Die Afgesonderde

Deur Yolandie Mostert, 2 Mei 2023

Deel 9 in die reeks oor Wie is die Bruidegom

 

Sy hoof is … suiwer goud (Hgl 5:11) 

 

Afgesonder – ‘set-apart’ for a specific purpose. Ek het net hierdie woorde neergeskryf en toe het die Heilige Gees die woord verder gegee. Die res van die boodskap is die woord soos ek dit ontvang het (28 April 2023).

 

“Die hoogste eer en grootste voorreg is om eenkant gesit te mag word vir die Vader se eer. Wat eer die Vader? Liefde, gehoorsaamheid en heiligheid.

Toe Ek My lewe gewillig neergelê het, was dit uit liefde. Nie net vir elke mens nie, maar ook vir die wêreld, die skepping en My koninkryk. Die Vader se liefde is in My, want Ek en My Vader is Een. Daarom kon die liefde My dryf. Liefde bo alles eer My Vader.

Ek het in gewillige gehoorsaamheid My Vader se wil gevolg tot by die dood. Gehoorsaamheid is aanbidding. Die neerlê van die vlees is aanbidding. Gehoorsaamheid sonder liefde is godsdienstigheid. Dit het geen eer of voordeel nie.

Hierdie faset van wie Ek is het soveel diepte en verborgenhede. Dit sluit die Melgisedek salwing in.

Heiligheid en afgesonderdheid kan nooit van mekaar geskei word nie. Afgesonderdheid dra ‘n mantel in die gees. Dis herkenbaar. Daarom het die vyand die mens geinspireer om My te bespot met ‘n mantel in die fisiese. Die mantel van afgesonderdheid dra die geheimenisse van die Vader se Wil. Net so was die Vader se plan nie onthul tot op die laaste en kritiese oomblik nie.

Afgesonderdheid behels liefde en gehoorsaamheid. Waar liefde en gehoorsaamheid saamwerk, sal heiligheid altyd die uitvloeisel wees.

Hoe vurig begeer Ek dat My bruid waarlik My afgesonderde sal wees! Ek wil die seël van wie Ek is in my volheid op My bruid afdruk. So baie sê met hulle lippe: ‘set-apart’, ‘separated’, ‘consecrated’, afgesonderde. Dis lippediens wanneer die lewe dit nie weerspieël nie. Waar is die liefde bo alles? Skinder, kwaadpraat, jaloesie, skynheiligheid, voorgee en ondergrawings word steeds gesien in die lewens van die wat hierdie term vir hulleself toeëin. Nee kinders, dit hoort nie. Julle word opgeroep tot liefde.

As die mens regtig vol is van die Vader se liefde, sal gehoorsaamheid volg. Hoeveel is daar wat met hulle lippe sê hulle het die liefde, maar die vrug van gehoorsaamheid ontbreek.

Petrus was ‘n voorbeeld hiervan. Hy was geroep om My afgesonderde te wees. Sy lippe het van liefde en gehoorsaamheid gespreek. Sy intensies was goed, maar daar was nog vrees in sy hart. Sê My Woord nie dat die volmaakte liefde die vrees na buite dryf nie? Daarom, toe die toets van afgesonderdheid voor hom gestaan het, het hy gefeil. Ek moes sy roeping as afgesonderde herstel. Daarom het Ek hom drie maal gevra. Die mens het nodig om sy afhanklikheid van My in hierdie diep roeping te besef. Gaan lees hoe hy erken het dat Goddelike liefde slegs in My gevind kan word. Buite My sal hierdie roeping van afgesonderdheid net ‘n teoretiese gesprek wees.

So spreek die Afgesonderde van die Vader. Hoor wat die Gees van die Here Here spreek. Die vrou van die Lam word geroep tot ‘n lewe van afgesonderdheid. Ek begeer om die mantel van afgesonderdheid oor julle skouers te hang. Ek gaan nie My heilige mantel oor ‘n skouer gooi wat die juk van Babilon dra nie. Jy dink in jou hart: “ek het nie die juk van Babilon nie”. Dis ‘n juk van liefdeloosheid, onheiligheid, liefhebbers van plesier en die wêreld en is ongehoorsaam aan My gebooie. Dis ‘n juk wat gebooie wil onderhou vanuit ‘n harde, liefdelose plek. Dis ‘n juk wat sê net liefde is genoeg en gehoorsaamheid is oorbodig. Dis ‘n juk van leuens. Roep Ek nie My bruid uit Babilon uit nie. My juk is sag. Ek is nederig en sagmoedig van hart. Vol liefde en genade. Een wat gehoorsaamheid bo offers verkies.

Ek het soveel meer om aan julle te sê oor hierdie gedeelte van wie Ek is, spreek die Afgesonderde wat ‘n hoof van suiwer goud het. Maar dit wil Ek by julle los. Goud word gesmelt deur vuur. Afgesonderdheid vir YHVH word gevorm in die vuur van die Here Here. Sonder die vuur van My ywer wat liefde, gehoorsaamheid en heiligheid kweek, sal dit nie moontlik wees om jouself waarlik afgesonderd vir My te kan noem nie.

Dis nie net die voorreg van ‘n klein klompie nie. Dis elkeen se deel. Maar min vind dit. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en al jou verstand en jou naaste soos jouself. Hieraan hang die wet en die profete. Wie ore het om te hoor laat hom hoor wat die Gees van die Here spreek.”

[Einde van die woord]

 

Skrif verwysings en ‘n kort nota op die woord:

Toe Jesus vir Petrus drie maal gevra het of Petrus hom liefhet, het Petrus nie die woord agapé gebruik nie. Hy het die woord phileo gebruik. Agapé dui op goddelike liefde en phileo op ‘n broederlike liefde of liefde vir ‘n vriend. Dit blyk asof Petrus nie homself sover kon bring om hom te beroem op agapé liefde nie. Hy was eerlik in sy gebrokenheid en Jesus was hom genadig.

[if that is true] then do you say of Him whom the Father sanctified and set apart for Himself and sent into the world, ‘You are blaspheming,’ because I said, ‘I am the Son of God’? (Joh 10:36 AMP) 

For their sake I sanctify Myself [to do Your will], so that they also may be sanctified [set apart, dedicated, made holy] in [Your] truth. (Joh 17:19 AMP) 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

css.php