Bergtopervarings

Terwyl ek hierdie vroeër in die week vir die Heilige Gees gevra het waaroor ons vandag moet praat, kom die woord: ‘Bergtopervarings’ dadelik by my op. Ek was nie heeltemal seker wat die Heilige Gees hierby bedoel het nie en ‘n opvolg woord het gevolg: Die Psalm wat begin met: “wie mag klim op die berg van die Here…”. Dis waar my oplees begin het. Uit ervaring weet ek nou al dat die Heilige Gees nie altyd dadelik die volle openbaring gee nie. Hy gee gewoonlik ‘n begin punt en wanneer ek begin oplees, inbid en die stukke bymekaar bring, dan kom Hy met dieper openbaring en die lering kom uit die gees uit, nie uit die vlees nie. Ek is so dankbaar daarvoor, want wanneer ons slegs vlees, kennis en doktrines het, is daar geen krag nie.

 

Die ideale godsdiens

Ek wil vir jou ‘n prentjie voorhou. ‘n Godsdiens wat dalk anders lyk as dit waaraan jy dalk gewoond is. Die meeste mense hoor leringe, luister na preke, lees hulle Bybel en probeer alles doen wat almal leer sodat hulle guns by die Here kan kry. Dis natuurlik onmoontlik as mens net na die hoeveelheid opinies en verskillende interpretasies van die Skrif kyk. Eintlik is dit baie uitputtend as ons eerlik moet wees.

Die prentjie wat ek wil skets is waar jy en die Here saam op ‘n berg bly.

Jy kry elke dag waarheid en lewe by Hom. Wanneer jy ‘n vraag het, dan vra jy Hom direk en Hy leer jou. Jy leef in Sy krag. Jy hardloop en word nie moeg nie want die plek waar jy bly is direk onder Sy kragbestralingsinvloed. Dis nooit vir jou nodig om enige iemand iets te vra nie, want daar is nie ‘n vraag wat Hy nie kan antwoord nie.

Jy het nie ‘n lys van reëls en moets en moenies nie. Omdat jy so nou in kontak met Hom is, weet jy vanself waarvan Hy hou en wat gevaarlik vir jou is.

Daar is ‘n spesiale salwing op die berg wat maak dat jy net dit wil doen waarvan Hy hou. Niks anders lyk eers vir jou lekker nie. Jy mis nooit uit nie. Jy voel nooit eensaam nie. Jy is vervuld, uitbundig gelukking en vol krag en moed.

Wanneer Hy vir jou ‘n opdrag gee is jy nie bang nie, want Hy het jou mos self geleer hoe om dit aan te pak. Jy weet watter opdragte is vir jou bedoel en watter bring die vyand oor jou pad. Jou gedagtes is vanself gevul met gedagtes oor Hom. Jy is passievol lief vir Hom en jy borrel oor daarvan.

As jy ‘n fout maak, wys Hy dit vir jou uit en tussen julle twee maak jy dit dadelik reg. Jy is nie gepla oor of iemand anders dink jy is reg of verkeerd nie, want jy vertrou jou God om jou reg te lei. Hy het immers belowe Hy sal en die heerlikheid op die berg maak dat jy nie eers anders kan of wil dink nie.

Jy kyk vanaf ‘n hoër perspektief; die top van die berg. Daarom kan jy die groter prentjie sien.

Partymaal vertel die Here vir jou diep geheime, dinge wat net tussen julle twee moet bly. Hy wys soms vir jou dieper waarhede of inligting oor die verlede, hede en toekoms. Jy mag dit van tyd tot tyd met ander mense deel; Hy sê jou wanneer, so daar is geen twyfel nie.

Soms stort Hy Sy Gees oor jou uit en vul jou met soveel blydskap dat dit voel of jy kan bars. Op die berg sing jy elke dag, soms saggies in jou hart en soms uit volle bors. Jy staan op die hoogste piek en skreeu die vreugde wat binne jou is uit.

Jy voel veilig op die berg. Jy voel nooit geoordeel nie. Jy is vry van mense se opinies, kritiek en foutvind. Jy is vry van lyste en lyste reëls. Jy is vry van doktrines, teologie en die harde godsdiensgees.

