Deur Yolandie Mostert (Desember 2022)
Nota:
Hierdie skrywe is die tweede in ‘n reeks oor die gebeure en tydlyn aan die einde van die eeu. Die eerste deel gee agtergrond waar hierdie studie vandaan kom, wat ons vorige oortuigings was en waarom dit verander het. Hierdie deel handel oor die vraag: “waarom ons ons enigsins moet bemoei moet eindtyd gebeure.”
Inleiding
Wanneer mense praat oor die einde van die eeu en wanneer die wegraping gaan plaasvind, kry jy gewoonlik drie skole: die pre-trip, post-trip en mid-trib. Daar het ‘n vierde skool bygekom: die ‘pan-trib’ – “I’ll see how everything pans out”. Aanvanklik klink dit na ‘n nie te slegte idee nie. Hierdie skool sê: “ons sal maar wag en kyk wat gebeur en aanpassings maak daarvolgens.”
Om nie die studie nou al vooruit te hardloop nie, maar vir die nuuskieriges: ons glo die antwoord lê buite al vier hierdie skole.
Die vraag
Dit bring ons by die vraag: hoekom maak dit saak om te weet wanneer die wegraping gaan plaas vind en hoekom maak dit saak om te weet wat aan die einde van hierdie eeu gaan gebeur?
Die antwoord
Die antwoord op beide hierdie vrae lê in hoe ons onsself voorberei. Gaan ons fisies, geestelik en psigies (sielsdimense: emosies, wil en denke) voorbereid wees op dit wat voorlê.
Ek wil graag twee verskillende analoë gebruik om te illustreer.
1 – ‘n Storm oppad
Kom ons sê daar is ‘n nuusberig dat ‘n geweldige orkaan oppad is na die dorpie waar jy woon. Verskillende stemme reager verskillend op hierdie berig.
- Die eerste stem sê dat die orkaan ver verby jou dorpie gaan trek en dat jy niks daarvan gaan beleef nie.
- Die tweede stem sê dat die orkaan nie so erg gaan wees nie en dat jy net ‘n gedeelte daarvan gaan beleef. Dit sal goed wees om voorbereidings te tref, maar niks ernstig nie. Die krag van die orkaan hou nie te veel lewensgevaar in nie.
- Die derde stem sê dat die orkaan baie erg gaan wees en dat die dorpie waar jy woon reg in sy pad staan. Jy moet onmiddelik begin met maksimum voorbereidings.
- Die vierde stem sê dat hulle bewus is van die orkaan, maar sal maar wag en sien in watter rigting hy oppad is en of hy wel enige skade gaan aanrig.
Ek dink nie dis moeilik om die voor en nadele van elke stem te herken nie. Ons sal weer hiernatoe terugkom.
2 – Die laaste pylvlak van ‘n wedren
Die volgende analogie is van ‘n naeloper wat vlak voor die laaste pylvlak trek om ‘n resies te voltooi.
- Die eerste stem sê dat die wedren nooit so ver sal kom nie. Al jou oefening is sinneloos. Teen die tyd dat jy die laaste pylvlak betree, gaan die wedren reeds vir jou verby wees. Hulle gaan beginners-atlete op die baan sit om die finale 100 meter te hardloop.
- Die tweede stem sê dat dit voordelig sal wees om goed voorbereid te wees. Die laaste 100 meter gaan bitter moeilik wees, maar jy hoef net psigies jouself reg te maak vir 50 meters.
- Die derde stem sê dat dit ‘n baie moeilike wedren gaan wees wat jou lewe gaan kos. Dit gaan die moeilikste 100 meter wees wat jy nog ooit in jou hele lewe gehardloop het.
- Die vierde stem sê dat hulle weet daar gaan ‘n wedren wees, maar om nou enigsins voor te berei is regtig onnodig. Ons moet maar eers wag om te sien of die resies nie dalk gaan uitreën nie.
Verduideliking
Die eerste stem (Pre-trip)
In beide analoë, is die eerste stem die stem van ‘Pre-trip’. Vir diegene wat nie met die term bekend is nie, wil ek dit graag kortliks verduidelik.
Die ‘pre-trip’- doktrine is kort vir pre-tribulation-rapture. Dit leer basies dat die finale 7 jaar van hierdie eeu, die tydperk van die groot verdrukking gaan wees. Die kerk gaan weggeraap word van die aarde af en onmiddelik hierna begin die verdrukkingstydperk. Na die 7 jaar verskyn Jesus en vind die slag van Armaggedon plaas. Jesus se koms word basies in twee aparte gebeurtenisse opgedeel.
Die gevaar in terme van voorbereiding:
Die grootste gevaar lê daarin dat daar feitlik geen voorbereiding gedoen word vir die laaste pylvlak nie. Die enigste voorbereiding wat gebeur (deur ‘n klein groepie) is om geestelik gereed te maak om weggeraap te word. Die grootste groep binne hierdie veld, glo dat almal in kerk wat iewers in hulle ‘n saligheidsgebed opgesê het, deel van die groep gaan vorm wat weggeraap word. Ongeag of hulle ‘n leefwyse van heiligmaking het of nie.
