Deur Yolandie Mostert (June 2023)
Die audio weergawe is beskikbaar op ons Telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Sowat twee weke gelede, terwyl ek in gebed was, het die Heilige Gees my aan twee gedeeltes in die Bybel herinner. Dis asof Hy die twee gedeeltes bo-oor mekaar geplaas het sodat ek die parallel kon sien.
Hierdie twee gedeeltes is die gelykenis van die saaier en die afdelings van die tabernakel. Terwyl ek besig was om die boodskap saam te stel, het die Heilige Gees nog twee gedeeltes ook bo-oor geplaas. Ek het oor een van die gedeeltes in my Hoogliedboek geskryf – die dieptes van die water wat die Here vir Esegiël gewys het. Die laaste parallel verwys na die hoeveelheid dissipels van Jesus wat al hoe minder en minder geraak het.
Gelykenis van die saaier
Ons vind die bekende gelykenis in Mattheus 13:1-9. Wanneer ons die gelykenis lees, is ons fokus meestal net op die saad wat verlore gaan en nie opkom nie. Ek wil vandag fokus op die saad wat opgekom het en wel vrug opgelewer het.
Matt 13:8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd—, die ander sestig—, die ander dertigvoudig.
Jesus verduidelik die gelykenis vir sy dissipels van vers 18 af en verder.
Daar is drie groepe mense wat onvrugbaar is.
- Die saad kom nie op nie. Die eerste groep mense hoor die woord en verstaan nie wat hulle hoor nie. Gebondenhede en gevestigde denkpatrone maak dit onmoontlik om die reddende genade van die evangelie te begryp.
- Die saad ontkiem, maar ontwikkel geen wortel nie. Geestelike uithouvermoë kom kort. Wanneer daar nie aan al die vlees se verwagtinge van voorspoed en seëninge voldoen word nie, keer hulle weer terug na die wêreld toe.
- Die saad kom op en begin klein plantjies vorm, maar dit wat saam met die plante groei verstrik dit en geen geestelike groei kan plaasvind nie. Wanneer iemand die Here wil dien, maar nie bereid is om afstand te doen van wêreldse plesiere, hulle liefde vir geld en sonde nie, gaan hierdie dinge ‘n strik raak wat die Goddelike lewe in hulle sal verdring.
Daar is drie groepe mense wat vrugbaar is. Die saad val in goeie, vrugbare grond. Die persoon hoor die waarheid verstaan dit. Die saad ontkiem en ontwikkel in sterk plante wat vrug dra. Almal lewer wel nie dieselfde opbrengs nie. Sommige lewer dertig keer meer vrug as wat daar saad gesaai is. Ander lewer sestig keer meer en die laaste groep lewer honderd keer meer vrug. Dis op hierdie drie groepe waarop vandag se boodskap gaan konsentreer.
Die doel is om vrug te dra:
Regdeur die Bybel kan ons die tema van vrug dra sien. Ons word geroep om vrug te dra. Baie mense glo dat wanneer hulle net Jesus aangeneem het en ewigheidsekerheid het, dat dit genoeg is. Dit is slegs die eerste stap, die begin. Dan begin ons pad van vrug dra. Ons het nodig om deur al die verskillende groepe te beweeg in die gelykenis sodat ons hondervoudig vrug kan dra. Eerstens moet ons van die rotslaag binne ons ontslae raak. Dit gebeur die outomaties tydens wedergeboorte nie. Daar is soveel kinders van die Here wat net nie kan wortel skiet nie. Die ander probleem in hierdie verband is dat geestelike uithouvermoë ook nie gepreek word nie. Die Bybel noem dit om te oorwin (to overcome) – Open 3:21 en om die wedloop met volharding te voltooi.
Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. (Open 3:21)
Volgende moet ons van alles in ons lewe ontslae raak wat ons geestelike lewe verstrik, wat letterlik die lewende asem (Ruach) in ons gees versmoor. Liefde vir geld en vir alles wat Babilon bied verstrik ons groei, dit hou ons terug. Die dinge van die wêreld verdring ons en belemmer ons geestelike groei.
As ons verby hierdie fases beweeg, kan ons begin opgroei sodat ons vrug kan dra – dertig voudig, sestig voudig of honderdvoudig.
Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. (Joh 15:8)
Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly (Joh 15:16)
sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei (Kol 1:10)
Die vlakke van vrug dra
Die persone op die volgende drie vlakke kon verby die rotslaag kom sodat daar ‘n wortel van volharding en diepte kon vorm. Die meeste dinge wat groei belemmer het, die dinge wat verstrik, is uit die weg geruim. Hierdie skoonmaakproses gaan nie ophou totdat die laaste onkruid uitgeroei is nie. Net soos met landbou, kom onkruid steeds op en groei meestal vinniger as die plante. Dit neem ‘n konstante toegewydheid om onkruid te herken en uit te roei.
Dertigvoudig
Hierdie is die eerste en onderste vlak van vrug dra. Dit stem ooreen met die Voorhof in die Tabernakel. Dit is ook dieselfde watervlak wat Esegiël gesien het – enkeldiep (Eseg 47). Die hele volk het toegang tot die voorhof gehad. Die hoeveelheid volgelinge van Jesus wat dertigvoudig vrug dra is baie meer as die wat sestig en honderdvoudig bereik. Die getal kan vergelyk word met die twaalf dissipels van Jesus. Heelwat minder as die wat Hom aanvanklik gevolg het, maar steeds meer as die drie wat saam met die Jesus op die berg van verheerliking was.
Sestigvoudig
Hierdie vlak stem ooreen met die Heilige in die Tabernakel. Hier is mense knie en heupdiep in die stroom water. Heelwat minder bereik hierdie vlak. Die getal kan vergelyk word met die drie dissipels wat die naaste aan Jesus was: Petrus, Johannes en Jakobus. Hierdie drie manne was saam met Jesus op die berg van verheerliking en in die tuin van Getsemané. Die res van die dissipels het onder die berg gebly.
Honderdvoudig
‘n Bitter klein klompie van Jesus se volgelinge dra honderdvoudig vrug. Hierdie mense leef in die Allerheiligste in die Tabernakel en kan nie meer in die stroom staan nie. Dis ‘n stroom waar ‘n mens nie kan staan nie – gedryf deur die Heilige Gees. Dis werklik bitter min wat hierdie vlak bereik en ons gaan in die res van die boodskap sien hoekom. Van die drie dissipels in Jesus se direkte kring, het slegs een by die kruis gestaan – Johannes. Die res het van ver af gekyk. Johannes was die een wat teen Jesus se bors gelê het. Hy het die meeste oor volmaakte liefde geskryf. Wanneer ons sy evangelie lees, kan ons ook die diepte en bewondering vir Jesus sien. Die inslag van hierdie evangelie is heeltemal anders as die ander drie. Die Bybelboek Openbaring is nie net ‘n openbaring van toekomstige gebeure nie. Dis ‘n openbaring van Jesus Christus in Sy volheid. Hy het Homself aan Johannes geopenbaar, die dissipel wat in ‘n intieme verhouding met Hom gewandel het.
Wanneer die Skrif praat van ‘n oorblyfsel (a remnant) bestempel soveel mense hulleself vandag as die bruid van Jesus en as die oorblyfsel. Dit het amper die nuwe modegier of geestelike ‘buzz word’ geraak. Die bruid is die wat honderdvoudig vrug dra. In die volgende paragraaf gaan ons sien wat dit behels.
Die uitleg van die Tabernakel
Ons het nodig om na die plasing van die verskillende voorwerpe in die Tabernakel te kyk om die paralelle prakties te kan verstaan. In die voorhof was die koperaltaar en daarna die koperwaskom. Daar was drie voorwerpe in die Heilige: die tafel met die toonbrode aan die een kant en die lampstaander aan die anderkant. Die twee voorwerpe was regoor mekaar. Reg voor die gordyn wat die Heilige en die Allerheiligste geskei het was die wierookaltaar. Agter die dik gordyn was die ark van die verbond binne die Allerheiligste.
Die getalle se ooreenstemmig kan ook hier gesien word. Die hele volk kon in die voorhof kom. Die priesters en leviete mag die Heilige betree het, maar slegs die hoëpriester kon eenmaal per jaar in die Allerheiligste ingaan.