 

Dis moonlik!

Vul hierdie prentjie jou nie met ‘n verlange na so ‘n lewe nie? Ek wil jou moedmaak, dis nie net ‘n idealistiese droom nie. Hierdie is bedoel om ons elke dag realiteit te wees. Al wat ons moet doen is om op die berg te kom. Alles is reeds in plek. Dis net ons teenwoordigheid wat kortkom. Los tog net die Reëls en Opinies-boeke onder. Hulle is hopeloos te swaar om teen die berg op te dra en jy gaan moeg word.

 

Die beste voorbeeld

Moses is ‘n baie goeie voorbeeld van iemand wat ‘n leefwyse van ‘n bergtopervaring gehad het. Hy het ‘n fisiese belewenis op die berg gehad, maar sy leefwyse was ook een van permanente kontak.

Ek wil vir jou drie Skrifte voorhou. Al drie skets ‘n prentjie van die heerlikheid van die bergtop. Net soos wat Moses op die berg geklim het en die heerlikheid van die Here hom ingesluit het, het so nooi die Vader ons uit na ‘n leefwyse van ‘binne-die-wolk’. Die Here nooi jou uit net soos wat Hy vir Moses geroep het om op te klim.

Eks 24:15-18: Toe Moses die berg opklim, het ‘n wolk die berg oordek. En die heerlikheid van die HERE het op die berg Sinai gebly, en die wolk het dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die wolk. En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg. En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.

Die oudstes van Israel het ‘n fisiese maaltyd gehad in die teenwoordigheid van die Allerhoogste. Vul dit jou nie ook met ‘n diep verlange na hierdie tipe heerlikheid nie? Die rede vir daardie diep verlange is omdat Sy Gees dit in jou plaas. Dis hoe dit vanonderstel is om te wees en wanneer dit nie ons lewenswyse is nie, mis ons uit op die volheid wat vir ons bestem is.

Eks 24:9-11: Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink. 

Hierdie Skrif is vir my een van die mooistes in die Bybel. Die HERE HERE, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Skepper en die Heilige van Israel spreek mond tot mond tot ‘n mens. Dis moontlik vir ‘n mens om Sy verskyning te sien. Dis moontlik om Sy stem te hoor. Hierdie is die erfdeel van die knegte van die Here. Waarom dan is ons nie op die berg nie? Waarom is hierdie nie ons normale lewe nie? Dit, wanneer die Bloed van die Seun van God vir ons toegang tot die Allerheiligste betaal het?

Num 12:6: Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE.

‘n Leefwyse van bergtopervarings is niks anders nie as die skuilplek van die Allerhoogste nie – ‘the secret place of the Most High’. Baie mense het plakkers op hulle motors en slagspreuke teen hulle mure, maar bitter min vind die ‘secret place’ en nog minder maak hierdie plek hulle permanente blyplek.

Ps 91:1-2: Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. 

 

Die voordele van ‘n leefwyse van bergtopervarings:

  • Ons kyk na die lewe, na situasies en na mense vanaf God se perspektief.
  • Beter sig en sien die groter prentjie.
  • Ononderbroke kontak met die Here – eerstehands.
  • Jy kry direkte leiding en openbaring.
  • Die beloftes van veiligheid is joune.
  • Jy leef ‘n lewe van oorwinning tot oorwinning.
  • Vriendskap met die HERE.
  • Dieper openbarings en insig.
  • Lewe deur die Gees, nie vlees nie. Die Heilige Gees lei jou, nie mense nie.
  • ‘n Persoonlike, liefdevolle verhouding, nie ‘n lys van reëls en regulasies nie.
  • Ware vryheid en vry van oordeel.

 

Wat hou ons van die berg af?

Ek glo elkeen van ons hunker diep na hierdie leefwyse. So waarom leef ons nie so nie? Waarom is hierdie net ‘n droom en voel dit soos onmoontlik wanneer ons na die realiteit om ons kyk?

