Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
‘n Teaterstuk
Salomo het Hooglied as ‘n teaterstuk geskryf. Hou dit in gedagte wanneer jy deur die boek werk. Stel jouself die verhoog, die karakters, die agtergrondmusiek en die dekor voor. Daar is vier verskillende afdelings in die boek en tussen elke afdeling sak die gordyn.
Wanneer jy hierdie vers raaklees, weet jy dat die gordyn nou sak:
Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
Progressiewe siklusse
Net soos daar ‘n storielyn in ‘n gewone teaterstuk is, is daar ook in die boek Hooglied. Die storie begin by ‘n smagting na meer en eindig by diep vervulling. Aanvanklik het ek gedink dat die progressie ‘n lineêre lyn van links onder na regs bo sal vorm. Soos ‘n grafiek wat stelselmatig, maar konstant groei.
Vandag weet ek dis nie hoe dit werk nie. Daar is progressie, maar ons sirkel altyd terug na sekere afdelings en mylpale. Ons sal groei tot op ‘n punt en dan herhaal die toets van gehoorsaamheid homself weer. Of net wanneer jy dink dat jy nou dinge verstaan, dan verlang jy weer na dieper kusse en voel dit asof jy nog niks weet nie. Die beste manier hoe ek dit grafies kan uitbeeld is soos ‘n ‘spring’ wat uitgerek word van links onder na regs bo. Dit algemene rigting dui groei aan, maar daar is sirkelbewegings binne die lyn van groei.
Vlakke
Elke vers in die Bybel het soveel lae van betekenis en diepte. Dis presies dieselfde met Hooglied. Daar is byvoorbeeld wonderlike huwelikskursusse wat op Hooglied gebasseer is. Dit is goed en reg. Dis een van die vlakke. ‘n Tweede vlak is die verhouding tussen God en die werklike Israel. ‘n Derde vlak is tussen Jesus en die ekklesia (die kerk). Al drie hierdie vlakke is geldig. Maar hierdie boek konsentreer op ‘n vierde vlak – Jesus en Sy eindtyd bruid.
Wanneer ek in die boek verwys na die meisie, kan jy jouself binne daardie karakter plaas. Elkeen wat in ‘n diep innige verhouding met YHVH Elohim (Vader, Seun en Heilige Gees) wandel word deur hierdie meisie verteenwoordig.
Hooglied is vir mans en vrouens
Iets wat ons baie duidelik kon sien hierdie afgelope vier jaar, is die skrikkerigheid wat mans vir Hooglied het. Ek is nie seker of die konsep van bruidwees vir party mans net een te veel is en of dit te doen het met die vroulikheid in die simboliek nie. Dis ‘n jammerte want mans het ook die verryking wat Hooglied bied nodig in hulle groei na geestelike volwassenheid.
Daar is nie meer man of vrou nie, maar ons is almal een in Christus (Gal 3:28).
Beide geslagte, mans en vrouens, moet opgroei tot die mate van die volle grootte van Christus, tot ‘n volwasse man (Ef 4:13). Dit beteken dat ons moet opgroei vanaf ‘n geestelike baba tot ‘n geestelike volwassene. Hierdie groeiproses gaan aanhou totdat ons volwassenheid dieselfde is as die van Jesus.
Op dieselfde manier word beide geslagte ingesluit in die bruid. Die Vader gebruik ‘n liefdesverhouding tussen twee verloofdes om die verhouding tussen Jesus en sy bruid vir ons op ‘n verstaanbare manier uit te beeld.
Ons almal moet opgroei tot ‘n volwasse man en ons almal moet groei tot ‘n geestelike volwasse bruid van Christus. Beide lei tot dieselfde resultaat; dis maar net twee verskillende vergelykings.
Die bruilof
Wanneer die Here vir ons geestelike begrippe verduidelik, gebruik Hy altyd iets waarmee ons kan assosieer. Om hierdie rede het Jesus gelykenisse vertel.
