Die Nasireër Bruid

Terwyl ek in die afgelope week so in my gedagtes biddend bly, kom hierdie twee woorde so duidelik by my op: “Nasireër bruid”. Net om die woorde te hoor, het reeds in my gees geroer en ek het geweet dat die Heilige Gees ‘n diep waarheid aan my wil openbaar. Ek het begin oplees oor die die Nasiriese gelofte en begin bid vir die openbaring. Die volgende dag was ek in my kar oppad dorp toe en die Heilige Gees het soos baie kere tevore terwyl ek bestuur dit vir my oopgebreek. Ek deel dit graag met julle.

 

Verskillende groepe mense

Kom ons bekyk Israel van bo af in die tyd van die Ou Testament. Die nasies rondom die klein strokie land was almal heidene – hulle het nie die God van Abraham, Isak en Jakob geken nie. Binne die grense van Israel was God se volk. Hulle was uitgeken deur die fisiese teken van die besnydenis. Onder hulle was daar diegene was gehoorsaam was aan die Torah, maar daar was ook die wat net ‘n Jood was omdat hy in ‘n Joodse gesin gebore was. Hulle was net Jood in naam en nie in gedrag nie. Binne God se volk was ook die priesters en skrifgeleerdes. Daar was ook ‘n klein klompie profete. Dan was daar ‘n baie klein groepie mense wat uit enige van hierdie groepe kon kom – hulle was genoem Nasireërs. Nasireërs het anders gelyk as die res van die volk, hulle optrede was ook anders.

Die Nuwe Testamentiese kerk kan in soortgelyke groepe opgedeel word. Ons kry die wat nie die Here ken nie – die ongelowiges. Dan kry ons die kerk (eklesia) wat die geestelike teken van besnydenis dra op hulle harte. Binne die kerk, is daar die wat die Here eer in ‘n leefwyse. Daar is ook die wat net naam-Christene is; hulle is daar omdat hulle in ‘n Christelike gesin gebore is of het dalk eens op ‘n tyd warm gebrand, maar leef nou ‘n nominale lewe met een voet in die wêreld een voet in die kerk. Daar is ook die voltydse apostels, profete, leraars, herders en evangeliste. Uit al hierdie groepe is daar ‘n klein klompie mense wat dieper wil gaan en meer toegewyd wil leef – hulle is die Nasireër-bruid van Jesus Christus.

 

Hoe het iemand ‘n Nasireër geword?

Party mense is reeds voor hulle konsepsie geroep as ‘n Nasireër. Simson is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Ander se ouers kon ‘n belofte afgelê het soos byvoorbeeld Hanna wat vir Samuel afgesonder het vir die diens van die Here. Die Skrif het ook ‘n toelating gemaak vir enige een anders. Enige een van God se volk, man of vrou, kon ‘n Nasiriese belofte afgelê het. Dit was gelding vir ‘n tydperk of permanent.

 

Die Nasiriese voorskifte:

Ons lees dit in Numeri 6:2-8

Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As ‘n man of ‘n vrou ‘n besondere gelofte aflê, die gelofte van ‘n nasireër, om hom aan die HERE te wy, moet hy hom van wyn en sterk drank onthou; wyn-asyn en asyn van sterk drank mag hy nie drink nie, ja, geen druiwesap mag hy drink nie en geen vars of gedroogde druiwe eet nie. Al die dae van sy nasireërskap mag hy niks eet van alles wat van die wynstok gemaak is nie, selfs nie van die pitte en doppe nie. 

Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan die HERE toewy, moet hy heilig wees—hy moet die hare van sy hoof vry laat groei. 

Al die dae dat hy hom aan die HERE gewy het, mag hy nie by ‘n dooie kom nie. Aan sy vader of sy moeder, aan sy broer of sy suster—aan hulle mag hy hom nie verontreinig as hulle dood is nie; want die wyding van sy God is op sy hoof. 

Al die dae van sy nasireërskap is hy heilig aan die HERE. 

