Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
… want u liefde is kosteliker as wyn. (Hgl 1:2b)
Die rede waarom ons vra om deur Hom gesoen te word, is omdat ons tot die besef gekom het dat daar niks anders is wat ons kan bevredig nie. Slegs Hy!
‘n Makliker verstaanbare woord vir kosteliker is beter. Om die liefde van die Bruidegom eerstehands te kan beleef is beter as enige iets anders op hierdie aarde.
Wyn in Hooglied verwys na enige iets wat ons geniet en wat vir ons lekker is.
Wanneer ons begin om op die nou weg te stap, sal wyn verwys na dinge soos wêreldse plesiere en die grootsheid van die lewe. Dan sal ‘n tipiese vraag tot introspeksie wees: ‘is Jesus vir my beter as my alkohol of sigaret verslawings?’. Nog ‘n voorbeeld kan wees: ‘is om Jesus te mag ken vir my beter as my verkeerde vriendekringe?’
Dis maklik om hierdie tipe vrae te vra wanneer ons moet kies tussen om Jesus te mag ken en iets wat duidelik verkeerd of boos is. Maar soos wat ons verder stap raak dit dieper. Dan sluit die wyn in hierdie vers ook die goeie dinge in wat ons geniet. Net soos wat daar verskillende tipes wyn is, is daar verskillende soorte genietinge. Een bottel wyn se plakker lees dalk ‘n mooi huis, kar en klere, die volgende lees eie begeertes en ambisies en nog een kan lees heerlike ervarings. Dis maar net ‘n paar voorbeelde. Genietinge kan selfs dinge binne ons geestelike lewe verteenwoordig. Dan raak dit so bietjie moeiliker om te onderskei want ons sien baie keer hierdie goeie geestelike dinge as Jesus self. Dis vir ons moeilik om ‘n onderskeid te maak tussen die goeie geestelike dinge wat ek doen en om Jesus te mag ken. Dis ook moeilik om dinge wat geestelik lyk, te verwerp as ‘n vermenging wat tot misleiding lei.
Ek dink byvoorbeeld nou aan ‘n baie bekende Christelike musiekgroep in Kalifornia. Miskien hou jy baie van hulle musiek en kan nie insien dat die gees wat agter die musiek sit, ‘n vals gees is nie. Is om Jesus werklik te mag ken, beter as hierdie tipe genieting?
Baie mense maak ‘n afgod van hulle kerk denominasie of posisie in die kerk. Dis baie moeilik om dit self te besef, maar wanneer die Here ons dalk uit daardie kerk roep, dan bring Hy die geheime genietinge wat op die troon van ons hart sit aan die lig. Is om Jesus te mag ken, beter as om Hom in daardie kerk te dien?
Ons kan nie oor wyn praat en nie verwys na die soort wyn wat Babilon bied nie. Babilon in die Bybel, en spesifiek in Openbaring, verwys nie na ‘n spesifieke land nie. Dit verwys na die globale wêreldse sisteem, waarvan die kerk in ‘n groot mate ongelukkig ook deel van geword het.
Babilon sluit in: sekuriteit, sisteme, ‘n verskeidenheid produkte, duur kosse en klere, luukse vakansies en mooi bestemmings. Niks van hierdie dinge is opsigself verkeerd nie. Solank dit nie op die troon van ons hart gaan sit nie. Dit mag nie ons identiteit bepaal nie. Ons mag dit nie eers dit begeer nie.
Kan ons soos Paulus sê dat ons vergenoeg is ongeag wat ons besit of nie besit nie? Waar ons vakansie hou en óf ons ‘n lekker vakansie kan gaan hou. By watter winkel ons ons klere en kos koop. Watter belewenisse en ervarings ons het. En om ook tevrede te wees ongeag die afwesigheid van opwindende belewenisse. Ongeag of ons aan ‘n groot teater tipe kerk met ‘n professionele orkes behoort en of ons in eenvoud van huis tot huis aanbid. Babilon dryf die mens vir groter, beter, duurder en meer professioneel. Jesus se Koninkryk bestaan in eenvoud, maar in groot krag.
Babilon gaan tot ‘n einde kom. Mag ons nie ook soos haar handelaars wees wat ween oor die sisteem wat geval het en ween oor al die rykdom wat daarmee heen is nie. Ons, as volgelinge van Jesus, word uitgenooi om oor die val van Babilon te juig.