Die antwoord lê in drie Psalms: Psalm 15, Psalm 24 en Psalm 91. Ek het reeds ‘n lering gegee oor die voorwaardes in Psalm 91 en gaan daardie inhoud nie weer hier dek nie. Kom ons bestudeer die ander twee Psalms vandag. In beide Psalms kry ons die vraag wat ook in ons harte is: “wie mag klim op die berg van die Here?” In ander woorde: “hoe kom ek daar?”

Psalm 15:

HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? 

Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie; in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie; wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie. 

Ons kan Dawid se hart in hierdie vraag sien: “Here, hoe kom ek daar? Dis die tipe lewe wat ek wil lei.” Die Heilige Gees het hom geantwoord en gewys wat is die dinge wat maak dat ons die berg kan klim en wat is die dinge wat ons aan die voet van die berg hou. Ek wil graag bietjie dieper na elke sleutelwoord en voorwaarde kyk.

Opreg wandel:

Integriteit, karakter, onskuldig, heelhartig, eerlik met self, met die Here en met mense, geen agendas nie, skep nie politiek nie, kom nie met draaie nie, in lyn met waarheid en feite

Geregtigheid doen:

Regverdig, doen wat reg is, tree eties op.

Hart spreek die waarheid:

Gedagtes is ook waarheid, lief vir die Here se waarheid, dink nie leuens in jou gedagtes nie, lieg nie, ook nie halwe waarhede nie.

Nie laster nie:

Beskrywende woorde: stories aandra, skinder, gee vir iemand ‘n slegte naam, swartsmeer, agteraf, rugsteek, verkleineer, luister na skinderstories.

Ek besef al hoe meer hoe ernstig die Skrif praat teen skinder. Ons dink dis sommer so ‘n klein dingetjie. Dit is nie, dis baie ernstig. Kom ons neem standpunt in en sê: “ek verander die onderwerp, ek wil nie oor so en so praat nie”. Die Heilige Gees werk baie streng met my op hierdie punt hierdie afgelope paar weke. Ons is so vinnig om die foon op te tel en stoom af te blaas by ‘n vriend of vriendin. Elke keer as ek die foon wil optel, vra die Heilige Gees my wat ek nou wil bereik. Wil ek myself laat beter lyk of voel? Wil ek die ander persoon diskrediteer? Wil ek hoor ek is reg? Wat wil ek bereik? Hoekom bespreek ek dit nie met my Vader nie? Is dit nodig om nog ‘n persoon by die situasie te betrek?

Kom ons vra onsself voor elke gesprek: Dit wat ek nou wil sê: is dit die waarheid? Het ek seker gemaak dis die waarheid, het ek die feite gaan uitvind? As dit die waarheid is, wat gaan ek bereik deur dit oor te vertel? Gaan dit waarde toevoeg in my lewe? Gaan dit waarde toevoeg in die aanhoorder se lewe? Wat van die persoon oor wie ek gaan praat, gaan dit hom of haar swartsmeer? As ek nie eerlik hierdie vrae kan beantwoord nie, moet liewers niks sê nie.

Vriende nie kwaad aandoen nie:

Veroorsaak fisiese of emosionele seer, maak ongelukkig, veroorsaak ongeluk of verlies. Laat ons nie die oorsaak wees dat ‘n mede-reisgenoot op die pad skade lei nie, hetsy fisies, finansieël of emosioneel.

Wie is hierdie vriende?   ‘n Naby of ver geassosieerde, ‘n broer, ‘n vriend, ‘n buurman, ‘n reisgenoot, naaste.

Geen smaadrede teen naaste nie:

Engels: reproach. “Giving him a piece of my mind”, ‘n lelike manier om fout te vind / te raas / uit te trap. Dit bring vernedering vir die persoon. Kritiseer, foutvind, sensuur, druk jou afsku/nie-goedkeuring op ‘n harde manier uit. Veroorsaak skade deur woorde (sogenaamde. reghelp)

Verworpene sien as veragtelik:

Die Engelse vertaling stel dit duidelik: “despise the utterly wicked”.

Eer die wat die Here vrees:

Beskrywende woorde: respekteer, bewonder, kyk op na, dink hoog van, waardeer.

Wie is die wat die Here vrees? Die Amplified Bybel stel dit so: to obediently worship Him with awe-inspired reverence and submissive wonder.