 

Wat beteken die woord Nasireër?

Die Hebreeuse woord is nâzı̂yr en volgens die Strongs woordeboek beteken dit separate, consecrated. Hierdie persoon was afgesonder en totaal en al toegewy aan die Here.

 

Tekens van ‘n Nasireër

Volgens die Skrif is daar drie voorskrifte: hy mag die wyn of enige produk van die wingerd ingeneem het nie, hy mag nie sy hare gesny het nie en hy moes weggebly het van dooie liggame.

Hierdie mense het uitgestaan tussen hulle volksgenote. Jode het nie tipies baie lang hare gedra nie. Om wyn en druiwesap te drink was ook ‘n daaglikse praktyk onder Jode, veral in tye waar vars water nie altyd so vrylik beskikbaar was nie. Die tekens van hulle Nasireërskap het hulle anders laat lyk as die res van die Here se volk.

 

Die kroon van God

Ons lees in die laaste gedeelte van Num 6:7: want die wyding van sy God is op sy hoof. Die betekenis van die woord wyding is: consecration, crown, separation, dedication. Dit implikasie is vir my so mooi. Omdat hierdie persoon so toegewyd was aan sy God, was die kroon van YHVH op sy of haar hoof. Die lang hare was ‘n fisiese teken aan mense dat hierdie persoon afgesonder vir die Here was.

 

Die drie tekens

Kom ons kyk na die simboliek van die drie tekens wat ‘n Nasireër laat uitstaan het:

Hare

Geestelike lang hare dui op ons toewyding. Die mate van toewyding waarmee ons die Here dien laat ons uitstaan in die liggaam van Christus (tussen mede-gelowiges). Die Hebreeuse woord Qadash beteken set-apart, holy and consecrated.

Kan ander in ons leefwyse en spraak ons toewyding aan die Here herken? Leef ons so dat die kroon van ‘set-apartness’ van die Here op ons hoof is? ‘n Ander manier om dit te vra is: lewe ons agter die sluier, verborge in God?

In Hooglied lees ons dat die bruid van Jesus soos ‘n oopgebreekte granaat agter die sluier leef. Wanneer ‘n meisie verloof geraak het, het sy haar met ‘n sluier bedek. Dit het daarop gedui dat sy nie meer beskikbaar was vir ander nie – haar hart het volkome aan haar verloofde behoort. Haar lewe was verborge in God, saam met haar Bruidegom?

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. (Kol 3:3) 

 

Wyn

Wyn beteken enige wêreldse genietinge – enige iets wat vir ons lekker is. Hiermee sê ek nie dat ons nie dinge mag doen wat vir ons lekker is nie, maar is hierdie dinge ons baas? Hoe moeilik is dit om dit op te gee, vir ‘n tydperk of permanent? Kan ons ook soos die meisie in Hooglied 1:2 sê: “U liefde is beter as wyn”. Is Jesus vir ons daardie een pêrel wat ons gevind het, waarvoor ons bereid is om alles te verkoop. Paulus vertel in Fil 3:8 dat hy alles wat eens vir hom belangrik was, later as drek beskou het. Alles het gegaan om Christus as wins te verkry.

Ek noem ‘n paar voorbeelde van dinge wat as ‘wyn’ geklassifiseer kan word: stokperdjies, sport, kossoorte, ontspanning, mense, televisie, youtube, partytjies, inkopies, wêreldse sisteme, geld, ‘nice’ dinge wat geadverteer word en besittings.

Richard Wurmbrand vertel in sy boekie: “Preparing for the underground church” hoe hy homself gedissiplineer het toe hy in Amerika gekom het:

You have to use the things of the world without allowing an emotional attachment. I personally use an exercise. I live in the United States of America. Can you imagine what an American supermarket looks like? You find there many delicious things. I look at everything and say to myself, “I can go without this thing and that thing; this thing is very nice, but I can go without: this third thing I can go without, too.” I visited the whole supermarket and did not spend one dollar. I had the joy of seeing many beautiful things and the second joy to know that I can go without.