Die risiko lê in die skok wanneer die wegraping nie gaan plaasvind nie. Stel jou voor ‘n atleet wat homself net psigies en fisies reggemaak het tot op ‘n sekere punt. Eweskielik is daar niemand om die stokkie voor aan te gee nie en hy moet nou die innerlike en fisiese krag bymekaar maak om die finale pylvlak onder baie moeilike omstandighede self te kan hardloop.
Omdat die mens so vinnig is om fout te wil soek by enige iemand anders as homself, gaan die heel eerste vingers na die kerk en die leraars gewys word. “Hoekom het julle my nie voorberei nie?”, “Hoekom het niemand my gesê dit gaan met my gebeur nie?”.
Dis geen kleine saak nie. Mense kan (en gaan) hulle geloof verloor as hulle eweskielik besef, hier is die Antrichris en en ek is steeds hier. Ongelukkig gaan niemand vingers kan wys nie. Het Paulus dan nie in 2 Thess 2 gesê dat ons vereniging met Hom eers sal plaasvind nadat die seun van die verderf (Antichris) geopenbaar is nie?
Die tweede stem (Mid-trip)
In beide analoë, is die tweede stem, die stem van ‘Mid-trip’. ‘n Kortlikse verduideling vir diegene wat nie so bekend is met die term nie:
Hierdie doktriene is bietjie nader aan die waarheid as pre-trib, maar daar is ook probleme. Hier word geleer dat die wegraping presies in die middelpunt van die laaste 7 jaar gaan plaasvind. Met ander woorde, drie en ‘n halwe jaar in. Volgens die profeet Daniël verbreek die Antrichris verbond met die Joodse volk op hierdie tydstip. Hierna begin intense vervolging. Daarom word daar geglo dat die kerk weggeraap word net voor hierdie vervolging losbreek.
Die gevaar in terme van voorbereiding:
Soos met die voorbereiding van die pre-trip doktriene, gaan dit waarvoor dissipels van Jesus hulle gereed maak, nie voldoende wees om hulle deur te trek nie. Terug by die wedloop-analoog: net voordat die laaste 50 meter aanbreek, gaan hulle van die baan afgehaal word. Daar word geen geestelike voorbereidings getref vir tye van vervolging nie. Die probleem is dat wanneer die vervolging gaan aanbreek, daar nie tyd gaan wees om te probeer verstaan wat gebeur en waar hulle dit verkeerd gehad het nie.
Net soos met pre-trip, alhoewel in ‘n mindere mate, kan (gaan) Christene hulle geloof verloor omdat diegene wat aangestel was om hulle te waarsku, nie hulle werk gedoen het nie.
Hierdie mense gaan dalk nie verbaas wees om die Antrichris te sien nie, maar gaan baie geskok wees om uit te vind dat daar nie ‘n ontsnapping van sy vervolging gaan wees nie. Het Jesus ons dan nie gewaarsku in Openbaring 13:7 nie: ‘Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin’?
Die derde stem (Post-trip)
In beide analoë, is die derde stem die stem van ‘Post-trip’. Vir diegene wat nie met die term bekend is nie, glo hierdie skool basies dat Jesus slegs eenmaal gaan terugkom en dis aan die einde van die eeu – na die laaste sewe jaar.
Die gevaar in terme van voorbereiding:
Persoonlik glo ek hierdie skool is die veiligste van almal in terme van voorbereidings. Hierdie mense berei hulleself voor om deur die volheid van die verdrukking en die wraak van God te gaan. Hulle is bereid om hulle lewens neer te lê en die wedloop te voltooi. Hier is ook probleme, want die Skrif belowe tog dat ons as kinders van die Here, nie bestem is tot toorn nie (1 Thess 5:9).
Die vierdie stem (Pan-trip)
In beide analoë, is die laaste stem die stem van ‘Pan-trip’. In kort: kom ons wag en kyk maar wat gebeur want niemand kan tog seker kan weet nie.
Die gevaar in terme van voorbereiding:
Net soos met pre-trip, word basies geen voorbereidings gedoen nie. Hierdie is amper die swakste van al die skole. Met pre-trib berei sekere mense in ‘n mate voor omdat hulle bang is hulle bly agter met die wegraping. Vir baie is dit nie ‘n goeie voorbereiding nie, want die vrees is die motivering. Maar met pan-trib, is dit amper ‘n ‘laat God’s water oor God’s akker loop’ leefwyse. Dis baie gevaarlik. Jesus self waarsku ons om ingestel te wees op die tekens van die tye in Mattheus 24:32-33. “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.”
Afsluiting
Om hierdie studie verteerbaar te maak, breek ek dit op in dele wat nie te lank en omslagtig is nie. Vir hierdie rede, eindig deel 2 hier. In die volgende deel gaan ons met die motief van ons hart, vrees en ons uitkyk op eindtyd-gebeure deel. Dis belangrik om hierdie grondslag te lê sodat ons nie met filters of eenogig na die Skrifte kan kyk nie.
Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. (1 Thess 5:6)