Ek wil nou hierdie drie afdelings bespreek in terme van ons geestelike groei. Elke item in die drie afdelings verteenwoordig ‘n geestelike beginsel. Ons kan kies om in ‘n spesifieke afdeling te bly of ons kan voortgaan na die volmaaktheid. Na ‘n lewe in die Allerheiligste – in die stroom waar ‘n man nie kan staan nie.
Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel. (Heb 6:1-2)
Die voorhof
Die eerste voorwerp is die koperaltaar. Hier was al die diere geoffer wat tydelik versoening moes bewerk. Hierdie altaar verteenwoordig Jesus as die volmaakte offer.
In die konteks van hierdie boodskap verwys dit na ons redding en verlossing deur die Bloed van Jesus – die eerste stap. Innerlike genesing en bevryding word ook hier gegroepeer omdat ons vrymaking ontvang deur die Bloed van die Lam (Heb 10). Wanneer ons deur ons gebondenhede werk, is ons besig om ons klere wit te maak in die Bloed (Open 7:14).
En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. (Open 7:14)
Na die koperaltaar, vind ons die koperwaskom. Dis waar die priesters hulle hande en voete moes was voordat hulle die heilige kon betree. Die water in die koperwaskom verwys na die doping in water wat elke volgeling van Jesus moet doen (1 Pet 3:21, Rom 6:4) asook die wassing in die water van die woord (Ef 5:25-27).
waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus (1 Pet 3:21)
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. (Rom 6:4)
…soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord (Ef 5:25-26)
Die eerste is ‘n eenmalige gebeurtenis en die was in die water van die woord ‘n herhalende proses.
Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. (1 Joh 5:6)
Alles wat in die voorhof plaasvind, klassifiseer die Hebreërs skrywer as ons fondament (Heb 6:1-2). Ons is nie vanonderstel om in die voorhof tent op te slaan om daar te bly nie. Ons moet na die volmaaktheid voortgaan. Ek minag glad nie die voorhof nie. Hoe sou ons toegang tot die Heilige en Allerheiligste kon verkry as dit nie was vir die voorhof nie. Wat sou ons gemaak het sonder die Bloed van die Lam?
Dis moontlik om vrug te dra wanneer ons die voorhof ons permanente tuiste maak. Maar dit gaan slegs dertigvoudige vrug wees. Hoe lyk dit wanneer ons hier bly? Die fokus is slegs op redding en genade met geen sprake van heiligmaking en die groei na geestelike volwassenheid nie. Baie bestempel heiligmaking as werke, wat natuurlik teenstrydig is met wat die Skrifte vir ons leer. In die voorhof het ons nog nie werk gemaak van ons vleeslike natuur nie, ons het slegs die fondament gelê: redding, begrafnis deur die doop en opstanding in ‘n nuwe lewe. Ons het die Bybel begin lees en kan die wassende effek van die woorde van lewe ervaar. Iemand wat nie verder as dit groei nie, bly geestelik onvolwasse en maak staat op melk omdat hulle nog onervare is. Weereens, dis nie ‘n sondige of slegte plek nie. Dis nodig, ons moet daar aandoen. Maar ons mag nie daar bly nie. Anders sal ons nooit uit die vlak, enkeldiepte water kom nie.
Die waarskuwing geld ook vir leiers en bedienaars. Dis moontlik om so gefokus te wees om mense tot redding te bring en op die getalle mense wat gedoop word, dat die geestelike groei en dissipelskap uit die oog verloor word. Diegene wat in die bevrydingsbediening werk, kan oormatig gefokus wees op demone en ander gebondenhede in mense dat alles as dit bestempel word terwyl disspline en die kruisiging van die vleeslike natuur geignoreer word.
Die Heilige
Wanneer die Heilige betree word kan die tafel met toonbrode teen die regterkanste muur gesien word.
Dit simboliseer Jesus Christus, die brood van die lewe (Joh 6:33).
Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. (Joh 6:33)
Ons geestelike groei hang direk af van ons voeding op die lewende brood. Dit beteken nie net dat ons die Bybel lees nie, dit verwys ook na ons afhanklikheid en verhouding met Jesus as die bron van alles wat ons nodig het.
Regoor die tafel met toonbrode is die lampstaander, die menorah.