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. (1 Joh 2:15-17) 

 

Verontreining met dood

Die dood wys na die koninkryk van dood en duisternis. Ons behoort niks daarmee te doen te hê nie. Ons kan nie met dit eksperimenteer nie. Ons kan ons tempel ook verontreining deur ons woorde en gedagtes. Spreek ons woorde van dood? Dink ons gedagtes van dood of dinge wat aan die duisternis behoort? Hoe lyk ons lewe – tree ons op soos mense wat in lig en lewe wandel of soos iemand wat geestelik dood is?

Ons lees in 1 Tim 5:6 dat ‘n vrou wat losbandig is, is lewendig dood. Hierdie geld nie net vir fisiese losbandigheid en vir vrou nie. Enige iemand wat homself beskou as ‘n bruid van Christus en geestelik losbandig lewe (met ander woorde met dinge van die duisternis hoereer) is lewendig dood.

 

Simson

Simson is nie ‘n lekker storie nie. Dit het nie ‘n gelukkige einde nie en is nie ‘n storie wat ons graag mee wil assosieer nie. Simson was ‘n afgesonderde en toegewyde van voor sy konsepsie af. Sy Nasireërskap was ‘n teken van hierdie spesiale roeping op sy lewe – hy moes Israel van die Filistyne bevry. Daar was ‘n salwing op sy lewe wat hom instaat gestel het om hierdie doel te kon bereik. ‘n Maklike manier om salwing te verduidelik: dis die ‘woema’ wat bonatuurlik oor ‘n mens kom – dis uit die gees en nie vlees nie. Toe Simson die duisend man verslaan het met ‘n eselkakebeen, was dit as gevolg van die salwing wat oor hom vaardig geword het. Solank as wat hy getrou in sy Nasireërskap gewandel het, was hierdie salwing beskikbaar.

Ongelukkig lees ons hoe Simson hierdie salwing en roeping verag het. Hy het homself verontreining toe hy die heuning uit die karkas van die leeu gehaal het. Onthou, hy was nie vanonderstel om naby iets wat dood was te kom nie, hoeveel meer die lyk van ‘n onrein dier. Ek glo dis ook hoekom hy nie sy ouers vertel het waar hy die heuning vandaan gekry het nie.

Alhoewel die Skrif nêrens uitdruklik sê dat Simson gedrink het nie, kan ons aflei uit die Skrif dat hy wel het. Vir iemand wat prostitute besoek het, sou dit natuurlik gewees het om ook wyn te drink.

Laastens het Simson toegelaat dat sy hare afgeskeer word. Hy was immers die een wat na hoeveel keer se bedrog die inligting vir die Filistyne gegee het. Deur sy eie toedoen het hy die teken van sy salwing en roeping gering geag.

Dink net aan die vermetelheid van iemand wat vergeet het dat die Here se genade die salwing aktief hou en dat dit nie as gevolg van sy goedheid of verdienste was nie. Hy self het opgestaan en gesê: ek sal weer losbreek soos die vorige kere. Dit terwyl hy in aktiewe sonde en ongehoorsaamheid geleef het.

 

Simson se ondergang

Terwyl ons regdeur Simson se lewe kon sien hoe sy eie goddeloosheid op ‘n ramp gaan afstuur, was Delíla die finale oorsaak van die ondergang. Delíla was iemand wat in verbond (‘covenant’) met hom was. Hulle was nie getroud nie, dus was hierdie ‘n verbond met die dood. Ons kan hieruit sien dat enige iets of iemand wat inspraak in ons lewe het as gevolg van verbond, ons uit ons roeping kan haal.

Die realiteit is dat Simson dit toegelaat het. Hy het oop oë daarin geloop, of miskien was hy so besluier dat hy nie eers meer helder kon sien of dink nie.

Sonde steel ons salwing en roeping.

Simson se doel was om die volk te bevry. In plaas daarvan het hy sy tyd gemors op hoerery. Waarmee hoereer ons geestelik?