Een van die dinge waarmee Hy die koninkryk van die hemele mee vergelyk is dat dit soos ‘n bruilof is. Ons lees daarvan in Mattheus 22. ‘n Koning reël ‘n bruilof vir sy seun. Ons Hemelse Vader reël ‘n bruilof vir Sy Seun Jesus Christus. Hy neem ‘n bruid uit mense. Daar gaan ook gaste by hierdie bruilof wees. Die hele mensedom word uitgenooi. Die genooides was vol verskonings en daarna was andere toe ook uitgenooi. Niemand sal eendag kan sê dat hulle nie ‘n uitnodiging na die bruilof ontvang het nie. Ons lees ook verder dat die gaste wat die bruilof gaan bywoon darem die regte feesklere moet aantrek. Dit beteken dat die gaste wat die bruilof bywoon ook geklee moet wees in geregtigheid. Dis nie sommer maar net enige een nie.
Wie is die bruid?
Daar is twee groot leuens wat in baie kerke verkondig word. Die eerste is dat elke persoon wat in ‘n Christelike huis gebore was en geleer is dat Jesus die Verlosser van die wêreld is, gered is. Die tweede is dat elke persoon wat iewers in hulle lewe ‘n gebedjie opgesê het en Jesus ingenooi het, gered is en deel van die bruid uitmaak. Beide is leuens uit die hel uit. Dit sus mense in ‘n geestelike slaap waaruit min wakker word.
Ons vind die enigste maatstaf wat ons kan gebruik in 1 Johannes 2 vers 3 tot 6. As ons wil weet of ons in Christus is, moet ons na ons lewens kyk.
Daar is twee vereistes. Eerstens: bewaar ons Sy gebooie en Sy woorde? Tweedens moet ons seker maak dat die liefde binne ons besig is om tot volmaaktheid te groei. Wanneer ons dus sê dat ons in Hom is, behoort ons lewenswyse Sy lewenswyse te reflekteer in alles wat ons doen.
Nie almal wat sê ‘Here, Here’ gaan gered word nie. Jesus leer dit vir ons in Mattheus 7:21-22. Slegs die wat Sy wil doen. Ons kan in hierdie lewe duiwels uit mense dryf in Sy Naam en outoriteit en dit kan niks vir ons beteken as ons nie in Hom bly in gehoorsaamheid en liefde nie.
Daar gaan gaste by die bruilof van die Lam wees en dan gaan daar die bruid wees. Die bruid is diegene wat in ‘n diep intieme liefdesverhouding met die Bruidegom wandel. Sy leef ‘n Shama-leefwyse. Dit beteken om eerstehands na Hom te luister en in gehoorsaamheid daarop te reageer. Dis ‘n dag tot dag wandel van luister en doen.
Die bruid word in Openbaring verwys as die vrou van die Lam, as die een wat haarself gereed maak (Open 19:7). Dis ‘n aktiewe proses en dit gaan nie vir ons gedoen word nie. Ons elkeen het ‘n verantwoordelikheid om in liefde, gehoosaamheid en aanbidding te reageer op die duur prys wat Jesus Christus, die Bruidegom, betaal het.
Wat moet ons reaksie wees? Ons vind een van die antwoorde in Romeine 12:1-2. In die vorige elf hoofstukke verduidelik Paulus die hele raadsplan van redding en in hoofstuk 12 gebruik hy die woorde dan. Met ander woorde: as gevolg van alles wat hy tot dusver gesê het, is dit net redelik dat ons die volgende moet doen:
dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
- Ons moet onsself gewillig op die altaar neerlê – ‘n lewende offer van aanbidding.
- Ons moet ‘n heilige offer wees, met ander woorde ‘n aktiewe lewenswyse van heiligmaking leef.
- Ons kan nie bekostig om asoos die wêreld te dink, lyk of te leef nie.