Die volgende vraag wat opkom is: “Herken ons die wat die Here vrees?” Die Skrif leer ons om na die vrug in iemand se lewe te kyk. Vrug is nie hoe goed iemand die Bybel ken of hoeveel teksverse hulle kan opsê nie. Vrug is die vrug van die Gees wat die uitvloeisel is van die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Wanneer die Vrug van die Gees teenwoordig is, beteken dit dat daardie persoon die Here eer want Sy Gees werk in daardie persoon se lewe. Dis die mense wat ons moet eer en respekteer.

Bly by woord al is dit tot sy skade:

Hou by wat jy belowe het al lei dit tot jou eie verlies. Moenie teruggaan op jou woord nie. As jy te min gekwoteer het, laat jou ja ja wees en bly daarby. As jy belowe het om ‘n Saterdag iemand te gaan help met iets, moenie uitdraai soek nie. Bly by jou woord al is dit tot jou skade.

Geld gaan nie woeker toe nie.

Hierdie een is baie eenvoudig om te verduidelik. Die Engelse woord vir woeker beskryf rente. Dis nie in die Here se orde om uit te leen en rente op die bedrag te plaas nie.

Neem nie omkoopgeskenke aan nie teen die onskuldige nie:

Hierdie punt spreek vanself – jy laat jou nie omkoop vir enige voordeel vir jouself nie.

Psalm 24:

Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil. 

Hierdie Psalm lys minder voorwaardes, maar dit kom op basies dieselfde neer. Kom ons beloer hulle ook gou van naby?

Rein van hande:

Onskuldig, vry van skuld, vry van straf, vry van dwang, vrygespreek, skoon, kan nie geblameer word nie, geen verpligting, niks en niemand wat ‘n kleim teen jou kan indien nie.

Jy het reeds elke oortreding bely en die Bloed van die Lam het jou skoongewas. Jou saak is reg met die Here en wanneer ‘n mens of die vyand ‘n vinger wil wys, kan jy met vrymoedigheid verklaar: “ek is vry van straf”. Hoe bevrydend is dit nie!

Suiwer van hart.

Skoon, leeg, rein, opreg, die afwesigheid van vuilheid. Jy het reeds met alles gedeel waarvan jy weet. As daar iets opkom, sorteer jy dit dadelik met die Here uit en jou hart bly silwerskoon.

Siel nie ophef tot nietigheid nie:

Jaag nie nietigheid (vanity) na nie, lewe nie rondom dit nie, begeer dit nie, hou nie van dit wat vals is nie, het nie afgode in die hart nie, begeer nie dinge wat nutteloos of vals is nie, praat nie ydel nie (sluit leuens in), kies/begeer leë dinge.

Nie vals sweer nie:

Maak vals beloftes, leuens, bedrog, mislei nie met woorde nie. Die teenoorgestelde is waarheid en eerlikheid.

 

Horisontaal beïnvloed vertikaal

Kan jy sien dat elke punt wat ons van die berg afhou, ‘n horisontale verhouding is? Die manier hoe ons met mense omgaan, het ‘n direkte invloed of ons op die berg gaan kan klim en of ons onder gaan bly.

Elkeen van hierdie punte is soos boeie wat jou vashou sodat jy nie die trappe kan opklim teen die berg op nie. As jy ‘n leefwyse het van skinder en stories aandra, sal jy nie kan hoër klim nie. Jy gaan opkyk en begeer om ‘n intieme verhouding met die Here te hê – ‘n leefwyse van op die berg, maar dit gaan nie moontlik wees nie. Baie mense wonder hoekom hulle nie die Here op so ‘n dieper wyse kan ken nie en gaan soek die oorsake op allerhande plekke, maar besef nie dat hulle menseverhoudinge eintlik die blokkasie is nie.

Ons is so geneig om ons verhouding met die Here as een ding te sien en ons verhouding met mense as iets anders. Deur hierdie twee Psalms kan ons duidelik sien dat dit inmekaar verweef is. Ons kan nie die een sonder die ander hê nie.

