Deur Yolandie Mostert
Agtergrond
Ons is steeds besig met ons bestudering van die eindtyd Skrifte. In Deel 7 het ons na die indeling van Daniël gekyk en ons gaan deur die studie ons pad deur elkeen van die visioene en drome werk.
Hierdie skrywe deel met Daniël 9, die baie bekende 70 sewetalle profesie. Dit is ook nie moeilik om te verstaan hoekom hierdie profesie al so baie bestudeer is nie. Dis ‘n baie groot sleutel om eindtyd gebeure en tydlyne te verstaan.
Die storie
Dis die eerste jaar van Darius, die Mede, se regering, dus 539-538BC. Daniël is steeds in ballingskap in Babilon. Hy het teen hierdie tyd ‘n baie hoë posisie en is tussen 80 en 90 jaar oud.
Hy het as ‘n tiener in Babilon aangekom en intussentyd het 70 jaar verloop. Daniël was besig om die profesieë van Jeremia te lees en het besef dat sy volk net bestem was vir 70 jaar se ballingskap. Op grond hiervan het hy gebid, gevas en belydenis gedoen van sy eie en sy volk se sondes. Die engel, Gabriël, is na hom gestuur as ‘n antwoord op sy gebed. Hy kry nie net ‘n antwoord op sy gebed rakende die 70 jaar wat verby is nie, maar die engel gaan voort en deel met hom toekomstige gebeure.
Jeremia se profesie
Alhoewel die omvang van ons studie nie die geskiedkundige 70 jaar in Babilon insluit nie, is dit tog heerlik om dieselfde woorde te kan lees wat Daniël gelees het. En hoe sy reaksie op die woorde, die profesie in vervulling laat kom het. Daniël het nie die luuksheid gehad van ‘n netjiese Bybel nie. Jeremia het in die tyd van die ballingskap geleef. Sy woorde was dus nie baie oud nie. Dit was in die vorm van boekrolle en briewe en moes op ‘n wonderbaarlike manier heel en veilig vanuit Jerusalem tot in Babilon gekom het vir Daniël om dit te kon lees.
En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien. En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek… (Jer 25:11-12)
Jeremia het ook ‘n brief geskryf aan die ballinge (Jer 29). Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. (Jer 29:10)
Dan was daar ook ‘n boekrol geskryf met sy profesië wat vernietig was en weer oorgeskryf was. Ons lees daarvan in Jeremia 36.
Kores se werk
So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, (Jes 45:1-5)
Hierdie is ‘n bekende woorde in die Bybel wat gereeld aangehaal word, maar wat min mense besef is dat dit ‘n profesie is rakende die Persiese koning, Kores. Aan die einde van die tydperk van Babiloniese heerskappy (Chaldeërs) en die Meders en Perse Babilon ingeneem en ‘n nuwe fase in die geskiedenis van die mensdom het aangebreek.
Babilon word ingeneem
Die Eufraat rivier het deur Babilon geloop. Kores het kanale laat grou om die rivier te gelei en sy vloei minder te maak. Koning Belsasar het ‘n fees gehou op 12 Oktober 539BC. Dit was dieselfde nag wat Kores Babilon ingeneem het. Dieselfde aand wat die hand teen die muur geskryf het in Daniël 5.
In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. (Dan 5:30)
Die Chaldeërs (Babilon) is ingeneem deur ‘n gekombineerde regering van Perse en Meders. Kores was ‘n Pers en Darius was ‘n Meder.
Die 70 sewetalle profesie
Die profesie is opgeskryf in Daniël 9:24-27.
Die Hebreeuse woord vir sewetalle is shâbûa en beteken letterlike sewes. Dit word gebruik vir dae en vir jare. Dis ieselfde woord vir jubeljaar.
Sewentig sewejaar talle lyk wiskundig soos volg: 70 x 7 = 490 jaar.
Hierdie tydperk is bepaal oor Israel en Jerusalem. Die woord bepaal beteken die volgende: cut / marked / decreed / determined. Dit is in ander woorde vooraf so uitgemerk, besluit en in vervulling verklaar.
Die aanhaling
v24 Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.
v25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.
v26 En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
v27 En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.
Die uiteinde van die profesie
Vers 24 is baie belangrik; dit lys die uiteinde van die profesie. Eers wanneer al die dinge wat gelys is, afgehandel is, het die profesie ten volle in vervulling gekom.
