Die groot verdrukking – Mattheus 24 (Deel 5 – Die einde van die eeu)

Agtergrond

Ons is besig met ‘n eenvoudig, logiese studie van die Skrifte rakende die eindtyd. Die doel is om waarheid te verkondig en seker te maak dat die oorblyfsel (die bruid) gereed is om die Koning te ontmoet en voorbereid is om haar rol te speel in die laaste dae.

Hierdie is nie ‘n gekompliseerde studie nie. Ons is doodgewone mense wat waarheid op ‘n praktiese manier verkondig in ‘n taal wat jan en alleman kan verstaan.

Dis belangrik om hierdie studies in volgorde deur te werk. Moenie dit net lees nie. Gaan ondersoek self en maak seker dat jy die waarheid vir jouself ontdek.

In die vorige skrywe het ons begin om deur Mattheus 24 te werk. Ons het bestudeer tot by vers 20. Ons vertrekpunt is nou vers 21. Jesus kondig af dat die groot verdrukking op hierdie tydstip gaan begin. Dis waar ons gaan optel.

 

Nóú begin die groot verdrukking

Mattheus 24:21-26

Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. (Matt 24:21) 

Die volgende indeling begin weer met die woorde DAN. Dit wat volg op die afskaffing van die offers en die opstelling van die ontsettende gruwel is die groot verdrukking.

Onthou wanneer word die ontsettende gruwel afgeskaf – drie en ‘n halwe jaar in die sewe jaar periode. Jesus sê ons gaan dit SIEN gebeur.

Die groot verdrukking word so genoem omdat dit die ergste verdrukking ooit sal wees. Daar was al baie slegte periodes van verdrukking en vervolging regdeur die geskiedenis van die mensdom. Die verdrukking in hierdie tydperk gaan erger wees.

Daar is baie mense wat sê dat hierdie gedeelte in Mattheus 24 slegs op die Jode van toepassing is. Dis nie waar nie.

 

Die uitverkorenes gaan op aarde wees in hierdie tydperk

Mattheus 24:22

En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. (Matt 24:22) 

Ons lees dat die groot verdrukking verkort gaan word. As die tydperk nie korter gemaak gaan word nie, sal niemand dit kan oorleef nie. Dan lees ons ter wille van wie word dit korter gemaak: die uitverkorenes.

Omdat die wat uitverkies is deur die Vader op aarde gaan wees, gaan die groot verdrukking kort geknip word. Die meeste gelowiges sien hulleself as uitverkore volgens die voorkennis van God. Ek dink nie dis moeilik om te sien van wie Jesus hier praat nie.

Terloops, tot op hierdie punt was daar nog geen sprake van enige wegraping nie. Jesus het ook nog nie meldig gemaak dat daar ‘n tweede groep gelowiges bestaan, die sogenaamde ‘tributlation-saints’ nie. Dis heel eenvoudig om die Skrif te laat sê wat dit sê as ons dit lees sonder enige voorkennis of vooropgestelde idees.

 

Die groot verdrukking word kort geknip

En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. (Matt 24:22) 

Kom ons staan vir nog ‘n oomblik stil by vers 22. Daar is nog ‘n woord om te ondersoek: Verkort.

Die Griekse woord koloboō, beteken: to dock, curtail, mutilate, shorten. Ons kry die beeld van iets wat stomp afgesny word. ‘n Ander sinoniem is om te amputeer.

Ek glo hierdie kort afsny hou verband met die Skrif dat slegs die Vader die presiese dag en uur weet. Jesus het tot op hierdie plek presies vertel hoe alles gaan plaasvind en hoe gebeure op mekaar gaan volg. Hy dra kennis van al die eindtyd gebeure en deel dit met ons sodat ons ook kan wees. Hoe is dit dan dat Hy nie die dag en die uur weet nie? Kan dit wees dat slegs die Vader weet wanneer Hy die opdrag gaan gee om die groot verdrukking kort te knip?

Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. (Matt 24:36) 

 

Hoe lank duur die groot verdrukking?

Die kort antwoord is dat ons nie weet nie.

Dit begin na drie en ‘n halwe jaar. Dit het ons nou reeds vasgemaak. Sou die groot verdrukking voortgegaan het tot aan die einde van die sewe jaar periode, sou dit maklik gewees het om te antwoord: 3½ jaar.

Maar nou word dit kortgeknip. Dus, dit is korter as 3½ jaar, maar niemand van ons weet hoeveel korter nie. Ek glo dit is logies sover.

Ek weet dit klink soos ‘n herhaling, maar hierdie stelling is belangrik: die groot verdrukking is nie sewe jaar lank nie. Daar is geen Skriftelike grond hiervoor nie.

