Die einde van die eeu (Deel 4) – Mattheus 24

Deur Yolandie Mostert 

Nota: Hierdie skrywe is die vierde in ‘n reeks oor die gebeure en tydlyn aan die einde van die eeu. Hierdie deel handel oor die vraag: “waarom ons ons enigsins moet bemoei moet eindtyd gebeure.”

 

Begin by Mattheus 24 – die oploop tot die groot verdrukking

Soos wat ek reeds in die eerste deel verduidelik het, maak dit logies sin om dieselfde vertrekpunt as die dissipels te hê rakende die einde van die eeu. Net soos wat ons nuuskierig is en graag in maklike terme wil weet wat gaan gebeur, was dit dieselfde met die twaalf dissipels.

 

Die agtergrond

Jesus is in Jerusalem vir die jaarlikse pasga. Die spanning neem toe en in Mattheus 23 spreek Jesus die skrifgeleerdes en die Fariseërs baie hard aan. Terwyl hulle wegstap bewonder die die dissipels die tempel en Jesus vertel hulle dat die hele tempel afgebreek gaan word. Vandaar af stap hulle verder tot by die Olyfberg en gaan sit. Hulle moes seker die hele pad gewonder het, en daarom die vrae in Mattheus 24:3. Hulle wil drie spesifieke dinge wees en Jesus antwoord hulle in die res van die hoofstuk reguit, logies en in volgorde.

Hulle vra:

  • Wanneer sal hierdie dinge wees
  • Wat is die teken van u koms
  • En van die voleinding van die wêreld?

Hulle vra baie spesifiek uit oor die voleinding van die eeu (end of the age) en Jesus se wederkoms. Hou dit ingedagte as jy self Jesus se antwoord bestudeer. Dis hulle vrae wat Hy antwoord in die res van die hoofstuk.

 

Met wie praat Jesus hier?

Dis ‘n baie relevante vraag met ‘n baie logiese antwoord. Jesus praat met sy twaalf dissipels. Hy praat privaat met hulle. Daar is sommige wat redeneer dat Jesus in hierdie spesifieke hoofstuk met hulle praat as Joodse manne (verteenwoordigers van die Joodse volk) en nie as die eerste verkondigers van die evangelie nie (gelowiges). Die rede hiervoor lê in die komplikasie van die teks. Indien Jesus met hulle sou praat as die eerste verkondigers van die evangelie, met ander woorde, as gelowiges in Jesus Christus as die Messias, dan beteken dit dat die kerk al hierdie dinge gaan beleef waaroor Jesus praat. Dit pas nie in met baie se eindtyd doktrienes nie. Indien Jesus met hulle sou praat as Joodse manne en nie gelowiges in Jesus nie, sal dit mooi inpas met die doktriene dat die kerk weg gaan wees tydens al hierdie gebeure.

Ons het nodig om met dieselfde mes beide kante toe te kan sny. Ons moet regverdig en eerlik wees in ons lees van die Skrifte. Indien ons hier verkies dat die Skrifte slegs op die Joodse nasie van toepassing is, moet ons dan ander geleenthede waar Jesus ook met Sy dissipels alleen praat, so interpreteer. ‘n Relevante voorbeeld kan dalk wees terwyl hulle die laaste pasga saam geniet. Die boek van Johannes bevat vier hoofstukke van lering deur Jesus aan die tafel (Johannes 15 tot 18). Is dit dan ook net op die Joodse nasie van toepassing en nie op die ekklesia nie?

Orals waar ons in die Evangelies Jesus se leringe aan Sy dissipels lees, sien ons dit as op onsself, as diegene wat deur hulle geglo het, van toepassing. Hoekom nie hierdie hoofstuk nie? Omdat dit dalk die vrees in ons harte na vore bring?

 

Tydlyn

Op hierdie stadium is die doel nog glad nie op spesifieke tye op die tydlyn af te merk nie. Ons wil net eers stap vir stap deur Jesus se verduidelik werk. Ek gaan dit opdeel en onder die opskrifte plaas soos wat Jesus dit genoem het. In die volgende deel sal ons meer vleis bysit soos wat ons na die profete gaan begin kyk. Soos wat jy Mattheus 24 deurwerk, probeer om jou vorige kennis eenkant te sit en die Skrifte te lees en te verstaan vir wat dit sê.

 

Die begin van die smarte

Mattheus 24:4-8

‘n Paar dinge word gelys en dan som Jesus dit op in vers 8 deur dit die begin van die smarte te noem. Wanneer hierdie dinge gebeur is dit nog nie die einde nie. Die dinge is:

  • Misleiding
  • Baie sal in die Naam van Jesus (lyk asof hulle in Sy outoriteit kom) en mense mislei
  • Oorloë en gerugte van oorloë
  • Nasies gaan teen mekaar opstaan
  • Hongersnode
  • Pessiektes
  • Aardbewings op verskillende plekke

 

Die verdrukking

Mattheus 24:9-14

Vers 9 begin met die woorde DAN (Engels: then). Met ander woorde, Jesus is steeds besig met ‘n volgorde. Na alles wat tot en met vers 8 gebeur het, volg die gebeure van vers 9 en verder.

  • Die eerste ding wat gaan gebeur is dat ons aan verdrukking oorgegee gaan word.
  • Daar gaan ware kinders van die Here doodgemaak word
  • Al die nasies gaan die ware kinders van die Here haat
  • Baie gelowiges gaan struikel
  • Daar gaan interne verraad en verraaiery gebeur onder gelowiges
  • Daar gaan interne haat wees, ook onder gelowiges
  • Daar gaan baie valse profete wees. Met ander woorde, diegene wat sê hulle het by die Here gehoor, maar hulle het nie. Die woord kom uit vlees en uit ‘n ander gees uit.
  • Hierdie valse profete gaan baie Christene mislei. Hierdie profetiese woord gaan so aanklank vind by gelowiges dat hulle dit gaan glo en mislei word.
  • Die ongeregtigheid gaan meer word. Dit gaan lei tot die verkoeling van baie se liefde (gaan lees weer deel 3 oor die belangrikheid van die liefde). Wat baie interessant is, is dat die woord vir verkoeling die Griekse woord psuchō Dis die enigste plek in die Bybel waar hierdie woord gebruik word en dit hou verband met stadige asemhaling wat lei tot afkoeling. My opinie is dat die inname van vals woord wat geinspireer word deur die vals gees uiteindelik sal lei tot die geestelike versmoring van baie gelowiges.
  • Die wat volhard tot die einde, sal gered word. Let op tot wanneer moet ons volhard: tot die einde toe.
  • Al die nasies moet die getuienis kry van die Evangelie van die koninkryk. Daar is sommige wat sê dat elke liewe mens eers die Evangelie moet hoor. Dis nie wat hier staan nie. Dit sê: tot getuienis van al die nasies. Iets terloops ook: dit wat verkondig moet word is die Evangelie van die KONINKRYK. Ek sal ‘n aparte lering hieroor doen. Dis nie net die Evangelie van verlossing nie.

(Net ‘n nota, hierdie is nog nie die groot verdrukking of die wraak van God nie. Dit kom nog)

 

Die gruwel van verwoesting

Mattheus 24:15-20

Jesus gaan voort en beskryf nou ‘n spesifieke insident wat moet plaasvind. Hy verwys ons terug na dit wat opgeskryf is deur die profeet Daniël. Hierdie is ‘n baie belangrike merker op die tydlyn. Ons kry die presiese oomblik wanneer die gruwel van verwoesting opgerig gaan word. Dit help ons om die res van Mattheus 24 in breë kategorieë te plaas.

Die situasie tot dusver:

Die afdeling begin weerens met die woord DAN. Dit is steeds gebeure wat die een na die ander op mekaar volg. Ons het nou reeds die agtergrond van die geboortepyne, die verdrukking en misleiding het teen hierdie tyd so toegeneem dat die meeste gelowiges se liefde verkoel het. Daar is onderlinge haat en verraad tussen gelowiges. Dis ‘n baie slegte prentjie van die kerk. Omdat die liefde van die meeste verkoel het, kan ons ook sê dat daar steeds ‘n minderheidsgroep binne die kerk is wie sê liefde nie verkoel het nie. Ek glo dis ‘n logiese afleiding.

Waarna moet ons oplet?

Daar gaan ‘n gruwel opgerig word in die heiligdom. Wanneer ons dit SIEN gebeur, moet ons oplet en dan volg ‘n reeks instruksies wat nodig is vir oorlewing.

Op hierdie punt is dit belangrik om te blaai na Daniël toe. Dis immers waarheen ons verwys word deur Jesus. Voordat ons dus gaan verder lees in Mattheus 24, gaan ons eers ‘n ompad deur Daniël neem.

 

Die profeet Daniël

Daar is drie verwysings na hierdie gruwel in die boek Daniël – in hoofstuk 9, hoofstuk 11 en hoofstuk 12.

Daniël 9:27

En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word. 

Uit die konteks en die meeste skoliere stem saam dat die HY in hierdie teks verwys na die antichris. Die voorafgaande verse handel oor die sewe sewetalle profesie. Daar is ‘n aparte skrywe wat hiermee deel. Een week is gelykstaande aan ‘n periode van sewe jaar. Daar gaan dus ‘n baie sterk verbond gesluit word tussen die Antrichris en baie.

Ons lees verder dat in die helfte van hierdie sewe jaar tydperk, met ander woorde drie en ‘n half jaar in, gaan daar ‘n verandering plaasvind. Slag en spysoffers gaan gestaak word. By implikasie kan ons aflei dat die sewe jaar verbond iets te doene het met die toestemming tot slag en spysoffers.

Die term wat gebruik word: ‘op die vleuel van gruwels’, beteken bo-op al die gruwels wat hierdie persoon reeds gedoen het, kom daar verwoesting. Ons het nodig om die ander twee aanhalings in Daniël ook te lees om ‘n voller prentjie te kry.

Daniël 11:31 

En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. 

Die konteks van die voorafgaande verse is bondgenootskappe en oorloë. Nou lees ons ook van ‘n offer wat afgeskaf word ‘n die opstelling van die ontsettende gruwel.

Hier kom geskiedkundige kennis baie handig te pas. Die hele hoofstuk het presies net so afgespeel in die eerste eeu na Christus. Antiochus Epiphanes, het die tempel oneer deur ‘n vark op die altaar te slag. Hy was aan die hoof van ontsettende vervolging van toegewyde Jode.

Aan die einde van hoofstuk 11 verwys die engel weer na die einde van die tyd. Hierdie gebeurtenisse het reeds gebeur, maar gaan in ‘n groot mate weer herhaal word. Spesifiek, die oprigting van die gruwel, alhoewel die Bybel nie vir ons presies sê in watter vorm hierdie gruwel gaan wees nie.

My opinie is dat Antiochus Epiphanes ook ‘n tipe van die antichris is.

Daniël 12:11 

En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. 

Hierdie is die derde laaste vers in die boek Daniël. Hy is baie nuuskiering en vra die engel wat die uiteinde van alles gaan wees. Die antwoord is dat die woorde verseël moet word tot op die tyd van die einde. Dan gee die engel een laaste leidraad. Ek dink nie die geheim oor die tyd in hierdie vers is reeds ten volle geopenbaar nie. Daar is nog te veel spekulasie oor wat die 1290 dae beteken. Onthou dat drie en ‘n halwe jaar optel na 1260 dae. Hier is 30 dae wat nie verklaar is deur die engel nie. Vir ons studie is slegs die verwysing na die gruwel op hierdie stadium belangrik. Hier is ‘n derde bevestiging dat daar geoffer gaan word, dat die offers afgeskaf gaan word en dat ‘n ontsettende gruwel opgerig gaan word.

 

Betekenis van die woorde:

In Engels word daar verwys na ‘the abomination that makes desolate’.

Abomination (gruwel) se betekenis is: detestable thing or idol, abominable thing, abomination, idol, detested thing.

Makes desolate: to be desolated, be deflowered, be deserted, be appalled, causing horror, to devastate, ravage, make desolated.

Ek glo dis eenvoudig om die implikasie te kan sien uit die betekenis van die woorde. Iets baie slegs gaan opgerig word met geweldige nagevolge.