- Goddeloosheid moet voleindig word
- Maat van sondes moet vol kom
- Ongeregtigheid moet versoen word
- Ewige geregtigheid te bring
- Gesig en profeet te beseël
- Dit wat hoogheilig is te salf
Daar is diegene wat sê dat hierdie profesie in sy geheel reeds vervul is en daarom gelees moet word as geskiedenis. Dis nie moontlik nie, aangesien hierdie uiteinde nog nie vervul is nie.
Weet en verstaan
Net nadat die engel die uiteinde van die profesie gegee het, sê hy die volgende woorde: “Nou moet jy weet en verstaan”. Wat moet ons weet en verstaan? Dit wat nou gaan volg, die uiteensetting van die sewetalle. Uit sy woorde kan ons ook aflei dat dit verstaanbaar is, maar dat dit nie noodwendig maklik gaan wees om te verstaan nie.
Die indeling van die profesie
7 sewetalle + 62 sewetalle + 1 sewetal = 70 sewetalle
Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. (Dan 9:25)
Sodra daar ‘n woord gaan uitgaan om Jerusalem te herstel, begin ons tel.
Eers 7 sewetalle, en dan ‘n verdere 62 sewetalle. Die 7 + 62 sewetalle, dus 69 sewetalle eindig wanneer ‘n Gesalfde uitgeroei word. Die volle 69 sewetalle is ‘n antwoord op Daniël se oorspronklike gebed: die herbou van Jerusalem.
Daar bly dan nog 1 sewetal oor om by 70 sewetalle uit te kom.
Skeiding
Die oorspronklike Hebreeus gebruik ‘n atnach teken op twee plekke. ‘n Atnach teken is die ekwivalent is van ons kommapunt. Die doel van die teken is skeiding tussen gedeeltes. Let op die volgende plekke:
v25 … tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig …
v26 … ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom…
vs26 …die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde… (In die Afrikaanse vertaling is hier ‘n komma, maar in die KJV is hierdie ‘n kommapunt). “…shall come shall destroy the city and the sanctuary; and the end…”
Tydlyn
Om hiedie profesie te kan verstaan, moet ons geskiedenis en datum bestudeer. Om die studie logies en verstaanbaar te maak, gaan ek begin met ‘n paar basiese datums en sal ons verder voltooi soos ons vorder.
Jaartal | Regering | Gebeure |
607 of 605 BC | Babilon | Jerusalem ingeneem
2 Kron 36:6-7 Dan 1:1-6 Daniël in ballingskap |
597-586 BC | Babilon | Rebellies teen Babilon deur die Jode
Jerusalem en die tempel word verwoes 2 Kron 36:17-21 Jer 52:28-30 Esegiël in ballingskap |
538 BC | Mede en Perse Darius (Mede) en Kores (Perse)
Dan 6:28 |
Daniël se gebed na 70 jaar van ballingskap in Dan 9:1
Kores vaardig ‘n bevel uit om die tempel te laat herbou en die eerste groep ballinge keer terug (Esra 1:1-10) Tempel word herbou (2 Kron 36:22-23) |
458 BC | Mede en Perse
|
Toestemming om tempel aanbidding en offers te herstel (Esra 6) |
444 BC | Mede en Perse
Artasásta (Perse) |
Artasásta vaardig ‘n bevel uit om die mure en poorte van Jerusalem te herstel en nog ‘n groep ballinge keer terug (Neh 2:1-8) |
Watter uitvaardigings?
Soos reeds genoem was daar verskeie uitvaardigings en briewe. Die volgende twee kan moontlik ‘n vervulling wat die profesie wees. Ons gaan nou beide bestudeer en sien of dit werkbaar is.
Eerste opsie: Kores vaardig ‘n bevel uit om die tempel te laat herbou en die eerste groep ballinge keer terug (Esra 1:1-10).
Tweede opsie: Artasásta vaardig ‘n bevel uit om die mure en poorte van Jerusalem te herstel.
Wat moet herstel word?
Om hierdie vraag korrek te kan beantwoord, help baie om die tydlyn in konteks te plaas. Daar was verskillende uitvaardigings, sekeres om die tempel te herbou en ander vir die mure ensovoorts.
Volgens die profesie moet die volgende herstel word:
v25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.