Dit verteenwoordig die Heilige Gees. Tydens wedergeboorte word ons gevul met die Heilige Gees. Dis dan wanneer die Heilige Gees intrek neem in ons geeshart, die goue kruik waarvan die Prediker skryf. Daarna word ons gedoop met die Heilige Gees. Dit versterk ons vir die geestelike reis wat voorlê. Jesus is die Een wat ons doop met die Heilige Gees (Matt 3:11).
Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. (Matt 3:11b)
Die menorah verteenwoordig ook ons lewe deur die Gees soos wat Paulus in Galasiërs 5 beskryf. Die sestigvoudige vrug wat gedra word is die resultaat en uitwerking van die Heilige Gees se werking in ons lewens.
Die enigste lig in die Heilige word voorsien deur die lampstaander en die lig skyn op die brode. Met ander woorde die Heilige Gees skyn die lig op Jesus.
In die Heilige voed ons op beide die logos en die rhema woord – die geskrewe en gesproke woord. Die Heilige is ‘n wonderlike plek om te wees. Ons lewe deur die Gees en dra vrug. Ons hoor die Here se stem en vloei in die gawes van die Gees. Ons ken en bestudeer die Skrifte. Diegene wat die Heilige in hulle geestelike reis bereik, word as gelukkig en geseënd geprys en word deur baie ander beny. Hier beweeg ons knie diep in die stroom. Net soos met enkeldiepte is die mens steeds in beheer op hierdie diepte. Die stroom gaan nie sommer ‘n mens op hierdie dieptes meesleur nie.
Daar is nog ‘n voorwerp in die Heilige: die wierookaltaar.
Wanneer die Heilige betree word, word daar reguit op hierdie altaar gekyk. Hierdie altaar staan reg voor die swaar gordyn wat die Heilige en die Allerheiligste skei. Ons kan nie in die Allerheiligste ingaan as ons die eers by die wierookaltaar aangedoen het nie.
Alhoewel die wierookaltaar in die Heilige staan, beskryf Paulus dit in Hebreërs 9 as deel van die Allerheiligste. Ek glo dit was omdat hierdie altaar toegang verleen tot die Allerheiligste.
Wierook spreek van aanbidding en hierdie reukwerk word op ‘n altaar aan die brand gesteek. Wanneer ons by die wierookaltaar aangaan, plaas ons onsself as ‘n lewende offer op die altaar tot ‘n aangename geur vir die Here (Rom 12:1). Ware aanbidding is gehoorsaamheid en behels ‘n leefwyse in die besef van die volheid van wie Hy. Diep respek en liefde is die resultaat.
Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1)
Die verskil tussen sestigvoudige vrug en honderdvoudige vrug lê opgesluit in ons vlak van oorgawe.
Ons kan by die tafel van toonbrode en die wonderlike werkinge van die Heilige Gees bly. Vir baie mense sal dit ‘n vervullende geestelike lewe wees. Maar daar is soveel meer en soveel dieper. As ons maar net die soetheid van die Allerheiligste kon proe, dan sou ons nooit tevrede kon wees met die heerlikheid van die Heilige nie.
By die wierookaltaar verwelkom ons die reinigingsvuur (Matt 3:11, 1 Pet 1:7, Open 3:18, Mal 3:3, Job 23:10)
sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus (1 Pet 1:7)
Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. (Open 3:18)
En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring. (Mal 3:3)
Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom. (Job 23:10)
Teen die tyd wat ons ‘n wierookaltaar leefwyse het, beweeg ons heupdiep in die stroom. Dis nie meer so maklik om self regop te kan staan nie. Die altaar het nogal die geneigdheid om ons intens bewus te maak van ons menslike swakheid en vleeslike natuur wat dan weer lei tot ‘n diep afhanklikheid van die Here. Hier besef jy dat daar niks goeds in jou woon nie en jou enigste hoop is Jesus Christus. Dis ‘n wonderlike plek om te wees. Die vuur van die wierookaltaar reken ook met ons trotse natuur af. Trots sal nooit die Allerheiligste kan binnegaan nie.
Dit is opmerklik dat die drie dissipels saam met Jesus by Getsemané was. Die wierookaltaar kan ook met Getsemané vergelyk word. Die gewillige neerlê van die vlees.
