlik.
So wat het verander?
Die Here self het verseker nie verander nie. Hy is steeds heilig en vereis steeds heiligheid. Hy is steeds liefde en vereis steeds liefde. Die manier van toegang tót Hom het verander. En die plek waar Sy instruksies aan ons gegee word het verander – van buite ons (wet op klip) na binne ons (wet of vlees). En in ‘n neutedop is dit basies al wat verander het. Geloof was ‘n vereiste tot geregtigheid lank voor die wet van Moses – Abraham was toe reeds geregverdig deur die geloof en ons word nogsteeds slegs geregverdig deur geloof.
Kom ons kyk na toegang tot Hom
Hy is ‘n heilige God en Sy heiligheid verteer alles wat onheilig is. Ons het dit reeds in ‘n vorige deel bespreek. Om tot ‘n heilige God te kon nader, moes die Israeliete die Torah, oftewel die wet, onderhou. Dit het hulle instaat gestel om voor Hom te kon staan sonder om verteer te word. Sy hart was reeds toe dat die mens moes kon nader kom. Die sondige natuur wat ingekom het in Adam het ‘n blokkasie veroorsaak sodat die mens nie kon nie.
Die Torah was die tugmeester of onderwyser totdat die permanente oplossing sou kom – die Nuwe Verbond (Gal 3:24-25). Nou is die instruksies nie meer op kliptafels geskryf nie, maar op ons binneste. Die inwonende Heilige Gees stel ons instaat om dit wat binne ons geskryf is te onderhou. Ons pogings is nie meer van buite af nie, dit kom van binne. Vergelyk Hebreërs 8.
Ons enigste toegang is nou deur die Bloed van die Lam. Sonder die Bloed kan ons steeds nie nader kom voor ‘n heilige God nie. Dis wat verander het – die manier van toegang tot ‘n onveranderlike heilige God. Hy het nie verander nie. Hy het die metode waarop ons Hom mag nader verander deur middel van die volmaakte werk wat Jesus Christus aan die kruis vir ons bewerk het. Dis genade – die feit dat ons mag nader kom op grond van die Bloed van Christus.
Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees (Heb 10:19-20)
Wat van die manier waarop Hy werk – het dit verander?
Ek sien regtig nie ‘n verandering in Sy metodes in die Skrifte nie. Wanneer ek deur die Ou Testament, deur die Evangelies en deur die sendbriewe lees, sien ek dieselfde metodes raak. Hy was toe ‘n God van liefde, genade en ontferming voor die kruis net soos wat Hy nou ook is. Hy roep steeds sondaars tot berou en bekering. Hy was nie toe hard en nou sag nie. Hy het nie toe geoordeel en harde woorde deur sy profete gegee en oordeel nie meer vandag nie. Met dieselfde oordeel oor godsdienstigheid, trots en valsheid waarteen Hy waarsku deur Sy Ou Testamentiese profete, oordeel Jesus die Fariseërs en Skrifgeleerdes. As ons dink dat die Here Sy standaarde in die Nuwe Testament verlaag het, gaan lees weer wat het met Annanias en sy vrou Saffira in Handelinge gebeur. Of die woord aan Simon wat met geld wou betaal sodat hy ook vir mense kon hande oplê. Gaan lees ook die boodskappe aan die sewe gemeentes in Openbaring. Daar is altyd bemoediging, waarskuwing, oproep tot bekering en oordeel as gevolg van ongehoorsaamheid. En dit is so Nuwe Testament soos wat jy kan kry. Die patroon het nog nooit verander nie. Jesus Christus is steeds dieselfde – gister, vandag en tot in alle ewigheid.
But He is unique and unchangeable, and who can turn Him? And what His soul desires, that He does. (Job 23:13)
Ons kan veiligheid vind in die onveranderlike natuur van ons wonderlike hemelse Vader, ons Messias en die soet Gees van die lewende God. Die Here is nie ‘n mens dat Hy sou verander nie. Hy het nie buie nie en werk nie met ons volgens gevoel nie. Hy is altyd regverdig en met dit bedoel ek nie regverdig volgens menslike standaarde nie. Ons het ‘n ander standaard van regverdig wat bepaal word of ons iemand ken of nie. Die Here is nie so nie. Hy is altyd regverdig – met almal. Hy is altyd vol liefde en genade. Ons kan regtig soveel sekuriteit en vrede vind in ons onveranderlike God.
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde