Die einde van die eeu (Deel 3) – Ons uitkyk

Inleiding

Hierdie skrywe deel met ‘n geweldige belangrike tema en dis HOE ons na eindtyd gebeure kyk. Kyk ons met vrees? Sien ons dit as ‘n straf? Of kyk ons na die potensiaal van ‘n oorryp oes wat ingesamel moet word?

Ek persoonlik het voorheen geen positiewe uitkyk na enige van die eindtyd-dinge gehad nie. Ek was net te dankbaar dat ek nie meer op die aarde gaan wees wanneer al hierdie verskriklikhede gaan aanbreek nie. Met skaamte moet ek ook erken dat ek nie ‘n saak gehad het met ‘n verlore wêreld en wie vir hulle die evangelie gaan gee as die kerk weg is nie. Ek was bekommerd oor my direkte familie en vriende, maar oor die res het ek bloot nie omgegee nie.

Iets wat ook nooit by my opgekom het nie was waarom die Bybel so breedvoerig deel met gebeure waarvan die wat die Bybel lees nie gaan deel hê nie.

Ek glo die meeste mense dink nie met baie positiewe gedagtes aan die eindtyd nie. Die kerk is amper gebreinspoel met prentjies van die apokalips. Flieks en boeke beskryf ‘n tydperk van totale uitwissing en chaos (dit gaan heel waarskynlik so lyk), maar die potensiaal vir die Koninkryk word nooit verkondig nie. Die voordeel van die oliepers (verdrukking) en die olie wat uitloop, word bitter min verkondig as iets positiefs.

 

Besware

Een van die eerste verdedigings wat mens hoor wanneer die foute van die ‘pre-trib’ doktriene uitgewys word, is dat die Here nie nooit swaar oor die bruid sal toelaat nie. Of waarom die Bruidegom Sy bruid aan vervolgings sal blootstel. Die motiewe en die vrese in ons hart word met hierdie redenasies duidelik ontbloot.

Op dieselfde noot, verdedig baie Christene (uit die westerse wêreld) dat die Here nie sal toelaat dat enige iets slegs met Sy kinders sal gebeur nie. Ek kan nie help om te wonder wat die vervolgde gelowiges in die Midde-Ooste, in China en in Noord-Korea op hierdie stelling sal sê nie. Vervolging en verdrukking is reeds hulle daaglikse realiteit.

Ander besware is dat ons nie bestem is tot wraak of tot toorn nie en daarom sal ons nie op aarde wees in hierdie tydperk nie.

Nog ‘n beswaar is dat die kerk era afgesluit word en die Here Sy fokus terugskuif na die Joodse nasie en daarom moet die kerk weg wees vir dit om te gebeur. Terwyl ek dit tik, besef ek net weer hoe verregaande dit is om dit dink dat die Vader nie op twee plekke gelyktydig kan fokus nie. Dis waar dat die verharding ten dele oor Israel gekom het, todat die volheid van die heidene ingegaan het (Rom 11:25). Die vraag is wánneer die volheid van die heidene klaar ingegaan het. Daar is nie ‘n enkele Skrif wat sê dat dit vir die laaste sewe jaar van hierdie eeu gaan wees nie.

Soos ons deur die studie gaan, sal daar nog besware en argumente bespreek word. Vir nou wil ek net eers fokus op hoe ons na die Koninkryk en na die lewe as ‘n geheel kyk.

 

Die rol van voorspoed-beweging

As daar een nou een beweging is wat geweldig baie skade aan die liggaam van Christus gedoen het, is dit die sogenaamde voorspoedsteologie-beweging. Die fokus van hierdie beweging is die voorspoed en seëninge wat ‘n gelowige lewe volg. Skrifgedeeltes wat handel oor heiligmaking, beproewings en toetse word as uitgedien afgemaak. Die Vader se liefde word nie in konteks met Sy geregtigheid gesien nie. Vir iemand met hierdie denkwyse is dit baie moeilik om in te sien dat daar goed uit swaar kan kom. ‘n Boodskap oor Getsemané en die aflê van die wil, word nooit gegee nie. Om hierdie rede, kan daar ook nie ware salwing vloei nie. Olie kom slegs deur drukking van die oliepers.

Die Bybel belowe seëninge, dis heeltemal waar. Maar die Bybel belowe ook verdrukking en vervolging. Die probleem met die mensdom vandag is ‘n humanistiese uitkyk van eie gerief en opinie. Vir die mens draai alles om homself, nie om die koninkryk nie. Ongelukkig het dit oorgevloei na die kerk toe. Die Here is daar om aan ons behoeftes te voorsien, amper ‘on-demand’. Dis andersom – ons is die wat ons kruis moet opneem en Hom moet volg. Ons behoort so dankbaar te wees vir reddende genade, dat ons ons hele lewe neerlê vir Hom.

 

Vervolging is normaal

Voordat ek die bespreking begin, voel ek dis nodig om eers die Skrifte aan te haal wat hierdie uitdagende stelling regverdig. Dit word ongelukkig nie as normatief gesien of gepreek nie.

Matt 13:20-21  En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. 

1 Pet 4:12  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie

2 Tim 3:12  En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 

Joh 15:20  Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.

Mat 5:10  Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 

2 Tim 2:3  Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus. 

Joh 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Rom 5:3-4  En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop

Hierdie is alles Nuwe Testamentiese Skrifte wat deel met vervolging en verdrukking. Ek glo is duidelik om hieruit te sien ons vervolging nie as iets vreemd moet sien nie. Inteendeel, ons behoort vervolging te verwag. Die blote feit dat ons in ‘n Godsdiensvrye land woon en die voordeel daarvan kan geniet, maak nie hierdie stellings minder waar nie. Ons elkeen behoort onsself geestelik voor te berei op vervolging. Vervolging is ook nie net altyd fisies nie, maar wanneer ons regtig staan vir wat reg is, sal ons teenkanting kry van die mense rondom.

As fisiese en/of geestelike vervolging nie ons realiteit is nie, behoort ons onsself eerlik af te vra of ons regtig Godvrugtig leef (2 Tim 3:12). Elkeen wat waarlik die Vader se wil doen, sal mense wat normatief wil leef ongemaklik maak. Die koninkryk van duisternis sal ook nie tevrede wees met jou nie en jy sal aanvalle kry.

 

Die gevaar van vrees

Daar is min dinge, indien enige, wat die versteekte dinge in ons hart so na vore laat tree, soos moeilike omstandighede. Dis baie maklik om Bybelverse op sosiale media te deel en raad en opinies vir elkeen te mag hê. Tot wanneer die tekkie die teer slaan….

Ons is vinnig om te sê dat ons nie bang is nie. Is dit rêrig die waarheid? As ons baie eerlik met onsself is, sal ons begin agterkom hoeveel lae op lae van verskillende soorte vrese ons in ons binneste saamdra.

Vrees om werkloos te wees. Vrees vir siekte, vir lyding, vir dood. Vrees vir wat mense sal sê. Vrees om haweloos te wees. Vrees vir mishandeling. Vrees vir uitsluiting uit die samelewing. En so kan ek aangaan.

Dit bring ons by twee ander soorte vrese wat baie relevant tot die eindtyd, en spesifiek rondom wanneer die wegraping gaan plaasvind, is.

  • Die eerste is die vrees om agter te bly.
  • Die tweede is die vrees vir wat voorlê.

Kom ons kyk vinnig na elkeen van hierdie vrese:

Die vrees om agter te bly

Hierdie vrees het sy oorsprong in die doktriene dat jy eksie-perfeksie moet wees om gereed te wees vir die wegraping. Party gaan selfs sover om te sê as jy nou-net ‘n oortreding begaan het, en die wegraping vind sekondes daarna plaas, het jy jou kans gemis het en deur die sewe jaar van verdrukking moet gaan. Jou verhouding met die Here en jou ‘track-record’ gaan jou niks help nie.

Die uitvloeisel van hierdie tipe vrees is godsdienstigheid en geestelike gedrewenheid (performance). Omdat die mens so desperaat moet perfek wees, raak dit eie pogings en werke. Dit lei direk tot godsdienstige trots in die geval van sukses of wanhoop in die geval van mislukking.

Alhoewel dit skynbaar reg en edel voorkom en Skrifte soos Hebreërs 12:14 (en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie) tereg aangehaal word, word daar vergeet dat dit die Here is wat die goeie werk in ons sal klaarmaak. In plaas daarvan dat die mens deur die gees dag vir dag gelei word in die proses van heiligmaking, plaas die mens homself aan die stuur en probeer desperaat ‘n sekere standaard bereik sodat hy tog net nie sal agterbly nie.

omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus (Fil 1:6) 

Deel van hierdie vrees om agter te bly, is ook gegrond in die volgende vrees: die vrees vir dit wat voorlê.

Die vrees vir wat voorlê

Oor die jare het die kerk ‘n vreesaanjaende prentjie geskets van die einde van die eeu. En verstaan my reg, ek maak dit glad nie af as iets wat nie bitter moeilik gaan wees nie. Jesus self sê immers dat dit ‘n verdrukking sal wees soos wat daar nog nooit tevore was nie.

Ek dink die probleem lê dat ‘n punt agter alle besprekings gesit was en dat daar nooit gepraat was oor die Here se bonatuurlike beskerming en voorsiening nie. Ek persoonlik het ook nog nooit gehoor van die verkondiging van die evangelie en die insameling van die laaste oes nie. Die fokus was net nog altyd op die slegte en dit is ‘n fout.

Mense is so bang gemaak, dat hulle vrees die liefde en jammerte vir verlore siele uitgedryf het. Ons het net onlangs met ‘n jongman gepraat wat ook met die ‘pre-trip’-wegraping konsep groot geword het. Hy was vir ‘n malmens aangesien omdat hy wou agterbly, want wie sou die evangelie vir die wat agterbly verkondig. Hierdie tipe liefde vir verlore siele was (en ook steeds) bloot nie by mense gekweek nie. Dit is amper ‘n ‘elke-man-vir-homself’ evangelie.

Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. (1 Joh 3:16) 

 

Liefde en vrees bly nie in dieselfde huis nie

Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. (1 Joh 4:18) 

Dit sal ons goed doen om die hele hoofstuk te lees. Johannes verduidelik hoe ons in die Vader bly en hoe die manier waarop ons God en mekaar liefhet, die volmaaktheid van ons liefde bepaal. As ek die hoofstuk reg verstaan, word volmaakte liefde direk gekoppel aan ons liefde vir mekaar.

In plaas daavan, dat ons in godsdienstigheid verval in ‘n poging om perfek en heilig te wees, sal dit ons eerder baat om ons liefde vir die Here en vir mekaar te laat groei. Dit behoort die fokus van ons strewe te wees. Vertikale en horisontale liefde. Dis tog die kapstok waaraan die hele wet en die profete hang. Sonder die kapstok van liefde, is daar niks om die verordeninge en instellings aan te hang nie.

Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. (Matt 22:40) 

Hoe meer ons kan groei in volmaakte liefde, hoe minder sal die vrese in ons hart word. Die liefde self sal die vrees uitjaag.

Hoe meer ons passievol kan liefhê, hoe minder sal ons bang wees vir dit wat voorlê. Die fokus moenie wees om self die vrees te probeer uitjaag deur dit óf te onderdruk óf te veg nie. Fokus op die volmaakte liefde en die vrees sal vansself loop.

 

Drukking bring olie voort

Want drukking van melk bring botter voort, en drukking van die neus bring bloed voort, en drukking van die toorn bring twis voort. (Spr 30:33) 

Ek is baie lief vir die prentjie van die oliepers. As jy nie seker is hoe ‘n antieke oliepers gelyk het nie, loer weer na die tema-prentjie van hierdie skrywe. Die olywe word in die pers gegooi en dan word die steen oor die olywe gerol totdat die olie uitgeloop het.

Die enigste manier om ware salwingsolie te produseer is deur persing. Die alternatief is vals-salwing, ‘n goedkoop namaaksel wat nie die toets van tyd sal kan deurstaan nie.

Hoe meer die drukking op die kerk, hoe sterker en suiwerder die olie. Deur net na die geskiedenis te kyk, sal hierdie stelling as ‘n feit bewys. Orals waar daar vervolging en verdrukking is, word die evangelie met dapperheid en krag verkondig. Die liefde onder mekaar is sterk en die kerk groei.

Dis jammer om te sê, maar die beste preke, lerings, kampe en boeke gaan nie vuurwarm Christene voortbring nie. Al wat gebeur is die kerk raak al hoe vetter van kennis, maar daar is geen ervaring en krag wat die kennis in aksie plaas nie. Kennis beteken niks sonder praktiese toepassing nie.

Slegs verdrukking gaan die kaf van die koring kan skei. Dis dan wanneer mense besluit of dit waarin ‘n hulle glo, sterk genoeg is om voor te sterf. Op hierdie tydstip groei die koring en die kaf saam, maar met die oestyd sal dit maklik wees om te sien wie is wat. Dis die doel van die verdrukking.

 

Thlipsis

Die Griekse woord vir verdrukking soos gebruik in Mattheus 24:21 is thlipsis. Een van die betekenisse van hierdie woord is drukking (pressure). Dit pas so mooi by die prentjie van die oliepers wat fisiese drukking veroorsaak.

Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte. (Spr 17:3)

 

Veranderde gedagtes neem tyd

As gevolg van my vorige manier van glo rondom verdrukking en spesifiek die groot verdrukking, was dit baie moeilik om enigsins iets goeds daarin te kon sien. Dit neem werklik tyd om ons gedagtes te vernuwe tot op ‘n punt waar ons by die volgende paragraaf se opskrif kan uitkom: “die ekklesia se beste uur”. Wanneer ek hierdie gesprek met mense het, kan ek in die meeste gevalle die dowwe uitdrukking in mense se oë sien. Dis ‘n stelling wat geensins vir mense sin maak nie. Dis baie moeilik om in konteks te plaas wanneer ons nie ‘n heiligmaking en verwelkoming-van-verdrukking-teologie het nie. En hierin lê die groot gevaar: wanneer ons die antichris in die tempel gaan sien soos Paulus vir die kerk in 2 Thess 2:3-4 herinner het, gaan daar nie genoeg tyd wees om jou teologie te verander, jou gedagtes te vernuwe asook te oorleef nie. Ons moet nou hierdie beginsels vaslê.

 

Die ekklesia se beste uur

Na hierdie verduideliking, is ons hopenlik gereed om oor die positiewe van die verdrukking en die geboortepyne te praat. Wanneer ons deur die filter van vrees kyk, is dit werklik onmoonlik om enige iets positiefs hierin te kan sien. Ek het begrip daarvoor. Bid daaroor en vra die Here om die filter weg te neem en die liefde in jou hart te vermeerder sodat jy reg kan sien.

Ek is in besit van ‘n dun boekie geskryf deur ‘n sendelingspaar wat in die jare sestigs ‘n kinderhuis in China bedryf het. Onder ‘n magtige uitstorting van die Heilige Gees het die Here vir hierdie jong kinders visioene gegee oor verskeie geestelike dinge. Onder andere, ook oor die einde van die eeu. Dit het my baie lank geneem om sonder die bril van vrees te lees. Dis eers nou onlangs wat ek regtig besef het dat daardie laaste paar jaar van intense verdukking die ware kerk se grootste en beste uur ooit gaan wees. Ek sal graag later in die studie ‘n paar van hulle vertellings wil aanhaal met die motief om jou moed te maak en jou geloof te versterk.

In ‘n tydperk van verdrukking soos wat daar nog nooit was nie, gaan daar salwing en bonatuurlike wonderwerke wees soos nog nooit tevore nie. Dit behoort ons opgewonde te maak. Ons leef in die mees opwindendenste tydperk in die geskiedenis van die mensdom. Die laaste paar jaar van die huidige era (of dispensasie). Wanneer hierdie era afgesluit word, breek die volgende aan – die duisend jaar van vrede.

En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde—want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd. (Dan 11:35) 

css.php