 

Die groot gevaar van die groot verdrukking

Mattheus 24:24-26

Dis vir my baie interessant dat Jesus van verdrukking en vervolging gepraat het oor die dae voor die groot verdrukking. Met ander woorde, die tydperk van die geboortepyne en die tydperk van die verdrukking. Dit wat oploop tot en met die gebeure in die middel van die sewe jaar periode.

Maar wanneer Jesus ons waarsku teen dit wat gaan kom in die groot verdrukking, is die dinge waarteen Hy waarsku nie fisies nie, maar geestelik.

As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. (Matt 24:23-24) 

Ons word gewaarsku teen vals christusse – die wat sê dat hulle die Messias is.

Ons word gewaarsku teen vals profete – die wat sê dat hulle spreekbuise is vir die Here, maar hulle spreek uit hulle eie.

Ons word gewaarsku teen groot wonderwerke wat deur hierdie twee kategorieë gedoen gaan word. Hierin lê ‘n groot gevaar vir die bewegings in die liggaam wat gefokus is op ervaring en die bonatuurlike sonder grondige Skrifkennis. Jesus waarsku ons dat wonderwerke gaan plaasvind, maar dat die bron nie noodwendig suiwer sal wees nie.

Die rede vir hierdie valsheid is om die uitverkorenes te mislei. Daar gaan ‘n oorlog met ‘n goed uitgewerkte strategie wees om die uitverkorens, die oorblyfsel, die bruid (wat ookal die term is wat jy verkies) te mislei. Hierom is dit ongelooflik belangrik vir ons om nugter te wees (of te raak as jy nie is nie) oor die geestelike dinge. Dis nodig om met waarheid omgord te wees. Dis nodig om die Skrifte vir jouself te ken. Dis nodig om ‘n persoonlike verhouding met die Gees van die Lewende God te hê en Sy stem direk te kan hoor. Dis gevaarlik om op tweedehandse kennis en uitleg staat te maak.

 

Ons gaan nie kan sê ons het nie geweet nie

Jesus het ons gewaarsku. Dit sal ons betaam om gehoor te gee. Hy gaan voort met sy waarskuwing in vers 26. Wanneer hierdie nabootsers vinger wys na waar jy vir Jesus kan vind, moet ons hulle nie glo nie. Ek glo die vers kan fisies sowel as geestelik verstaan word. Ons het nodig om reeds saam met Hom te wandel in die tuin van intimiteit. Dit sal dan nie nodig wees vir ons om op mense staat te maak om ons na Hom te wys nie. Ons sal reeds weet waar om waarheid, krag, salwing en wysheid te ontvang.

Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. (Matt 24:25-26) 

 

Maak op die Heilige Gees staat

Ek kan nie genoeg klem lê nie: ons het nodig om op die Heilige Gees staat te maak soos nog nooit tevore nie. Ons kan nie langer van mense afhanklik wees vir geestelike leiding nie.

‘n Mens kan nou sê: “maar wat van vorige generasies van gelowiges wat na die prediking van ander moes luister”, “leer die Bybel ons dit self om na ander te luister nie”.

Die antwoord is eenvouding: Ja, maar onthou dat hierdie ‘n verdrukking sal wees soos wat daar nog nooit was nie. Ons beweeg in tye in wat die mensdom nog nooit vantevore beleef het nie. Die spel het verander en ons moet daarby aanpas.

 

Die tydlyn

As ons ‘n inskrywing op ons tydlyn kan maak, sal dit op hierdie punt wees dat die groot verdrukking in volle swang aan die gang is en dat die uitverkorenes op die aarde is. Tot op hierdie punt is daar nog geen aanduiding van ‘n wegraping of wederkoms nie. Ek glo dis duidelik uit die Skrif.

 

Jesus antwoord nou die dissipels se vraag

Onthou jy nog die drie vrae wat die dissipels vir Jesus in vers 3 gevra het? Jesus is nou op die punt om die tweede vraag te antwoord.

Hulle wou weet wat is die teken van U koms? Hierdie twaalf manne wou seker wees dat hulle nie vir Jesus mis nie. Daar was tekens wat Sy eerste koms aangedui het en net so wou hulle weet waarvoor hulle moes uitkyk vir Sy tweede koms.

Sy antwoord volg in vers 27 en 28.

Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. (Matt 24:27-28) 

In moderne taal sou dit dalk so kon klink: My koms gaan so duidelik herkenbaar wees soos wanneer ‘n weerligstraal aan die ooste van die horison slaan sodat dit tot die lug aan die weste van die horison helder laat skyn. Ons gaan Sy koms nie kan mis nie.

Wanneer daar ‘n dooie liggaam in die veld lê, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat aasvoëls begin draai. Dis hoe logies en maklik herkenbaar Sy koms gaan wees.