- Jerusalem moet herstel en opgebou word
- Met pleine en slote (Afrikaans). Die KJV lees: the street and the wall
Watter jaar begin ons tel?
Ek glo dis duidelik dat die eerste bevel deur Kores nie aan die profesie van Daniël voldoen nie. Dit dui slegs op die herbou van die tempel, nie van die stad en die mure nie.
Volgens ons tydlyn, skop die profesie se eerste sewetal dan af in die jaar 444BC.
Die 7 sewetalle
Hierdie tydperk verteenwoordig 49 jaar (7 x 7).
Gewone wiskunde neem ons van die jaar 444BC plus 49 jaar tot by die jaar 395 BC.
Onthou die kommapunt. Daar is ‘n rede waarom die profesie hier geskei word van die volgende 62 sewetalle. Ons moet dus gaan kyk wat het in Israel se geskiedenis in hierdie tydperk gebeur.
Die jaar ±400BC was ongeveer die tyd wat stad en tempel voltooi is en wanneer Maleagi, die laaste Ou Testamentiese boek, geskryf is. Die jaar 400BC tot 0AD staan bekend as ‘stil-tydperk’ omdat daar geen verdere profesie in hierdie tydperk opgeskryf is nie.
Die 62 sewetalle
Die wiskunde:
- 7 + 62 = 69 sewetalle
- Profetiese maande is 30 dae lank.
- 69 sewetalle x 30 dae x 12 jaar = 173 880 dae
Omdat geskiedenis opgeteken is volgens die Romeinse kalender, moet ons die datum terugwerk.
- Romeinse maande = 365.242 dae per jaar
- 173 880 dae / 365.242 = 476 jare + 24dae
Nou is ons gereed om die som verder te kan doen in terme van die tydlyn:
- Tel 476 jaar en 24 dae by 444 BC, dan kom uit op 33AD
‘n Gesalfde word uitgeroei na 69 sewetalle.
‘n Gesalfde uitgeroei
Die welbekende Jesaja 52 en 53 voorspel die koms van die Messias, die Gesalfde en ook Sy verbryseling (uitroeing)
Die Here is so wonderlik dat Hy die Messias se identeit openbaar deur vir ons die presiese jaar (en datum) van Sy dood te gee.
Daar is heelwat spekulering en studies oor die jaartal van Jesus se geboorte. Ek glo, as gevolg van verskeie redes wat ek reeds bestudeer het, dat Isaac Newton se berekening die mees logieste en sinvolste metode behels. Newton het by ‘n datum van 3 April 33AD vir die kruisiging uitgekom. Die metode en korrespondensie met ander studies, is buite die omvang van hierdie studie.
(Sommige bereken dat die 69 sewetalle eindig wanneer Jesus in Jerusalem inry op die donkie. Dit mag so wees. Ongeag, die jaartal bly steeds dieselfde. Daar was slegs tien dae tussen die intog en die kruisiging.)
Die laaste sewetal
Vir diegene wat die wiskunde tot op hede gevolg het, sou agterkom dan daar nog 1 sewetal kortkom om die 70 sewetalle volledig te maak. Die res van die profesie deel met hierdie laaste sewetal (of jaarweek).
Onthou die kommapunt in vers 26?
…n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes…
Hierdie kommepunt skei die 69 sewetalle van die res van die profesie, die laaste sewetal. ‘n Gesalfde word uitgeroei sonder voordeel vir Homself. Nou begin die laaste week. ‘n Ander vors (kleinletter) gaan opstaan en die heiligdom verwoes.
‘n Dubbele betekenis
Op hierdie noot wil ek net kortliks noem dat die stad en die tempel in 70AD deur die Romeinse leërs vernieting was. Vers 26 kan ook dui op die verwoesting van die heiligdom tydens daardie gebeurtenis. Daardie gedeelte bring ‘n oorgang tussen die 69 sewetalle en die laaste sewetal.
v26 … sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
v27 En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit,
Sou die kommapunt wat in die Engelse vertaling voor “en tot die einde” gelees word as nog ‘n skeiding, maak dit sin dat die Gesalfde uitgeroei word (33AD), die heiligdom en die stad word verwoes (70AD), daar is ‘n einde (met oorstroming) en dan is daar ‘n spasie in tyd wat ons na die laaste week bring (“en tot die einde”).
Beide opsies maak sin binne die konteks van die Skrif.