 

Aan die voet van die berg

Moses het teen die berg opgegaan. Daar het hy eerstehandse kennis en ervaring van die God gehad. Hy was vry van skuld en het in bonatuurlike voorsiening geleef. Die glorie-wolk het hom ingesluit en hy was in die skuilplek van die Allerhoogste.

Die volk, aan die ander kant onder agtergebly het. Op grondvlak heers die kritiese gees. Daar vind jy foutvind, kritiek, hardheid, wettiesheid, tweedehandse kennis van die Here en jaloesie op die wat op die berg woon.

Bo-op die berg is lewe deur die Gees. Aan die voet van die berg is vlees.

 

Boeie wat jou terug hou

Baie keer probeer mense opmaak vir die feit dat hulle nie op die berg kan kom nie deur preke, leringe, kampe, konferensies, lyste en lyste van moets en moenies. Dis waardevol om lering te mag ontvang, maar daar moet ‘n tyd kom dat ons vanuit tweedehandse kennis inbeweeg waar die Heilige Gees ons self leer.

Dis soveel meer blywend en waardevol wanneer die Heilge Gees ons oortuig het van iets wat nie vir Hom aangenaam is nie as wanneer iemand jou met ‘n boek of lering oor die kop geslaan het.

Ek weet nie of kan jy die ou ensiklopidieë onthou wat in sulke groot taste gekom het nie. Ek praat nou van die jare 80’s en 90’s. Daar was gewoonlik ‘n verskoopsman wat dit by jou huis kom smous het. Al die volumes het ‘n hele kas vol gestaan. Hulle was swaar en baie. Daar is so baie mense wat net so baie van hierdie volumes en volumes geestelike kennis en leringe bymekaar gemaak het. Die oomblik wat iemand iets doen wat teenstrydig is met wat in volume nommer so en so staan, word die boek oopgemaak en die persoon word oor die kop geslaan of oor die vingers getik.

Die realiteit is: ons kan nie met jou hele volume-stel teen die berg opklim nie. Dis te swaar en dit hou jou terug. Wanneer ons net die volumes het omdat ons nie ‘n ander manier het om teen die berg op te klim nie, is dit vlees. Paulus skryf nie verniet dat die kennis opgeblase maak nie.

Meet jou optrede en hoe jy met kennis omgaan teen die voorwaardes in Psalm 15 en Psalm 24. Ons het nodig om baie meer sagmoediger te raak. Dit was immers een van Moses se beste eienskappe.

 

Begin eerstehands leef

Ek wil jou regtig aanmoedig om vir ‘n maand of drie te vas van alle tweedehandse kennis. Stop met elke oggend en aand se whattsapp prekies en boodskappe. Stop met elke profetiese woord. Moenie na so baie leringe luister nie. Moenie elke pos op sosiale media lees nie. Raak stil. Gaan sit op jou eie, sonder jou foon, net jou Bybel, ‘n notaboek en pen en bid. Hou aan bid totdat die Gees deurbreek deur die vlees en kry eerstehandse kennis en openbaring. Doen dit elke dag en dissiplineer jouself om direk te hoor. Bring dan dit wat die Heilige Gees vir jou persoonlik gegee het na die gesamentlike byeenkoms en kom stig almal.

Johannes skryf: En julle het die salwing van die Heilige en weet alles (1 Joh 2:20) 

Dit sluit aan by wat die Here deur die profeet Jeremia gespreek het in Jer 31:33-34

Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE

Om slegs na ‘n oggend-boodskap te luister en dit as alleen-tyd met die Here te sien, gaan nie werk nie. Dis wat ek noem ‘n Moses-op-die-berg verhouding. Moses is saam met die Here op die berg (waar jy eintlik moet wees) en hy kom vertel vir jou wat die Here gesê het. Die Here wil elkeen van ons direk leer deur Sy Gees wat in jou woon.

Tweedehandse inligting is volop. Dit raak ‘n kruk vir die wat aan die voet van die berg bly en nie kan op nie. Dit hou jou aan die beweeg. Die probleem is, jy beweeg al om die berg en nooit boontoe nie. Krukke kan verslawend raak. Naderhand wil so iemand nie meer sonder die kruk oor die weg kom nie. Met geestelike kennis kan dieselfde raak – ons raak verslaaf aan die interessantheid en die feit dat dit ons gedagtes besig hou.

Verstaan my asseblief mooi: ek minag nie leringe en woorde van waarheid wat gedeel word nie. Ek het groot respek vir iemand wat vrug dra se eerstehandse openbaring. Maar dit mag nooit jou eerstehandse openbaring vervang nie. Dis waarmee ek ‘n probleem het.

‘n Leefwyse van bergtopervarings is vir ons almal bedoel, nie net vir ‘n sekere groepie mense nie.

 

‘n Plaasvervanger

Terwyl ek hierdie woord oordink en oorbid het hierdie week, word ek een nag wakker met ‘n beeld van die goue kalf terwyl Moses saam met die Here op die berg is.

Dis hard om te sê, maar wanneer ons nie in ‘n eerstehandse, persoonlike verhouding met die Here bo-op die berg leef nie, is ons op die grond. Dis logies. Dis op grondvlak waar die kalf gemaak was. Baie keer ken ons nie die Here nie en skep ons ‘n prentjie van hoe ons dink die Here is. Ons maak ‘n goue kalf en buig voor hom en dink dis die Here. Dis ‘n plaasvervanger vir ons gebrek aan persoonlike verhouding. Omdat ons nie op die berg kan kom nie (die voorwaardes van Ps 15 en 24), raak ons hard en krities en gebruik ons volumes kennis om onsself te regverdig.

Ek wil vandag vir jou sê, om perfek te leef volgens jou reëlboek van moets en moenies sal nooit ‘n lewe gelei deur die Gees van God kan vervang nie.

Ons lees hoe Aaron en Miriam vir Moses gekritiseer het in Num 12:2. Moses was opreg met die Here, sy hande was skoon en sy hart was suiwer. Hy was vry, maar hulle het hulle eie reëlboek van opinies uitgeruk en oneer aan Moses gebring. Vergelyk hulle optrede met dit wat ons nou in Psalm 15 gelees het. Gaan lees hoe die Here hulle geantwoord en met die situasie gedeel het. Wanneer ons ‘n begtopervaring-leefwyse het, is ons waarlik vry. Om teen die berg te kan opklim, moet ons van die boeie ontslae raak, anders is dit bloot onmoontlik om te klim. Mag die Here ons genade gee om ons lewens te deursoek vir die dinge wat ons terughou sodat ons nie in die volheid kan ingaan nie.

 

‘n Uitnodiging vir ons elkeen

Die Here nooi ons elkeen uit om op te klim na Hom toe. Nie net vir ‘n vinnige besoek nie, maar om daar te vertoef. Hy nooi my en jou uit na ‘n leefwyse van bergtopervarings. ‘n Eerstandse verhouding met Hom in ‘n plek van vryheid, waarheid en lewe.

Toe sê die HERE vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar (Eks 24:12)

 

Die keuse is ons sin

Eerste moet ons eerlik antwoord:

  • WIL ons deur die Gees gelei word of deur doktrines, opinies, leringe en tweedehandse woord?
  • Is ons tevrede met ‘n ‘Moses op die berg’verhouding?
  • Wil ons rus van werke kry?
  • Het ons die Here lief? Of is ons net bang ons gaan hel toe?

As jou hart uitroep “ja!”,

  • DAN bekeer jou van dit wat jou op grondvlak hou?
  • En begin klim.
  • Los tweedehands. Sit die tyd in en hoor eerstehands.
  • Maak bergtopervarings jou leefwyse.

 

Dis onmoontlik vir vlees, slegs deur die Gees van die Lewende God, maar dis krities belangrik dat ons deur die Gees lewe en gelei word.

 

Ek sluit af met Psalm 61:3-6

Van die einde van die aarde af roep ek U aan as my hart beswyk; lei my op ‘n rots wat vir my te hoog is.

Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand.

Ek wil in u tent vertoef vir ewig, in die skuilplek van u vleuels my verberg. Sela.

Want U, o God, het my geloftes gehoor; U het die besitting gegee van die wat u Naam vrees.

 

Met liefde

Yolandie Mostert

css.php