 

Terug na Mattheus 24:

Wanneer ons dan terugkeer na Mattheus 24 met dit wat ons nou nagelees het, kan ons al die waarskuwings van Jesus verstaan.

Uit die konteks van die waarskuwings, praat Jesus met die toegewyde Jode – die wat by implikasie deel gehad het aan die daaglikse offers. Ek dink wel dat die intense vervolging nie slegs op die Jode van toepassing gaan wees nie, maar almal wat die Verbond van YHVH eer. Die Ou Verbond, sowel as die Nuwe Verbond. Lewe deur die vlees (onderhouding van kliptafel-wette), sowel as lewe deur die Gees (onderhouding van die geestafel-wette). Beide gaan vir die antichris, die vyand van Jesus Christus, ‘n steen des aanstoots wees.

Die waarskuwings:

  • As jy in Judea is (waar Jerusalem geleë is), vlug na die berge.
  • Hulle moet dadelik vlug. Sodra hierdie gruwel opgerig word, gaan daar nie nog tyd wees vir rustig pak en klaarmaak nie. Dis die implikasie van vers 17 en 18.
  • Om te vlug is nooit maklik nie, veral nie as ‘n vrou swanger is of ‘n jong baba het wat geborsvoed moet word nie (vers 19)
  • Op dieselfde nooit, om te vlug wanneer dit koud is en sneeu is bitter moeilik.
  • Ortodokse Jode stap slegs ‘n sekere hoeveelheid treë op die Sabbat. Daarom beveel Jesus aan dat hulle nou al bid dat hierdie gebeurtenis nie op ‘n Sabbat moet plaasvind nie. Terloops, vorm hierdie gebed deel van ons gebedslys?

 

Ter wille van spasie en om die studies verteerbaar te hou, gaan ons op hierdie noot afsluit. Ek wil tog graag een laaste punt uitlig:

 

Waar trek ons nou?

Aan die einde van ons studie gaan ons ‘n behoorlike tydlyn optrek. Vir nou kan ons al begin met die raamwerk en invul soos ons vorder.

Wat weet ons?

  • Ons weet dat die Skrif praat van ‘n sewe jaar periode. In ons studie het ons nog nie dit presiese beginpunt nagevors nie.
  • Ons weet dat daar in die middel van hierdie sewe jaar periode ‘n ontsettende gruwel opgestel gaan word. Ons gaan dit sien met ons oë. Ek dink ons kan eerlik sê dit het nog nie fisies gebeur nie.
  • Ons weet ook dat vir offers of afgeskaf te word, die offerstelsel ingestel moet word. Ook op hierdie punt, dit het nog nie gebeur nie.
  • Ons weet dat daar geboortepyne gaan wees (lees weer vers 4 tot 8). Hier glo ek almal sal saamstem dat dit reeds so is. Dis al vir baie jare aan die opbou.
  • Ons weet dat daar valsheid in die kerk gaan inkom. Dis sekerlik alreeds ‘n realiteit. Ek dink nie enige een sal hiermee verskil nie.
  • Ons weet dat die evangelie van die koninkryk tot getuienis van al die nasies moet verkondig word. Hierdie stap is nodig vir die einde om te kom, nie vir die openbaring van die antichris nie. Die kerk het alreeds ver gevorder, maar dis nog nie voltooi nie.

 

As ek dit vinnig kan opsom, glo ek ons staan op die vooraand van die openbaring van die antrichris en van die instelling van die offers.

 

Die groot verdrukking begin nou

Ek hardloop myself nou vooruit, maar let so lank op vers 21. Wanneer die gruwel van verwoesting opgerig word en die offers afgeskaf word, breek die groot verdrukking aan. Volgens Daniël gebeur dit 3 en ‘n halwe jaar na die verbond gesluit is. Die groot verdrukking is dus nie sewe jaar nie.

Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. (Matt 24:21)  

 

Wat staan ons te doen?

Terwyl daar nog gunstige tye is, versamel soveel olie en ekstra olie as wat jy kan. Koop die tyd uit. Doen alles in jou vermoë om jouself geestelik te versterk en voor te berei op dit wat voorlê.

Ef 5:16  en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. 

 

In die volgende deel gaan ons voort met die res van Mattheus 24.

css.php