Die Allerheiligste
Nou is ons gereed vir ‘n leefwyse in die Allerheiligste. Dis waar die ark van die verbond was; die heiligste plek op die ganse aardbodem. Dit was die aardse woonplek van YHVH.
Die Allerheiligste verteenwoordig die diepste plek van verhouding wat met die Here moontlik is. Dit behels ‘n vriendskapsverhouding. Ware vriendskap behels vertroue beide kante toe (Jes 41:8). Ons is maklik om onsself te bestempel as ‘n vriend van Jesus of van die Vader. Vriende deel hulle hartsgeheime met mekaar. Kan ons vertrou word met die hartsgeheime van die Vader? Of wil ons net openbarings hê sodat ons dit kan deel en groot kan lyk in die oë van mense?
Totale eenheid (‘oneness’) gebeur wanneer ons meegesleur word deur die stroom (Ef 4:13).
totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus (Ef 4:13)
Dis wanneer die mens glad nie meer kan staatmaak of roem op enige iets in hom of haarself nie. Dit behels ‘n lewe totaal en al gedryf deur die Heilige Gees. Hier word ons oorrompel, ingeneem en deurdronge met die volheid van wie Hy is. Ons beweeg waar die stroom ons neem; alle beheer is oorgegee. Die onbekendheid van so ‘n diep verhouding met die Here maak ons vreesbevange. Ons is so bang om beheer oor te gee en probeer altyd ‘n stukkie sekuriteit vir onsself behou.
As ons maar net kan laat los en Hom vertrou, sal ons ‘n plek betree van openbaring van geestelike geheimenisse en dieptes. Nie sodat ons opgeblase kan word of super geestelik kan lyk voor mense nie. Nee, dis eintlik ‘n baie privaat en weggesteekte plek. Verheffing en blootstelling word slegs deur die Here bepaal en Sy orde en manier lyk soveel anders as die mens sin.
Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. (1 Kor 2:10)
Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? (Job 11:7)
But you, Israel, My servant, Jacob whom I have chosen, The offspring of Abraham My friend (Isa 41:8)
In die Allerheiligste lewe ons van aangesig tot aangesig met YHVH (Eks 33:11).
Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek. (Eks 33:11a)
Daar is geen plek vir trots, rebellie en vleeslikheid nie. Hy openbaar Sy hart direk aan ons. Slegs vleeslikheid wat gekruisig is, kan hiermee vertrou word. Dit lei tot groter aanbidding en nog meer toewyding, want geen mens wat so naby aan Hom kom sal ooit weer dieselfde wees nie. Dis ‘n lewe op Sy hartklop want ons plek is aan Sy bors (Joh 13:23-25), net soos Johannes wat die krag en toewyding gehad het om by die kruis te kon staan. Hierdie dissipel was vol liefde en daarom was daar nie plek vir vrees nie. Om hier te kan leef is liefde nodig, dis die sleutel om in Hom te kan bly (to abide).
Jesus verduidelik die mens wat deur die stroom gestuur word waarheen die Heilige Gees wil met die wind wat waai. Dis dieselfde beginsel. ‘n Lewe in die Allerheiligste; ‘n lewe totaal en al opgegee om Sy skoonheid en lieflikheid te mag beleef en daarin te mag bly.
Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. (Joh 3:8)
Wanneer jy na hierdie woorde luister, begeer jy ook daardie diepte en volheid?
Dis die diepte in jou gees wat uitroep na die dieptes van die Vader. Sy diepte sal nooit deurgrond of uitgeput kan word nie. Daar is altyd dieper in Hom. Moenie met dertig en sestigvoudig tevrede wees nie. Hondervoudige vrug is moontlik. Ja, dit kom teen ‘n duur prys. Ons kan nie die wierookaltaar omseil nie. Maar as ons onsself daarop kan plaas en toelaat dat Sy reiningingsvuur die werk doen, is daar ‘n soetheid in Hom wat geen mens kan beskryf nie. Dit oortref alles.
Deep is calling to deep at the thunder of your waterfalls; all your surging rapids and waves are sweeping over me. (Ps 42:7)
One thing I have asked of the LORD, and that I will seek: That I may dwell in the house of the LORD [in His presence] all the days of my life, To gaze upon the beauty [the delightful loveliness and majestic grandeur] of the LORD And to meditate in His temple. (Ps 27:4)