En hulle het stof op hul hoofde gegooi en onder geween en weeklag uitgeroep en gesê: Wee, wee die groot stad waarin almal wat skepe op die see het, deur haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes! Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het! (Open 18:19-20)
Dit waaroor ek tot nou toe gepraat het was konkrete dinge. Die Heilige Gees neem ons altyd dieper. Ons begin altyd by die uiterlike dinge, daarna ons gedagtes en emosies. Nog dieper raak dit ons begeertes. Die diepste vorm van introspeksie wat ek nog ooit teëgekom het, is die motiewe van ons hart. Elke keer wanneer die grafiek van groei in Hooglied weer ‘n draai na hierdie eerste vers maak, raak die soektog na wyn in ons lewe dieper en dieper. Dis ‘n wonderlike ding; dis deel van die proses om diep te assosieer met die kruis, met die dood van Christus. Dis hoe ons minder en minder raak en Hy al hoe meer.
So kom ons wees dapper en soek dieper vir wyn…
Wyn sluit ook ons verhoudings met ander mense in. Die vraag hier is of die soene van die Bruidegom soeter is as ons huwelik en ons kinders. Of sit ons geliefdes dalk op die troon van jou hart? Dis baie moeilike vrae om eerlik te antwoord en ons het soms nodig om onsself voor teoretiese keuses te stel sodat ons kan toets.
Nog ‘n soort wyn is die begeertes en ambisies in ons lewe. Ook die beeld van hoe ons wil hê dat ons lewe moet lyk. Ons het baie keer ‘n prentjie van hoe die perfekte lewe moet lyk. My man of vrou moet so lyk of so optree. Daar moet ‘n sekere getal kinders wees, soveel jare uitmekaar. Ons het tot ‘n prentjie van watter geslag die oudste en jonkste moet wees. Almal in die gesin moet sukselvol, slim en mooi wees. Dis maar net een voorbeeld van die prentjies wat ons het, lugkastele wat dalk ligjare verwyder is van die realiteit wat die volmaakte wil van die Vader vir ons lewens is.
Nog ‘n voorbeeld van begeertes en ambisies kan in ons beroep lê. Is Sy liefde ook beter as dit wat ons vir ‘n lewe doen?
Die toets vir alle soorte genietinge lê in ons reaksie wanneer hierdie dinge nie meer daar is nie. Gaan ons ongelukkig wees? Gaan ons lewe uitmekaar val en gaan ons ons identiteit verloor wanneer die wyn nie meer daar is nie.
Onlangs het die Here oor nog ‘n dieper vlak van wyn begin praat. Hy noem dit ons heilige koeie. Dit sluit alle goeie geestelike of kerkdinge in.
Net voor die fees van basuingeklank in 2022 het die Heilige Gees vir my ‘n beeld gegee van ‘n persoon op ‘n lughawe. Daar was ‘n groot asdrom voor die deur. Tipies soos dié dromme op lughawens waar jy koeldrankbottels en ander items wat nie saam op die vliegtuig mag gaan moet ingooi. Die deur het ‘n dieper vlak van intimiteit met die Here voorgestel. Op die drom was die woorde geskryf: “heilige koeie”. Dit is onmoontlik om by die deur in te gaan, met die heilige koeie onder ons arms vasgeklem. Hulle hoort in die drom anders gaan ons voor daardie deur bly staan. Ons kan vurig begeer na dieper en nader en dit gaan ons niks help nie.
So wat is die heilige koeie?
Ek gaan dalk nou op ‘n paar tone trap. Ek waarsku maar vooruit, dit gaan nog ‘n hele paar keer gebeur. Maar ek vra nie daarvoor onverskoning nie, want ons het die waarheid desperaat nodig. Aanvanklik sit dieper waarhede dalk ongemaklik. Later omhels ons dit en raak lief daarvoor. Dis alles deel van die proses om waarheid te koop (Spr 23:23). Alles wat gekoop word, kom teen ‘n prys.
Terug by die heilige koeie… Dis alle goeie dinge, kerkdinge en geestelike dinge wat ons geniet. Ek het reeds kortliks hieraan geraak. Hierdie kan sekere geestelike musiek of gunsteling musiekgroepe insluit. Nog voorbeelde is leringe van spesifieke persone wat ons kan luister of na kan kyk. Dit kan ons tradisies insluit, hoe ons geleer is om die Here goed te dien. Heilige koeie kan ook ons kerkverband insluit. Die Here roep jou dalk uit sodat jy dieper kan groei, maar daar word vasgeklou omdat dit die kerk is waarin ek grootgeword het. Of uit vrees vir wat familie en vriende sal sê. Dalk sê die kerk self dat wanneer jy uitgeroep word dat jy jou saligheid gaan verloor. Baie keer word die woorde: ‘die persoon het uitgeval of is uitgesif’ gebruik. Wanneer dít ons motivering is om te bly, neem vrees vir mense die plek op die troon van ons hart in.
Dink ook aan ‘n pragtig versierde binnekamer, gebedskamer, ‘warrior-room’, of watter naam jy ookal verkies. Hoe effektief kan ons bid sonder dit?