Gapings is nie vreemd nie
Wanneer ons profesie bestudeer, moet ons in ag neem dat daar verskillende lae van vervulling en betekenis is. Gapings is ook nie vreemd nie. Kyk byvoorbeeld na: Sagaria 9:9-10. Vers 9 vertel van Jesus se intog op esel en onmiddelik spring die volgende vers na oorwinning aan die einde van die eeu sowel as die millenium tydperk.
Die laaste week
In eindtyd taal staan hierdie laaste sewetal bekend as Daniël se sewentigste jaarweek. Dis letterlik die laaste week voordat die einde van die eeu aanbreek. Wanneer hierdie sewetal afgehandel is, breek ‘n nuwe era aan – die duisend jaar vrederyk of millenium.
V26b -7en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.
- Daar gaan ‘n vors kom wat ‘n week lank met baie ‘n sterk verbond sluit. Omdat ons met sewetalle of jaarweke werk, is dit ‘n sinvolle afleiding dat hierdie week ooreenstem met die sewe jaar periode. ‘n Logiese afleiding is dat die sluiting van die verbond die begin van die laaste week is.
- Die verbond word met baie gesluit, nie net met die Joodse nasie soos wat daar gereeld beweer word nie.
- Hy gaan in die helfde van die week, met ander woorde drie en ‘n halwe jaar in, die verbond verbreek.
- Die verbond behels onder andere die instelling van slag en spysoffers.
- Die verbreking van die verbond gaan die einde van die slag en spysoffers beteken.
- Bo-op al die gruwels, gaan hy ‘n verwoester oprig (on the wing of abominations will come one who makes desolate)
- Hierdie dinge gaan gebeur tot aan die einde
- Daar is dinge wat reeds vas besluit is, wat uitgestort gaan word.
Die tydlyn kry meer vleis
Vir die wat geskiedenis en datums geniet, hier is al die gebeure nou op die tydlyn ingevul.
Jaartal | Regering | Gebeure |
607 of 605 BC | Babilon | Jerusalem ingeneem
2 Kron 36:6-7 Dan 1:1-6 Daniël in ballingskap Bybelboek: Jeremia en Klaagliedere van Jeremia |
597-586 BC | Babilon | Rebellies teen Babilon deur die Jode
Jerusalem en die tempel word verwoes 2 Kron 36:17-21 Jer 52:28-30 Esegiël in ballingskap Bybelboek: Jeremia en Klaagliedere van Jeremia |
538 BC | Mede en Perse Darius (Mede) en Kores (Perse)
Dan 6:28 |
Daniël se gebed na 70 jaar van ballingskap in Dan 9:1
Kores vaardig ‘n bevel uit om die tempel te laat herbou en die eerste groep ballinge keer terug (Esra 1:1-10) Tempel word herbou (2 Kron 36:22-23) |
535 BC | Mede en Perse | Serubabel fondasie van die tempel begin |
522 BC | Mede en Perse | Bouwerk word gestop |
520 BC | Mede en Perse | Sagaria en Haggai
Bouwerk gaan voort |
516 BC | Mede en Perse | Die bou van die tempel onder Serrubabel en Esra se leierskap was voltooi (Esra 6:15)
Inwyding van die tempel |
478 BC | Mede en Perse | Bybelboek Ester |
458 BC | Mede en Perse
|
Toestemming om tempel aanbidding en offers te herstel (Esra 6) |
444 BC | Mede en Perse
Artasásta (Perse) |
Artasásta vaardig ‘n bevel uit om die mure en poorte van Jerusalem te herstel en nog ‘n groep ballinge keer terug (Neh 2:1-8) |
440 BC | Mede en Perse | Bybelboek Esra |
430 BC | Mede en Perse | Bybelboek Nehemia |
±400 BC | Mede en Perse | Bybelboek Maleagi |
330 BC | Grieke | Persiese ryk eindig onder Alexander die Grote
Laaste koning was Darius III |
164 BC | Grieke | Skoonmaak van die tempel na die gruwels gedoen deur Antiochus IV (Epiphanes), die koning van Sirië. |
146 BC | Romeine | Griekse ryk eindig onder Romeine (Battle of Corinth) |
63 BC | Romeine | Romeine val Jerusalem in |
70 AD | Romeine | Jerusalem en die tempel word verwoes deur generaal Titus |
33 AD | Romeine | Jesus word gekruisig |