Die mooiste Naam

Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

 

U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief. (Hgl 1:3)

 

Hierdie vers het drie gedeeltes wat ons moet ondersoek. Eerstens verwys dit na die aangenaamheid van die Bruidegom se salwing. Tweedens word die salwing aan Sy Naam gekoppel en dit word uitgegiet. En laastens is daar ‘n reaksie as gevolg van die eerste twee gedeeltes – liefde volg.

Hierdie Engelse vertaling breek dit ook mooi oop:

Your anointing oils have a wonderful fragrance; your name is like anointing oil poured out. This is why young women love you— (Songs 1:3 CJB) 

 

Die Hebreeuse woord vir salf of olie is shemen en dit verwys na ‘n vloeibare olie, soos byvoorbeeld olyfolie. Nog beskrywings is olie wat gegeurd is en ‘n parfuum vorm, ook salwing, vrugbaarheid en ‘n ryk volheid (‘richness’).

 

Daar is salf beskikbaar by die Bruidegom in die vorm van gegeurde, vloeibare olie. Dis aangenaam van geur en ons kan dit slegs by Hom vind. Dis nie sommer net gewone olie nie, dit bevat die volheid van die salwing van ons Hoëpriester uit die orde van Melgisédek.

… ‘n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek (Heb 5:9b-10) 

Hoe wens ek dat die Hebreërs skrywer nog so bietjie meer kon uitbrei oor hierdie priesterorde. Maar hy sê in vers 11 dat hy nog so baie het om daaroor te sê, maar dat dit moeilik is om te verduidelik. Mag die Heilige Gees vir ons dieper openbaring gee.

Ons enigste pad tot redding is deur die Seun van God. Ons redding is in Sy Naam. Ongeag in watter taal Hy aangeroep word op aarde. Wanneer ons uit die diepte van ons gees uitroep na Hom, vind daar ‘n konneksie plaas met die diepte ín Hom. Dit gaan nie oor die klanke, klinkers en letters nie. Dis aards. Dis slegs ‘n manier hoe ons onsself kan uitdruk sodat ons verstaan kan word. Dis eintlik sinneloos om te redeneer watter uitspraak en spelling van Sy Naam die mees korrekste is, wanneer dit gees is wat met gees kommunikeer.

 

Omdat die Seun gehoorsaamheid geleer het in dit wat Hy gely het (Heb 5:8), het die Vader Hom gesalf as die enigste waardige hoëpriester, die enigste een wat vir ons versoening mag doen. Jesus het vir ons die patroon gegee. Eers gehoorsaamheid, eers ‘n wil wat neergelê word, en daarna kan die salwingsolie vloei. Dis daardie unieke salwing wat ‘n aangename geur in die gees vrystel.

 

Wanneer ons Sy Naam gebruik, word dieselfde olie of salf uitgegiet. Ek stel myself ‘n ramshoring voor wat vol olie gemaak is. Soortgelyk as wat Samuel gebruik het om Dawid te salf. Hierdie vloeibare salwing is opgesluit binne Sy Naam.

Soos ek reeds genoem het, gaan dit nie oor die klanke en klinkers nie, maar oor die outoriteit en karakter wat opgesluit is in Sy wese – Sy Naam. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir naam is shêm en dit verwys na die eer, posisie, outoriteit en karakter van ‘n persoon.

Die salwing vloei nie meer of minder wanneer ons Jesus, Yeshua of Yahushua gebruik nie. Die salwing vloei uit Sy wese, Sy karakter en Sy posisie van outoriteit uit. Uit vleeslikheid probeer mense die gesalfde Hoëpriester is ‘n boksie van klanke beperk, terwyl die heelal Hom nie eers kan bevat nie. Hy is soveel meer as klanke en letters. Sy wonderlikheid en lieflikheid is so groot dat dit die Vader behaag het om die ganse volheid in Hom te laat woon (Kol 1:19).

En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word (Joël 2:32) 

Dieselfde woord, shêm, word ook in hierdie vers gebruik. Wanneer ons Sy Naam, ongeag die spelling, aanroep, is die volheid van Sy totale karakter en wese tot ons beskikking.

Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag (Kol 2:9-10) 

 

Nog ‘n plek waar ons die woord shemen vind, is in die volgende vers in Jesaja.

And the yoke will be destroyed because of the anointing oil. (Jes 10:27 NKJV)

Dis alleenlik deur die rykdom van die salfolie wat slegs in Jesus gevind word, dat jukke vernietig kan word. Wanneer die ware salwing teenwoordig is, kom mense vry van die jukke van godsdienstigheid en ander gebondenheid. Dis gees en krag, nie vlees en woorde nie.

 

Die outomatiese reaksie is dat hierdie volheid en rykdom van die geur die jonkvroue nader trek.

Wie is die jonkvroue? Hulle is nie die meisie (die bruid) nie. Hulle is ook nie die dogters (weergebore ekklesia) nie. Hulle moet nog by die kruis uitkom. As ons dieselfde prentjie van die paleis gebruik, is hulle dié wat in die straat beweeg. Hulle is nog nie in die tuin nie. ‘n Ander woord wat vir hulle gebruik kan word is: ongered. Die probleem in ons westerse wêreld en Christenlande is dat mense in Calvinistiese teologie geleer word dat hulle ingesluit word op grond van die geloof van hulle ouers. Daarom vind die meeste mense nooit die nut om weergebore te word nie. En so bly hulle op die straat en ontdek nooit die tuin en paleis nie – vasgevang in ‘n sisteem van godsdienstige leuens.

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. (Joh 3:3) 

 

In die vorige hoofstuk oor die verband tussen Hooglied en Openbaring, verduidelik ek dat die Bybelboek Openbaring nie net ‘n vertelling is van dinge wat aan die einde van die eeu gaan gebeur nie. Maar dat dit ook ‘n openbaring van die Lam van God is. Hierdie openbaring is stelselmatig en toenemend besig om te ontvou voor die oë van diegene wat uit godsdiens kon losbreek en in ‘n verhouding met Hom wandel. Ons leef reeds in die laaste uur – die tydperk waarin die volheid van wie Jesus Christus is, geopenbaar word.

Die volheid en rykdom wat in Sy karakter opgesluit is, vul mens met bewondering en aanbidding. Dis nie net die jonkvroue wat deur die salf geaffekteer word nie. Eens op ‘n tyd was die meisie in Hooglied (die bruid) ook maar net ‘n jonkvrou. Sy kon die stap tot in die tuin gee en van daar af die paleis van intimiteit binne gaan. Dis dieselfde aangename geur wat haar ook getrek het.

 

Hoe meer ons oorrompel en ingeneem word deur die Seun van God, hoe meer kan ons deel hê aan hierdie aangename salwingsolie. Sy geur gee af aan ons en daardeur trek ons ook die jonkvroue na Hom toe.

Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. (2 Kor 2:14) 

Watter kennis moet ons versprei? Nie teoretiese kopkennis, redenasies en debatte nie. Nee, eerstandse kennis van Jesus Christus self. Dis waar die krag van die salf lê. In Sy karakter, wese en outoriteit.

 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.

css.php