- Ons moet ons gedagtepatrone verander en onderwerp aan die beginsels van die Koninkryk sodat ons kan verander.
- As hierdie bogenoemde dinge ons leefwyse is, sal ons instaat wees om die wil van God te ken, wat ook nodig vir ons is, sodat ons in lyn met Sy wil kan leef in gehoorsaamheid en aanbidding.
‘n Liefdesbrief in kodetaal
Toe ek op skool was, het ek ‘n kêrel gehad, ‘n kys. Ons het die oulikste liefdesbriefies vir mekaar geskryf. Baie van hulle was geskryf in ons geheime kodetaal. Sekere syfers het letters verteenwoordig. Wanneer ons byvoorbeeld 1-4-3 geskryf het, het dit I-LOVE-YOU beteken.
Hooglied werk presies dieselfde. Die Bruidegom het deur die Heilige Gees vir Salomo geinspireer om ‘n liefdesbrief vir Sy bruid te skryf. Dis in kodetaal geskryf sodat net hulle twee dit kan verstaan. Al wat ons nodig het, is om die kodes te verstaan. Wanneer ons die sleutels in ons hand het om die simboliek te kan oopsluit, kan ons die brief lees en verstaan.
Dieper lae
Ons Bruidegom se liefdesbrief aan Sy bruid bevat soveel lae van diepte dat ek nie dink ons sal dit ooit in sy volheid kan verstaan nie. My hart is om die basiese sleutels in jou hand te plaas sodat jy self die simboliek kan oopsluit. Wanneer jy eers die basiese simboliek onder die knie het, sal die Heilige Gees self die dieper dieptes stuk-stuk aan jou openbaar.
Die verskil tussen my twee boeke
In die eerste Hooglied boek het ek gepoog om die basiese sleutels te verduidelik sodat die boek in sy geheel verstaanbaar kan wees. Intussen het ek nuwe waarhede ontdek en het die Heilige Gees dieper skatte openbaar. Omdat sommige mense dalk nie die twee boeke in volgorde gaan lees nie, gaan ek weer elke versie se basiese simboliek verduidelik. Dan gaan ek dieper gaan en die nuwe woord rakende die vers deel.
Indien ek ‘Diep skatte in Hooglied’ in een boek sou bind, sou dit ‘n baie dik boek gewees het wat ook baie lank sou neem om te voltooi. Daarom het ek besluit om die boek in korter volumes op te deel. Dit maak dit dan moontlik om die eerste volumes te deel terwyl ek steeds werk aan die res van die boek. ‘Diep skatte in Hooglied’ is beskikbaar in gedrukte vorm asook in korter audio en geskrewe boodskappe vir gratis lees, luister en aflaai. Ons webblad inligting kan op die eerste bladsy in hierdie boek gevind word.
Die karakters
In elke toneelstuk is daar hoofkaraktes en bykarakters. Dit werk presies dieselfde in Hooglied.
Die twee hoofkarakters is die Bruidegom en die bruid. Sy word onder andere genoem Sy vriendin, Sy skone en die mooiste onder die vroue. Soos wat sy dieper in Hom groei, noem Hy haar later Sy bruid en Sy sustersbruid.
Daar is ook bykarakters: die dogters en die wagte.
Die dogters is diegene wat in die kerk is, maar nog nie die dieper pad van intieme vriendskap begin stap het nie. Hulle is nie net naam-Christene nie, maar leef ook nie ‘n Shama-leefwyse in Hom nie. Hulle is die gaste by die bruilof. Ons sien die onderskeid tussen haar en die dogters in hoofstuk 6 vers 9
Een, dié is my duif, my volmaakte, die enigste vir haar moeder; sy is die uitverkorene vir die een wat haar gebaar het. Die dogters het haar gesien en haar gelukkig geprys, die koninginne en die byvroue, en haar geroem.
Die wagte is diegene in geestelike leierskap posisies wat moet waak oor die siele van die wat onder hulle geplaas is.
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.