 

Verbond met die dood

Die Here het deur die profeet Jesaja tot die volk gespreek rakende hulle verbond met dood. Weereens sien ons die vermetelheid van vlees wat inkom en dink dat hierdie verbond ‘n beskerming sal bied.

Daarom, hoor die woord van die HERE, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Jerusalem is! Omdat julle sê: Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek— daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie. En Ek sal die reg tot ‘n riglyn maak, en die geregtigheid tot ‘n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel. En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word. (Isa 28:14-18) 

‘n Paar voorbeelde van hedendaagse verbonde met dood is:

  • Aktiewe sondige leefwyse / gedagtes
  • Onbelyde sonde
  • Geheime of openbare sondes
  • Voorgeslagte se ongeregtigheid (bloedlyn)
  • Vrees
  • Woorde van dood
  • Sekuriteit in die Babiloniese sisteem
  • Geestelike hoogmoed

 

Die hoë roeping

Ons heel eerste prioriteit moet wees om die hoë roeping te bereik in Jesus.

Fil 3:14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

Die konteks van Fillipense 3 is volmaaktheid en geestelike volwassenheid – om in die beeld van Jesus Christus te groei en daaraan gelykvorming te raak.

Ons almal het dieselfde roeping. Nie een van ons kan sê ek weet nie wat my roeping is nie. Party het dalk of weet dalk van iets spesifieks waarvoor die Here ons geroep en gesalf het bv. Simson. Steeds kom hierdie individuele roepings nooit bokant die hoë roeping nie.

Ons het salwing nodig om ons roeping te vervul, anders is dit uit die vlees en uit werke en nie gees nie. Ons eer ons salwing deur toegewyd en heilig te leef – om ‘n geestelike Nasireër bruid van Jesus Christus te wees.

Laat ons toe dat Delíla ons uit ons roeping haar? Laat ons toe dat Delíla ons van ons salwing beroof?

 

Vlees teenoor gees

Simson moes aan die einde van homself gekom het. Hy moes besef dat slegs God sy bron van krag was en dat die oorsprong van sy salwing vanuit God se Gees gekom het. Hy het dit nie verdien nie. Dit was nie vir sy voordeel of roem nie. Daar was ‘n spesifieke doel waarvoor dit aangewend word.

Ons sien so baie hoe mense God se salwing vir roem aanwend. Agter die skerms hoor ons van losbandigheid en ‘n aktiewe lewe van sonde. Is ons dan verbaas dat die Here die salwing onttrek vanaf die persoon. Die persoon voel steeds gedruk om wonderwerke te doen, maar die bonatuurlike krag van God is nie meer daar nie. Wat dan gewoonlik gebeur is dat dit wat in die gees begin het, in die vlees eindig en dan kom die vals heilige gees (Kundalini) in.

Op die einde van die dag het Simson ‘n oorwinning oor die Filistyne behaal. Ons lees dat hy meer doodgemaak het met sy dood as tydens die tyd wat hy geleef het. Tog is dit nie ‘n lekker einde nie. Simson se storie getuig van ‘n lewe met ‘n spesiale roeping wat gemors was. Hy kon soveel meer bereik het.

Simson se verhaal herinner my aan wat Paulus geskryf het in 1 Kor 3:11-15. Die vuur het oor sy werk gegaan en omdat hy met hooi en stoppels gebou het, is dit verteer. Hy is gered, maar soos deur vuur heen.

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. 

 

Die Nasireër bruid

Ek eindig met Psalm 45:11-12.

Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader; en as die Koning u skoonheid begeer—want Hy is u Heer—buig u dan voor Hom neer. 

 

Kom ons besluit vandag om alles neer te lê en ‘n totale toewyding te maak aan die Koning van konings. Mag ons lewe anders lyk en mag die res van die liggaam van Christus die kroon van God op ons hoofde sien. Mag Sy salwing altyd oor ons vaardig wees sodat ons die hoë roeping kan bereik.

css.php