Sodra ons die tekens sien, is dit net ‘n kwessie van tyd en dit gaan duidelik sigbaar wees. Ons hoef nie bekommerd te wees om dit dalk mis te kyk nie. Ek hoop die verduideliking van hierdie twee verse maak vir jou sin sover.

 

Nou kom ons aan die einde van die groot verdrukking

Jesus gaan steeds voort met sy volgorde vertelling van die einde van die eeu. Hy het in die vorige verse presies verduidelik wat tydens die groot verdrukking gaan plaasvind, wie op aarde gaan wees en wat die strategie van die vyand gaan wees. Nou kom ons by die einde van die verdrukking.

Onthou dat die groot verdrukking kort geknip gaan word. Wat nou volg is die gebeure na die kort knip (of amputasie).

En dadelik ná die verdrukking van daardie dae… (Matt 24:29a)

 

Die verskyning van Jesus

Daar is nou ‘n paar dinge wat gebeur en hier moet ons mooi oplet want dit gaan belangrik raak wanneer ons die gebeure in Openbaring parallel met die gebeure in Mattheus 24. Julle gaan sien hoe dit presies bo-op mekaar pas. Maar dit is vir later.

  • Die son gaan donker word
  • Die maan se glans gaan verdwyn
  • Daar gaan sterre tot op die aarde val
  • Daar gaan aardebewings wees (kragte word geskud)
  • Jesus self gaan as teken in die hemel verskyn
  • Almal gaan Hom kan sien
  • Die stamme van die aarde gaan in rou wees oor Hom
  • Hy kom met groot krag en heerlikheid
  • Hy kom op die wolke
  • Hy stuur Sy engele uit met harde trompetgeluide
  • Hulle versamel Sy uitverkorenes wat nog op aarde is

 

Afleidings sover

  • Daar gaan definitiewe herkenbare natuurverskynsels wees wat Jesus se koms gaan kenmerk. Op hierdie punt wil ek noem dat hierdie verskynsels ooreenstem met wat die Ou Testamentiese profete beskryf het as die aanbreek van Dag van die Here. Ons sal dit nog breedvoerig bestudeer.
  • Jesus se koms gaan nie in die geheim wees nie.
  • Tussen vers 1 en hierdie vers is daar geen sprake van ‘n geheime wegraping nie.
  • Die uitverkorens is nog op die aarde. Hulle word deur die engele versamel.

 

Wanneer is die wegraping?

Die kort antwoord is: vers 31.

En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan. (Matt 24:31) 

Direk ná die groot verdrukking geamputeer is, ter wille van die uitverkorenes, verskyn Jesus en gee opdrag vir sy uitverkorenes om versamel te word deur die engele.

Ek glo dat die Bybel die woord versameling gebruik vir die term wat by ons bekend is as wegraping. Onthou dat die woord wegraping, of in Engels, rapture, nêrens in die Bybel voorkom nie.

Die woord uitverkorenes is eklektos in Grieks en beteken: select, chosen, elect.

 

Wat gebeur na die wegraping?

Op hierdie punt voel ek dis belangrik om te noem dat hierdie nog nie die einde van eeu is nie. Dis die einde van die groot verdrukking en die wegraping van die uitverkorenes.

Nou breek die tydperk aan na wat die Bybel verwys as die Dag van die Here of die Dag van Sy wraak.

Onthou die vrae wat die dissipels vir Jesus gevra het? Hy het hulle tot op hierdie punt geantwoord. Later wys Jesus vir Johannes op die eiland Patmos wat verder gaan gebeur. Wanneer ons die gebeure van Mattheus 24 en Openbaring bymekaar gaan bring, gaan dit wat ek nou sê perfek sin maak. Vir nou verwys ek jou na die volgende vers in Openbaring:

want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan? (Open 6:17) 

Lees ook vir jouself die paar verse voor hierdie een vir konteks. Ek glo dit sal maklik wees om vir jouself die parallel te kan trek.

 

Die res van Mattheus 24

In vers 32 begin Jesus met die vertelling van twee gelykenisse waarmee Hy Sy koms vergelyk. Ons al in ‘n aparte skrywe na hierdie gelykenisse kyk.

 

Afsluiting en pad vorentoe

Hiermee sluit ons dan die bestudering van Mattheus 24 af. Ons het reeds ons volgende stop – die profesieë in die boek van Daniël. Daarna sal ons kyk wat die ander profete geskryf het, spesifiek ook oor die Dag van die Here. Wanneer ons deur dit gewerk het, glo ek ons sal gereed wees vir dit wat Jesus vir Johannes in Openbaring gewys het.

Om dinge dalk ‘n bietjie duideliker te maak rakende die onderskeid tussen die Groot Verdrukking en die Dag van die Here, sal daar ‘n kort studie wees voordat ons na Daniël aanbeweeg.

css.php