Nog voorbeelde sluit wonderlike dinge (en nie sulke wonderlike dinge) in soos om die shofar te blaas, die menorah aan te steek, om ons skoene uit te trek, kerse aan te steek, om ‘n Nagmaaltafel op ‘n sekere manier te dek, feeste op sekere maniere te vier, om mooi Hebreeuse woorde te gebruik en ook om sekere kledingstukke te moet dra. Daar is ongelooflik baie van hierdie heilige koeie. My man, Louis, het ‘n mooi woord vir die tipe goed: tierlantyntjies. Dis al die dinge waarmee ons ons geestelike lewe kom versier het, sodat dit mooi en interessant kan lyk en klink.
Ek dink ook nou aan tradisies soos dat Nagmaal net een maal ‘n maand gebruik mag word en net sekere persone dit mag bedien. Dieselfde geld vir die doop.
Nog ‘n seer een vir baie mense is die viering van heidense feeste. Gaan die vashou aan ‘n mooi versierde boom en ‘n oom in ‘n rooi pak dalk nie oor die heilige koeie van ‘n heerlike ervaring, lekker kinderjare herinneringe en vrees vir familie en vriende se opinies nie?
Aan die ander kant van die spektrum van die viering van heidense feeste, lê die viering van die Here se feeste. Dit kan ook ‘n heilige koei raak wanneer dit belangriker raak as Jesus Christus self. Daar is soveel voorskrifte oor presies hoe hierdie feeste gevier moet word, meestal Joodse tradisies wat nie in die Bybel gevind kan word nie.
Daar het soveel ‘dinge’ ingekom in die kerke en ook in interkerklike bewegings dat dit moeilik vir ons raak om die heilige koeie te identifiseer. Hulle lyk dan so goed en heilig!
Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde. Daar is nie opsigself iets verkeerd met die meeste van hierdie dinge nie. Om die shofar onder leiding van die Heilige Gees te blaas, het groot krag. Wanneer ons die Pasga vier op die manier hoe die Heilige Gees ons lei, is gehoorsamheid. Die sleutel lê in Shama – hoor wat Hy deur Sy Gees (nie mense nie) vir jou leer en doen net dit. Die oomblik wanneer daar reëls, voorskrifte en tradisies inkom, raak dit ‘n probleem en bind ons eerder as wat dit vryheid bring.
Goeie dinge mag nie ons identiteit bepaal nie. Sy liefde, met ander woorde om Hom regtig te mag ken, moet beter vir ons wees as enige van hierdie goeie dinge. Ongelukkig het baie van hierdie dinge afgodery geraak: ‘n koei wat aanbid word onder ‘n dun lagie heiligheid. Dit het belangriker as Jesus Christus self geraak. Dit het mense begin definieer.
Die toets
Ek stel myself baie keer ‘n klein tronkselletjie voor met ‘n sementvloer en ‘n hoë, klein venstertjie. Geen stoel, bed, boek of kamermaat nie. Net ons en die Here. Sou ons dalk in so omstandigheid beland, sal ons dit kan regkry om Hom steeds lief te hê en te dien. Geen musiek waarmee ons maklik in Sy teenwoordigheid kan kom nie. Geen shofar om te blaas tydens oorlogvoering nie. Geen Bybel om te lees nie. Wat bly dan oor? Slegs dit wat dan binne ons is, gaan moet deug. In hierdie tronksel-voorbeeld, val die tierlantyntjies weg en die rou realiteit van ons identeit in Jesus Christus kan nie agter mooi dinge wegkruip nie.
Wanneer die vuur van toetsing oor die wyn in ons lewe gaan en die hooi en stoppels verteer, gaan daar darem goud en silwer oorbly? (1 Kor 3:11-15)
Indien die Bruidegom by die deur staan en vra dat ons sekere van hierdie dinge in die drom gooi, sal ons dit regkry? Of gaan ons vasklou en verdedig?
Die sleutel na die res van die boek Hooglied
Die paleisdeur in Hooglied is oopgemaak vir die meisie. Sy kon dieper ingaan en al die heerlikheid en lieflikhede beleef omdat sy hierdie woorde kon sê: “sy liefde is beter as wyn”. Dis die sleutel wat oopsluit. Sonder dit gaan ons ongelukkig in die voortuin van gewoonte godsiens bly.
Moenie in self veroordeling gaan wanneer jy dalk wyn in jou lewe ontdek wat vir jou beter is as wat Jesus Homself vir jou is nie. Dis ‘n konstante proses van aflê. Ons moet net tree vir tree luister na die Heilige Gees en gehoorsaam wees deur daardie een ding af te lê wat Hy onder ons aandag bring.
Indien Hy vandag Sy Lig skyn op ‘n stokperdjie, sport, persoon, ‘n geloofsoortuiging of wat ookal, moenie die son laat sak voordat jy nie daarvan werk gemaak het en dit afgelê het nie.
Shama – luister en doen… terwyl ons in ‘n volmaakte sabbatsrus in Hom leef.
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.