Yolandie Mostert, 19 April 2023
Deel 6 van die reeks oor Wie is die Bruidegom
My beminde is … rooi (Hgl 5.10)
God van wraak, o HERE, God van wraak, verskyn in ligglans! (Ps 94:1)
Hierdie is een van die minder bekende fasette van Jesus Christus. Daar word ook nie baie boodskappe hieroor gegee nie. En om aan Jesus te dink as ‘n vegter en wreker maak die meeste mense ongemaklik. Tog is hierdie faset nét soveel deel van Jesus as elke ander faset soos byvoorbeeld genade, barmhartigheid en sagmoedigheid.
Soos wat Hy Homself toenemend openbaar, vul dit my met groter bewondering vir wie Hy is. En wat Hom net nog soveel meer wonderlik maak is dat Hy getrou bly aan elkeen van Sy karaktereienskappe. Hy is nooit getrou aan die een ten koste van die ander nie. Hy vervul Homself te alle tye in wie Hy is.
In die Bybelboek Openbaring, sien ons hierdie faset heelwat. Min mense besef dit, of dink so daaraan, maar Jesus is die Een wat die eindtyd gebeure aktiveer. En dit sluit die bakke van wraak van die Vader in, wat oor ‘n rebelse mensdom uitgegiet gaan word. Wanneer ons later na Jesus as die Waardige gaan kyk, gaan ek meer hieroor deel. Maar ek wil dit tog hier noem sodat dit vir ons konteks gee. Jesus Christus is die Lam van God, die enigste wat waardig gevind was om die sewe seëls oop te maak. Die boekrol bevat die eindtyd gebeure in kronologiese volgorde. Die oopmaak van die eerste seël bring alles in beweging.
Ons leef tans in ‘n tydperk van genade. En hoe lankmoedig is die Here nie met ‘n mensdom wat in totale rebellie teen Hom die vuis swaai nie. Maar daar kom ‘n dag wat die genade gaan uitloop. Ons lees daarvan in Openbaring 6:17 – die dag van die toorn van die Lam. In die Engelse vertaling is die woord wrath wat beteken: geweldige, geregverdigde passie, straf, woede, verontwaardiging en wraak.
and they called to the mountains and the rocks, “Fall on us and hide us from the face of Him who sits on the throne, and from the [righteous] wrath and indignation of the Lamb; for the great day of their wrath and vengeance and retribution has come, and who is able to [face God and] stand [before the wrath of the Lamb]?” (Rev 6:16-17 AMP)
Die Bloed van Jesus Christus en Sy wonderlike offer word jaar in en jaar uit vertrap en as niks gereken deur ‘n arrogante mensdom, maar dit gaan net voortduur tot op ‘n dag. Die Ou Testamentiese profete noem hierdie dag, die dag van Sy wraak. Jesus Christus is die wreker en dit behoort ons met groot ontsag, bewondering en aanbidding te vul. Nie met vrees nie, Godsvrees ja, maar die wat waarlik in Hom is, is nie bestem tot Sy wraak nie en Hy sal syne bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom (Open 3:10).
Jesaja het in hoofstuk 63 hierdie eienskap wat in Hooglied 5:10 deur die kleur rooi verteenwoordig word, geprofeteer. Hierdie gedeelte is ‘n kragtige beskrywing van Jesus Christus as die Een wat die parskuip in grimmigheid trap. Ek haal vers 1 tot 4 aan.
Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?
Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom.
Ons vind die vervulling van die profesie in Openbaring 19:11-15:
Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.
Soos ek reeds genoem het, behoort hierdie faset van Jesus Christus se karakter ons met bewondering en Godsvrees te vul. Maar nie met vrees vir straf nie. Hierdie eienskap gaan Hy aan Sy vyande openbaar.
Die HERE sal uittrek soos ‘n held; Hy sal die ywer opwek soos ‘n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar. (Jes 42:13)
Hy is nie soos ‘n mens met onregverdige en ongeregverdige woede nie. Of wat in passie en woede dinge doen waaroor hulle later spyt is nie. Terwyl Hy die parskuip in Sy ywer en toorn gaan trap, gaan Hy steeds regverdig wees met elke mens. Hy gaan steeds getrou wees aan elke ander faset. Sy liefde gaan nie minder word in daardie tyd nie. Vir ‘n menslike begrip is dit amper onmoontlik om te verstaan. En dis hoe wonderlik Hy is.
Hy verdien ons eer. En daarom word hierdie lofsang Hom toegesing.
Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. (Open 5:12)
Let op dat twee van die dinge wat Hy ontvang, die krag en die sterkte is. Hy ontvang dunamis-krag. Dis die vermoë om te kan vermag. Dis wat agter ‘n aksie sit – die krag. Sterkte is die vermoë om te kan weerstaan en verdra. Dis uithouvermoë te midde van teëspoed. Beide hierdie eienskappe behoort aan Jesus Christus. Dis nie net eienskappe wat in Hom herken word nie. Wat ek hierby bedoel is dat daar dalk 2 manne in ‘n groep van vyf is in wie die eienskap van krag in hulle gespierdheid herken kan word. Die krag is nie ‘n fisiese ding wat aan hulle behoort nie. Dit word slegs in hulle herken. Dis nie wat hier bedoel word met die krag en sterkte wat aan Jesus Christus behoort nie. Hy dra nie net hierdie eienskappe nie. Dit is Syne. Hy raak die bron van alle krag, die eienaar en oorsprong. Totdat Hy dit weer alles aan Sy Vader onderwerp. Hierdie faset waarvan ons in 1 Kor 15:28 lees, sal ons ook as deel van ‘n latere boodskap bespreek.
Ek sluit hierdie gedeelte af met twee versies uit die eerste hoofstuk van die boek Nahum. Gaan lees asseblief die hele hoofstuk self. Jesus Christus se getrouheid aan eienskappe wat vir die mens teenoor mekaar staan, kan baie mooi hier gesien word.
Vers 2 en 3:
‘n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande. Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.
Vers 7:
Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8